Want die pad roep sy naam

  • 3

Party mense se plek in die wêreld is vanselfsprekend, alles gebeur net soos dit moet gebeur. Ander mense is nomade wat sonder einde soek na die plek waar hulle eintlik hoort. Op een of ander manier vind almal dit tog. Die balans tussen wie hulle wil wees en wie hulle moet wees. Maar tot dan moet ons eenvoudig tevrede wees met wie ons is.

Sadrag Charlie Adriaan Alfonso Jansen van Rensbu kon nooit wortel skiet nie. (As jy wonder oor die Sadrag se van, dit is nie ’n spelfout nie. Daar was nie genoeg blokkies op die geboortesertifikaat vir ‘Jansen van Rensburg’ nie, en dis hoe hy toe nou maar opgeteken is.)

Sadrag se ma, Aura, het een goeie dag haar tas gepak en agter ’n wilde vrou met geen grimering, gemaklike skoene en ’n oopknoophemp Jo’burg toe getrek. Sadrag se pa het vir hom vertel dat sy ma nou ’n Libanees is. (Sadrag het eintlik verkeerd gehoor. Mense het net te sleg gevoel om hom reg te help as Sadrag vir mense vertel sy ma is nou ’n Libanees).  

Sadrag se pa was ’n nar. ’n Regte, egte witgesig, rooi geverfde glimlag, hanswors. Gawie, die Giggelende Nar. (Ek weet. Dis ’n aaklige naam. As skrywer gril ek tot in my tone vir dié naam, maar dit was sy naam). Hy was hoofnar by Meneer van Plets se Dingetjies en Goetertjies sirkus, om presies te wees. Vir meeste 10-jariges moet dit sekerlik die beste beroep wees wat ’n pa moontlik kan hê, maar vir Sadrag was dit ’n kruis. Sy pa was op goeie dae skuins beduiweld, en op slegte dae het Sadrag die mielielande ingevlug as hy nie ’n gebreekte rib of vyf wou hê nie. Sadrag het dus vroeg in sy lewe ’n vrees vir enige iemand wat glimlag, ontwikkel – opgeverf of nie. Dit was dus ook geen verrassing dat Sadrag elke keer gekoes het as iemand vir hom geglimlag het. Saans het Sadrag op sy knieë gegaan en na Bo gevra dat sy pa moet ophou kwaad wees vir die Libanese of ten minste ophou om die woede op hóm uit te haal. Na Bo het uiteindelik geluister, en op ’n windlose dag het daar ’n tornado by Randfontein se skougronde opgekom en die hele Meneer van Plets se Dingetjies en Goetertjies sirkus weggewaai – tent en al. (Ellisras se plaaslike koerant, Die Bosveld en dinge, het ’n week later berig dat daar ’n olifant met ’n pienk strik, sommer so uit die blou lug, op die bottelstoor geval het. Dominee Koekemoer het net gesê hy het die gemeente al lánkal gewaarsku).

So was Sadrag Jansen van Rensbu skielik alleen in die wêreld. Niemand het geweet hoe om die Libanees te kontak nie, so na ’n kerkraadsvergadering, ’n skoolraadsvergadering, ’n vrouevereniging-vergadering en ’n paar geselsies oor ’n vars leksel mampoer by Oom Giel, besluit die kontrei se mense dat Ta’ Truia na Sadrag sou kyk. Ta’ Truia was diensmaagd vir Koningin Victoria toe Haar Hoogheid destyds in Suid-Afrika was, so sy was gekultiveerd in al wat etiek en maniere was. (Dis juis Ta’ Truia wat mos alles vir Ta’ Emsie Schoeman geleer het). Ta’ Truia het die titel “diensmaagd” baie letterlik opgeneem en nooit kinders van haar eie gehad nie. Sy het Sadrag gekneus, gebrei en gevou totdat elke tiener-geit uit hom was, en hy die perfekte heer was.

Maar Sadrag was onrustig. Daar was ’n konstante roepstem in sy hart, en Sadrag kon nie anders as om die stem te volg nie. Hy het die dag na hy klaar matriek geskryf het, grasieus voor Ta’ Truia gebuig, haar hand gesoen en op die trein geklim. En sommer by die volgende stasie afgeklim. Van daar het hy die een werk na die ander probeer, maar kon doodeenvoudig nie rede kry om te bly nie. Hy was ’n rolbos, nie ’n boom wat op een plek moes bly staan nie. Sadrag se voete het die pad bly soek. Hiér het hy seëls gelek of beeste opgepas, ’n week later het hy weer appels gepluk en dae later weer druiwe getrap. Daar was selfs ’n kortstondige loopbaan as skaapteller, maar Sadrag kon onverklaarbaar (of dalk verklaarbaar) nie wakker bly terwyl hy probeer tel het hoeveel skape daar op die karooplaas ronddwaal nie.

