Wanneer ’n pitbull ’n dief jag

  • 1

...
My brakke sê: Nee. Not ’n dêm. Dis middag. Ons stap rustig.
...

Die storie het gebeur in die oploop na Erfenisdag. WhatsApp-groepies was reeds vol advertensies vir houtskool en braaipakke. Werkers het al begin droom van ’n dag sonder vroeg opstaan. Ooms het staalborsels in die hand geneem en roosters begin blink vryf.

Toe gebeur dit: ’n Jong aanvaller spring, na bewering, uit ’n taxi, bestorm ’n werker op pad huis toe en beroof haar.

Ek sou die besonderhede eers ongeveer 15 minute later hoor toe ’n fyngeboude vrou op die hoek reeds die slagoffer gaan help het, die polisie en die nooddienste gebel het en seker gemaak het die paramedici ondersoek haar.

Dit ter agtergrond, want ek was nie naby die beweerde aanval nie.

Enter the pitbull

Die beweerde aanval het gebeur net mooi toe ek en my twee dodelik gevaarlike honde besluit om ons middagstappie te neem.

Hierdie storie sou nie gewerk het sonder ’n nare deel van ons erfenis nie: bloeddorstige honde.

Nou as ek sê my brakke gevaarlik, dan moet jy mooi verstaan, my honde is formidabel:

  • Die een is ’n kruising tussen ’n pitbull, ’n boxer en ’n rifrug. Hy is groot en deksels sterk. Sy stem kan letterlik kilometers ver gehoor word. Soos alle pitbulls is hy ’n sagte, liefdevolle ding met ’n stert soos ’n sambok wat mansmense bitter seer kan slaan as ons nie keer vir die erfenis tussen ons bene nie.
  • Die ander hond is ’n africanus wat eendag honger en verwaarloos in ’n township opgetel is. Sy is nou vet en vrolik en hap gereeld my boud as sy opgewonde raak. Dis soms seer.

Ons brakke leef in die Nuwe Suid-Afrika. Hulle ken hulle regte en eis dit op. Vroegoggend en laatmiddag stap ons. Meer nog: Middagstappies is veronderstel om rustig te wees. Ons stap stadig en daar is baie tyd om te snuffel. In die oggend is ons soms meer avontuurlustig, maar nie wanneer die son skyn nie. O, nee.

Alles het goed gegaan daardie rustige sonskynmiddag. Ons was snuffelend aan die drentel, salig onbewus van die beweerde aanval.

Ongelukkig besluit die beweerde dief toe om in ons rigting te hardloop oor ’n oop stuk veld waar ’n gewone motor nie kan ry nie, maar waar my brakke kan snuffel. Verskeie mense wat per motor agter die beweerde dief aanjaag, wys die man toe aan my uit en verduidelik hy is ’n beweerde dief.

Ek sien hom naderkom en skree: Ek bring my honde!

Dit werk.

Regs van hom is daar mense in motors. Voor hom is ’n bulderende oom en twee honde. Links van hom is ’n heining.

Hy kies die heining.

Ek skree weer ek kom vir hom: Die honde is op pad.

Ek vra toe vir my twee bedorwe brokke baie mooi: Kom ons gaan vang ’n dief, asseblief.

My brakke sê: Nee. Not ’n dêm. Dis middag. Ons stap rustig.

Ek sê: Dis na bewering ’n dief. Ons moet hom jaag.

Ek trek.

Die honde steek vas. Hulle wil stap. Dis middag. Nie hardlooptyd nie.

Die beweerde dief is by die heining. Hy kyk om. Ek skree vir hom: Ons is op pad!

Hy hardloop nou harder, weg van ons, al met die heining langs.

Kom nou, smeek ek my honde. Lyk dan ten minste kwaai, asseblief!

Die honde swaai hul sterte, maar rem harder.

Die beweerde dief kyk weer om. Ek skree weer vir hom: Ons is op pad!

Hy hardloop nou nóg harder. My honde rem nóg harder.

Uiteindelik hardloop die beweerde dief hom vas in ’n hoek. Nou sit sy turf, want daar is ’n heining aan twee kante van hom. Daar is ’n bulderende oom met twee steeks honde voor hom. Agter die oom en honde is gewapende manne en woedende vroue in hulle karre.

Ek skree weer vir hom: Ons is op pad!

Ek pluk die honde se leibande. Hy raak paniekerig.

Ek bulder: Ons kom!

Hy kyk na die heining en begin klim.

So bereik ons die einde van hierdie storie, want natuurlik het die knaap meer as genoeg tyd gehad om oor die heining te kom. My twee brakke had werklik geen begeerte om hom in te haal nie, al skree ek hoe hard.

Toe die gewapende reaksie, die talle burgerlikes wat hom jaag, en die polisie opdaag, kon ek hulle direk na hom stuur, want ek het gesien waar hy wegkruip.

Een vermeende booswig sou Erfenisdag 2025 agter tralies deurbring, ten spyte van my pitbull.

Hy bliksem jou sommer

Soms is ’n gedeelde, maar valse erfenis van vrees nuttig. Dis hartseer, maar dis waar.

Ek sê later vir die geliefde: Ek wonder sommer. As hy omgedraai en regtig gekyk het hoe ek sukkel om die honde so ver te kry om hom te agtervolg, sou hy nie dalk net daar neergeval en gelê en lag het nie? Die brakke sou hom dan sekerlik in die gesig kon gaan lek het tot die polisie opdaag.

Veel later, toe die bedorwe honde se pense al vol pille was en hulle op ons bed lê en slaap, gaan soek ek na ’n foto wat ek tydens ’n naweek saam met Maya Fowler in haar geboortedorp, Graaff-Reinette, geneem het. Op ’n bordjie teen ’n vervalle heining het gestaan:

MOENIE WORRY
HOND BYT NIE
HY BLIKSEM JOU
SOMMER

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top