
Foto: Canva
Wanneer stilte raas
In ’n kamer vol woorde het sy gekom om net te luister.
Leiden ruik na ou boeke en nat klippaaie langs die Rapenburg.
Elna staan voor Deur 204 in die Lipsius-gebou en kyk na die naamplaatjie: Prof Dr J van der Merwe – Afrikaanse Taalkunde en Letterkunde.
Hy het die naam behou. Die taal ook.
Net haar nie.
Sy het nie gekom om te praat nie.
Sy het gekom om te hoor hoe stilte klink in ’n kamer waar hy nou elke dag praat oor woorde wat hy eenkeer vir haar ontsê het.
Sy klop een keer. Sag.
“Kom binne,” sê ’n stem.
Laer as wat sy onthou, maar dieselfde ritme. Dieselfde stem wat in Stellenbosch gesê het hy gaan nie kinders hê nie. Nie nou nie. Nie met haar nie.
Sy maak die deur oop.
Die kantoor is klein, vol boekrakke tot teen die plafon. Aan die muur hang ’n plakkaat van die Afrika-Studiesentrum in Leiden. Op sy tafel lê ’n stapel eerstejaarstukke oor Antjie Krog en Karel Schoeman. Hy sit agter die houttafel, donkerbril op, ’n wandelstok teen sy knie. Sedert die motorongeluk in Amsterdam, vyf jaar gelede, sien hy niks meer nie. Tog doseer hy steeds Afrikaanse letterkunde – een van die min professore buite Suid-Afrika wat dit doen.
Hy het alles gekry wat hy wou hê.
Behalwe om haar te sien soos hy haar onthou het.
“Ja?” vra hy sonder om op te kyk. “Wie is daar?”
Elna sê niks. Sy maak die deur toe en sit op die stoel teenoor hom, haar tas op haar skoot. In haar sak is ’n foto van ’n man van vyf-en-twintig met dieselfde ken as hy.
Haar seun.
Hulle seun.
Die kind wat nooit vir hom bestaan het nie.
Buite hoor sy studente verbyloop, Nederlands en Engels deurmekaar. Binne is daar net die tik van sy pen en haar asemhaling.
Die stilte wat hy haar een aand gegee het, en nooit weer teruggevat het nie.
Nou gee sy dit terug.
Nie as wraak nie.
As vrede.
Vir haarself.
Hy snuif te hard en skuif ongemaklik op sy stoel rond.
“Wie is hier?”
Die stilte tussen hulle raas.
Hy voel na sy wandelstok. Staan op.
“Ek sal nooit die reuk van daardie parfuum vergeet nie.”
’n Pouse.
“Dit kan tog nie wees nie.”
Hy gaan sit weer. Draai sy kop na die oop venster.
Toe hy weer opstaan, loop Elna reeds oor die pad.
Elna stap in by Hotel De Doelen. Die koelte van die ou mure gaan lê teen haar vel.
“Een nag,” sê sy.
Haar Nederlands is houterig, maar voldoende.
Die dame agter die toonbank kyk nie twee keer nie. In Leiden stap daar daagliks vroue in met stil gesigte.
Kamer 14. Derde verdieping. Uitsig oor die Oude Rijn.
Sy sluit die deur agter haar toe en sit haar tas neer. Nie op die bed nie. Op die vloer.
Die kamer ruik na ou hout en skoon linne. Geen parfuum nie. Geen spore van iemand anders nie.
Sy stap na die venster en stoot dit wyd oop.
Buite gly ’n boot verby. Die water is donker; die ligte van die huise weerkaats daarin soos gebreekte sterre. ’n Student lui sy fiets se klokkie. Iewers lag jongmense op die brug.
Alles beweeg buite.
Binne is dit stil.
Vir die eerste keer vandat sy by die Lipsius-gebou uitgestap het, haal sy weer asem. Nie vlak nie. Regtig.
Die asem wat sy vyf-en-twintig jaar gelede moes ophou toe hy gesê het daar sal nie ’n kind wees nie. Altans nie vir hom en sy familie nie.
Haar hande bewe nie meer nie.
Sy sit op die vensterbank, trek haar knieë op en kyk hoe die nag oor Leiden sak.
Sy is nie hier om hom te vind nie.
Sy is hier om haarself terug te kry.
Môre kan sy besluit wat om met daardie stilte te doen.
Die volgende oggend is sy reeds buite toe die son sy oë oopmaak. Sy drentel tot by die beroemde Hortus Botanicus Leiden – een van die oudste botaniese tuine in die wêreld.
Die tuin dra ’n stilte wat amper heilig voel.
Elna dwaal stadig deur die Japannese tuin. Verkyk haar aan die klein brûe, klippe, esdoornbome en donker water. Ou bome buig oor die damme soos mense wat moeg geword het van onthou.
Sy gaan sit op ’n versteekte bankie tussen die plante.
Sy verstaan alte goed waarom skrywers en kunstenaars van Leiden hou. Die stad dra daardie rustige, effens melancholiese Europese stilte in hom.
Elna bly lank sit.
Party wonde genees nie met woorde nie.
Net met tyd.
En afstand.
Terug by die hotel staan sy lank onder die warm stort, asof water jare se stilte van haar vel kan afwas.
Na ontbyt teken sy uit by die hotel en stap stadig terug na die universiteit.
Toe sy weer aan Deur 204 klop, klop sy harder.
Hy kyk op, al kan hy haar nie sien nie.
“Wie is hier?”
Hy ruik haar parfuum.
“Elna?”
Die stoel skraap.
Sy gaan sit.
“Elna?”
Hy sluk moeilik.
“Waarom kom jy hierheen as jy niks sê nie?”
Die enigste geluide is die horlosie teen die muur – tik, tik, tik – en die sagte skraap van haar stoel teen die vloer.