Dae het weke geword, weke het gebloei in maande en die jare het die maande opgeëet. Sadrag se voete het die stofpaaie van Suid-Afrika leer ken, soos goeie vriende mekaar ken; elke keer gegroet na jare se afwesigheid asof hulle mekaar gister laas gesien het. Elke dorpie met ’n naam waarvan die oorsprong vergete is in die jeug se gedagtes. Elke mens met ’n storie, ’n kruis, ’n blydskap en ’n traan. Alles Sadrag se lewe en menswees.

Vir meeste mense was dit net nog ’n dag. Sadrag se voete het hom gebring tot voor ’n vaal huis in ’n vaal dorp met vaal strate. Die huisie was bouvallig, verwaarloos en vergete. Vergete, tog, iewers was daar ’n eggo in Sadrag se geheue. ’n Eggo van kindwees en ’n oomblik van geluk. Sadrag het met die voetpaadjie gestap deur die onversorgde tuin tot by die stoep. ’n Gryskopvrou op die trappies sit en staar na hom soos wat hy aangestap kom, sy kop vol flikkeringe van heuglikheid. Haar bos hare het Sadrag herinner aan die prentjies van hekse in kindersprokiesboeke. Daar was nie ’n leksel grimering aan haar gesig nie, maar die lyne en plooie het dit ingekleur en ’n duisend stories vertel. Sadrag het lank in haar oë gestaar en elke avontuur, lag en traan gesien. Uiteindelik het hy half saaklik gepraat.

“Waar was jy, Ma? Ek het jou gesoek.”

Aura van Rensburg het hartseer geglimlag. Sadrag het gekoes.

“Ek moes gaan. Die pad het my geroep. Jy weet mos.”

“Moes gaan agter ’n ander vrou aan?”

“Is dit wat jou pa jou vertel het? Dit is baie makliker om vir mense te vertel jou vrou het jou gelos vir iemand anders. Dan kry hulle jou mos jammer. Niemand gaan jou jammer kry as jy hulle vertel jou vrou het gevlug want jy breek gedurig haar lyf nie ...”

“Jy’t ’n kind gehad wat ’n ma moes hê. Jy kon my saamvat. Jy’t my gelos dat hy mý lyf breek.”

Aura het bedees na haar gelapte skoene gekyk. “Kon. Wou. Moes. Ek was in die oomblik. Die pad vorentoe was vol onsekerheid en die pad terug vol hartseer en spyt. Ek is jammer. Ek kan maar net hoop jy hoef nooit soveel oor iets te dink as wat ek aan jou gedink het nie.”

Sadrag het sy oë toegemaak. Die dorpe, mense en paaie gesien, ontmoet en geloop was al wat hy gehad het. Toe hy sy oë oopmaak, was dit vol vrede.

“As kind het ek gedink dat ek in 'n kloof tussen twee wêrelde leef. Een wêreld waar ek moes wakker word, die reëls nakom en bestaan volgens wat ánder dikteer het. Tussen mense met gesigte wat opgeverf is, en sonder ma’s. 'n Plek waar ek bang was om te verouder en te sterf voordat ek kon uitvind hoekom ek hier is. Maar ek het die ander wêreld gehoor roep. ’n Wêreld van die ankerlose onbekende. Die wêreld waar my ma was. Waar avontuur wink na die onbegryplike. ’n Eeue-oue roeping na nuwe ontdekkings; die sonlig wat in maanlig verander en die spel van die lewe en belewenisse wat oneindig aanhou.”

Sadrag het ’n oomblik gedink voor hy byvoeg. “Ek sou dit nie anders wou hê nie. Ek is 'n dwalende siel, ligter as die wind en ek hoort oral en nêrens tegelykertyd nie. In hiérdie wêreld is ek vry. Dit is die beste wat ’n ma vir ’n kind kon gee. Dankie Ma.”

Aura het weer geglimlag. Sadrag het nie gekoes nie. “Ek moet gaan, my kind. Ek hoor die roep.”

Sadrag het sy ma op die voorkop gesoen. “Ek weet.”

Die twee het hand-aan-hand deur die woeste tuin gestap tot by die pad. Sadrag het sy ma vir ’n oomblik styf vasgehou en woordeloos links gedraai. Aura regs. Nie een van hulle het weer teruggekyk nie. Die son het op Sadrag se glimlaggende gesig geskyn; die skaduwees was agter hom.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Annemari Liebenberg

    Dis baie goed geskryf. Daar is geen twyfel aan jou talent nie. Ek het dit baie geniet. Moet nooit ophou nie. Skryf is een van jou wortels...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top