Riaan Palmer het jare terug as ’n baba in Potchefstroom te voorskyn gekom en na ’n paar onverklaarbare en vreemde gebeure in Pretoria beland. Hier maak hy voltyds asof hy iets weet van die inligtingstegnologiebedryf. Agter toe deure is hy egter ’n skrywer wat berugtheid verwerf as blogger op Facebook wat gal braak oor onder andere tannies in Fortuners, ooms wat lelik sit en mense wat te vroeg opstaan. Hy is ’n aktiewe lid van verskeie skrywersgroepe met kortverhale oor hartsake asook onheilige sosiale kommentaar. Hy was per ongeluk “Ink skryf in Afrikaans” se 2019 skrywer van die jaar.