Sy rits haar handsak stadig oop.
Sy haal die foto uit.
Sy skuif dit oor die tafel. Nie hard nie. Net ver genoeg dat sy vingers dit kan kry.
Hy voel die rand met sy duim. Die foto is effens gebuig van jare se hanteer.
“’n Foto?” vra hy.
Sy stem is laer as gewoonlik. Hy vra dit nie om te weet nie. Hy vra dit om iets te sê.
Elna sê niks nie.
Net haar parfuum hang in die lug.
Sy is nie meer kwaad nie. Selfs die haat het lankal stil geword. Daar is eenvoudig niks meer oor om te verdedig nie.
Hy vee sy duim oor die oppervlak.
Glad. Koud.
Die seun se gesig is vir hom net ’n idee. ’n Vorm agter sy ooglede. Hy sal nooit sien hoe daardie mond lag nie. Nooit die kleur van daardie oë ken nie.
“Van my seun?”
Net die tik van die horlosie.
Sy asem wat vassteek.
Toe breek hy.
Nie met ’n gil nie. Met ’n geluid soos hout wat skeur. ’n Lae, gebreekte klank wat uit sy bors opstoot en nêrens heen kan gaan nie.
Sy skouers sak ineen asof iemand ’n tou binne-in hom gesny het.
Die trane loop warm oor sy wange. Hy vee nie daaraan nie. Hy weet nie eens waarheen om te vee nie.
Hy hou die foto styf vas, asof hy dit só kan leer sien.
“Ek kan hom nie sien nie,” fluister hy.
Nie ’n aanklag nie.
Net ’n feit.
Die ergste een.
Elna sit stil.
Sy het die foto gegee wetende dat hy daardie seun nooit werklik sal kan sien nie. Dat sekere verliese eers jare later hul volle gewig kry.
Sy bly sit.
Totdat sy asemhaling stadig weer bedaar.
Die kamer hou asem op.
Net so stil as wat sy ingekom het, gaan sy weer uit.
Daardie middag koop sy ’n treinkaartjie na Antwerpen.
Die trein glip uit Leiden soos ’n gedagte wat te lank stil gehou is.
Elna sit langs die venster. Haar hand rus losweg op haar handsak, asof sy nog seker maak die foto is werklik weg. Dat dit nou in iemand anders se hande lê.
Buite trek die Nederlandse landskap verby in strepe groen en water. Skape staan soos wit klippe in die mis. Hier en daar sny ’n fietsryer deur die reën.
Dolf sit skuins oorkant haar.
Langer as sy pa.
Stiller ook.
“Ek kan nog steeds nie glo ek gaan Antwerpen toe nie, Ma,” sê hy uiteindelik.
Sy glimlag flou.
“Stellenbosch het nog altyd geweet jy hoort groter as ons klein wêreld.”
Hy lag sag deur sy neus.
“Dis die beurs. Nie ek nie.”
Elna kyk weer by die venster uit. Die glas weerkaats haar gesig vaagweg terug – ouer as wat sy binne voel.
“Mens groei nie altyd waar jy gebore is nie, my seun,” sê sy.
By Rotterdam klim nuwe passasiers op. Nat jasse. Die reuk van koffie. ’n Kind huil êrens in die volgende kompartement.
Dolf vou sy arms.
“Is Ma jammer dat Ma saamgekom het?”
Die vraag hang lank tussen hulle.
“Nee,” sê sy uiteindelik.
“Maar party plekke maak ou wonde wakker.”
Teen skemer rol Antwerpen nader – torings, spore, nat vensters vol weerkaatste lig.
Dolf leun vorentoe soos iemand wat reeds halfpad aan tot ’n nuwe lewe behoort.
Elna kyk na haar seun en besef: Kinders vertrek lank voor hulle tasse gepak is.
Sy en Dolf eet later by ’n stil restaurant naby die Grote Markt.
Kerse flikker teen die mure. Vlaams dryf sag tussen die tafels.
Dolf sny stadig deur sy steak.
Hy lyk jonger in die sagte lig. Byna weer soos die seuntjie wat eens met modderstewels by haar kombuisdeur ingestorm het.
Elna haal ’n boksie uit haar handsak en skuif dit oor die tafel.
“Wat is dit?” vra hy.
“Maak oop.”
Binne lê ’n ou fotoalbum.
Die swart leer is op die hoeke afgeskuur.
Dolf blaai stadig.
Sy pa as ʼn jong man.
’n Familie op ’n strand.
Kersfees om ’n tafel vol kos.
Mense wat glimlag asof niemand mekaar ooit sou verraai nie.
Heel voorin staan ’n naam in blou ink geskryf: Abraham.
Dolf kyk op.
“Hoekom gee Ma dit nou vir my?”
Elna vou haar servet stadig toe.
“Omdat dit nou jou keuse is.”
Hy verstaan nie dadelik nie.
Sy kyk verby hom, na die reën teen die venster.
“Party mense stuur jou met niks die woestyn in nie,” sê sy sag.
“Net water. En ’n stuk brood.”
Die woorde hang swaar tussen hulle.
“Maar jy moet self besluit of jy terugstap na hulle toe.”
Dolf kyk weer af na die foto’s. Na die gesigte. Na die mense wat tegnies familie is, maar soos vreemdelinge voel.
Elna steek haar hand oor die tafel uit en raak liggies aan sy arm.
“Jy skuld niemand jou hart net omdat julle dieselfde bloed dra nie.”
OR Tambo-lughawe is besig.
Elna haal haar tas van die trollie af en glimlag.
Nie breed nie.
Net genoeg.
Buite lê Johannesburg onder winterlig en rook. Elna trek die koue lug stadig in.
Die woestyn lê ver agter hulle.
Vir goed.

