Wanneer water wyn word deur Vivian Kleynhans (soos vertel aan Jacqueline Leuvennink): ’n resensie

  • 0

Opstaan ná die lewe jou telkemale platslaan, is moontlik

Wanneer water wyn word
Vivian Kleynhans, soos vertel aan Jacqueline Leuvennink
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321893

Die boekomslag vertel: Toe Vivian as 16-jarige haar pa in die winkel se deur sien staan, het sy geweet haar lewe gaan verander. Haar pa het sy werk verloor, en die gesin word uit hulle huis gesit. Vivian kan haar geluk nie glo toe ’n ouer man in haar begin belangstel nie. Hy gaan vir hulle huis op Vredenburg kry. Min weet sy watter prys sy gaan moet betaal.

Vervreem van haar familie, in ’n spiraal van mishandeling, gooi sy byna tou op. Met God se hulp kon Vivian egter van voor af begin. Vandag is sy ’n sakevrou wat wyn uitvoer.

Vivian se verhaal is een van hoop, passie, deursettingsvermoë.

Hierdie kind van Paternoster se viswaters het haar lewe omgedraai en vandag word sy as mens én sakevrou gereken. Haar tweede kans het gekom, ná baie swaarkry, mishandeling en emosionele en fisieke aftakeling.

Die boek is geskryf deur Jacqueline Leuvennink, wat verskeie boeke op haar kerfstok het. Die storie is meesleurend, maar dis die eerlike, gestroopte beskrywing van ’n Weskuskind wat die swaarste aan jou hartsnare pluk.

My boek was vol merkers oor die mooi sinsnedes wat my onmiddellik saam in daardie klein tweekamer-vissersmanshuis op Paternoster laat leef het.

Enkeles wat vir my uitgestaan het: “Vistermanne is ’n ongeskraapte lot.” Of “In die maanskyn op die strand lyk als anders. Dis soos kerslig. Als lê geel gekleur. Ons voel iets aan van ’n groot, geheimsinnige wêreld buite Paternoster.”

Met die onverbiddellikheid en ingehoue woede wat Vivian elke dag in haar ma sien, het hierdie sin spesiale betekenis: “Daar kom sit ’n harde gevoel in my nek en skouers. Ons wil onse koppe kan oplig. Dronkwees laat jou ágtertoe gaan. En ek hou van vorentoe gaan.

“Dit smyt my in ’n duwweltjieveld van frustrasie. Dis beter om stil te bly. Maar ek haat die gevoel van magteloosheid wat soms om my skouers kom hang. Ek moet keer teen die kwaadwees wat ook in my wil begin stoel. As kind het elke dag met daardie gestoelde kwaad in haar Ma saamgeleef; in vrees meestal.”

Hierdie bewuswording daar in die veld met die man wat hul hond doodgeskiet het, wat ook dreigend teenoor haar staan, is ’n reuse-openbaring wat sy op daardie jonge ouderdom nie kan verwoord nie, maar tog só intiem ken.

En natuurlik die versugting van ’n kind wat streng en arm grootword; voel dat die lewe elders gebeur terwyl die wêreld hier op jou mishoop van jou vergeet het: “I need an elsewhere. Ek weet hoe dit voel.”

Wat my die langste bygebly het nadat ek die laaste bladsy gelees het, was hierdie wysheid van haar: “Ek besef eers later in my lewe armoede laat jou wêreld krimp tot net dit wat jy rondom jou sien. In mense se stryd om die wolf van die voordeur af te weer, glip ideale by die agterdeur uit. Baie is verslaan nog voor die geveg vir iets beters eens begin het.” Dis die tipe insig van dié wat ontbeer het wat met meer mense gedeel moet word. Mens kyk anders na jou eie lewe as hierdie woorde op jou hart kom sit.

En dan kom die ommeswaai en sy vertel dat jy “op ’n dag – sonder dat jy eintlik weet hoe – jou stem terugkry”.

Maar dit maak nie saak hoe mooi en poëties haar beskrywings is nie, mishandeling kan nie mooi geskryf word nie. Dis ’n vernietigende siekte wat soos ’n vlymskerp mes deur murg en been sny en families in twee dele kap wat soms nooit die afgrond tussen hulle kan oorbrug nie.

Die boek is ’n pragtige ode aan opstaan uit die verdrukking; van kop oplig en tweede kanse. Daarin lê die mooie. Ek is onseker wie se woorde die mooies in hierdie boek is – Vivian s’n wat dit geleef het, of Jacqueline s’n wat dit geskryf het nadat dit aan haar oorvertel is.

’n Kort stukkie deur die uitgewer of skrywer oor hoe die twee vroue se paaie gekruis het en hoekom Jacqueline die skryfwerk gedoen het, sou vir my die boek baie meer lewe en konteks gegee het.

Wat wel vir my die hardste praat in hierdie boek, is die krag van ’n vrou. En hoewel hierdie ’n bruin vrou is wat swaargekry het onder apartheid en die verhaal uit daardie oogpunt geskryf is, is haar storie universeel.

Armoede, onderdrukking, en hoop verloor het geen taal, kleur of kultuur nie.

Ook nie die oorbegin en tweede kanse nie. Haar verhaal van hoop is ’n groot inspirasie vir dié in haar skoene waar ook al in die wêreld; maar ook weer ’n stilword in dankbaarheid vir dié wat nié in haar skoene staan of ooit sal staan nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top