Wanneer die kerk met die wêreld in gesprek tree

  • 6

Gelowiges, ongelowiges en buitekerklikes het verlede week om ’n ronde tafel gaan sit en met mekaar in gesprek getree by die Universiteit Stellenbosch, onder vaandel van Eenheid vir Morele Leierskap. Dit was ’n unieke ervaring.

’n Groep van twintig mense met uiteenlopende sienings oor geloof het om ’n tafel gaan sit en gedagtes uitgeruil oor die spirituele verhuising uit die institusionele kerk.

Jean Oosthuizen

Willie Esterhuyse

Lina Spies

Lees Lina Spies se bydrae hier.

George Claassen

Lidia Theron

Onder hulle was die filosoof Willie Esterhuyse, die digter Lina Spies, die wetenskapjoernalis George Claassen, die paleontoloog Jurie van den Heever en Lidia Theron, die ma van ’n gay dogter en skrywer van die boek Jy bly my kind.

Daar was ook teoloë en ’n paar teologiestudente wat die uitdagings in die gesig staar van kerkwees in ’n wêreld wat al hoe meer sekulêr word. Aan die oorkant van die tafel waar ek gesit het, was ’n gewese predikant van die Hervormde Kerk, Bertus van Niekerk, wat sy toga opgehang het om ’n wynmaker te word.

“Hoe het dit gebeur dat ek buitekerklik geword het en uiteindelik in 2013 na die Woordfees amptelik uit die kerk bedank het?” het Lina Spies gevra. Spies het ’n lang pad geloop totdat sy haar lidmaatskap van die NG Kerk na verlede jaar se Woordfees opgesê het.

Of sy daarmee haar band met die kerk heeltemal verbreek het is ’n ope vraag. Twee dae na die kweekskoolgesprek staan sy saam met my op die preekstoel van Stellenbosch-Wes se NG-gemeente en lees haar gedig “Die belydenis van ’n afvallige”van die preekstoel aan die gemeente voor. Tydens dié geleentheid is ek, wat ook my eie pad met die kerk gestap het, genooi om ’n “preek van die leek” vanaf die kansel te hou. ’n Jaar gelede sou ek gedink het so iets is ondenkbaar.

Die Preek Van Die Leek (www.preekvandieleek.co.za) is ’n inisiatief wat in Nederland ontstaan het en wat nou vir die tweede keer ook in Suid-Afrika aangebied is. Nieteoloë word genooi om die kansel te bestyg, “want predikante van ons tyd dra lankal nie meer togas nie”.

Tydens die gesprek by die US het Lina Spies vertel van die vernaamste gebeure in haar lewe wat daartoe gelei het dat sy ’n buitekerklike, andersdenkende Christen geword het wat haar nie meer binne die kerk tuis voel nie. Lees haar volledige stuk hier.

Vir mense soos Lina Spies is dit is belangrik dat die kerk ’n forum skep vir buitekerklikes om te vertel waarom hulle van die kerk afvallig geword het; sommige uitgesproke ateïste en ander mense wat ontuis geword het in die kerk.

Dat buitekerklikes wel bereid is om te praat, is volgens haar ’n duidelike teken dat die kerk nog om verskillende redes vir hulle saak maak, al is dit slegs as ’n instelling binne die geledere van Afrikaners wat nog op baie verskillende maniere ’n besliste invloed uitoefen.

Dié invloed blyk uit die aandag daarvoor in die media. Daar is kennelik vir die deelnemers aan die gesprek ’n veilige ruimte geskep om hulle persoonlike verhale te vertel wat agter hul breuk met die kerk lê. Die mees opvallende gemeenskaplike probleem met die kerk wat pertinent aan die orde gekom het, is volgens Spies (toe ek haar na die tyd daaroor pols) die prediking wat nog altyd uitgaan van ’n letterlike interpretasie van die Bybel.

“Dié verkondiging is in stryd met die 21ste-eeuse mens se postmodernistiese siening van die werklikheid deur wetenskaplike kennis en ’n etiek wat nie meer volkome vereenselwig kan word met die Christelike moraliteit nie. Dit is belangrik dat die gesprek binne kerklike verband gevoer is en veral ook neerslag vind in die media.”

Dat die kerk van binne uit so kan transformeer dat dié probleme opgehef kan word, lyk vir Spies twyfelagtig. “Dit kan alleen gebeur deur diepgaande vernuwende denke en nie deur kosmetiese veranderinge om die indruk van byderwetsheid te skep nie.”

Willie Esterhuyse het sy gevoel tydens die gesprek so opgesom: “Ek het nie uit die kerk weggeloop nie. Die kerk het van my weggeloop.”

Daarmee het Esterhuyse waarskynlik sy vinger op die pols gesit en die hartklop van talle buitekerklikes verwoord.

Wat hét in die kerk, die wêreld en die teologie gebeur dat die kerk vir soveel mense irrelevant word?

In die laat ’80’s het Ferdinand Deist vir iemand gesê wanneer apartheid verdwyn, sal dit ook die einde van die NG Kerk wees.

Was hy dalk reg? Net die geskiedenis sal leer. Wat ons wel weet, is dat die kerk al hoe meer sydelings gerangeer word namate hy sy allesoorheersende mag verloor en sukkel om by veranderende tye aan te pas.

Nie net in eie kring nie, maar oral in die Westerse wêreld is kerke as vaandeldraer van georganiseerde godsdiens op ’n afdraande-pad.

Dit is ’n proses wat besig is om hom tans ook in Suid-Afrika beide op die leerstellige en die sosiaal-politieke gebied te voltrek.

Kyk mens na die jongste statistiek waarom mense in Amerika die kerk verlaat en die redes waarom mense krities is oor die kerk, kom jy gou agter dit stem ooreen met dit wat ook in Suid-Afrika gebeur. Dit is dié sake waaroor daar by die gesprek op Stellenbosch gepraat is.

Volgens navorsing wat deur die Barna-stigting in die VSA gedoen is:

•        word daar elke jaar 4 000 nuwe kerke in Amerika begin en maak 7 000 kerke toe

•        verlaat meer as 1 700 predikante die bediening elke maand in Amerika

•        verlaat meer as 3 500 Amerikaners die kerk daagliks in die VSA

•        is vyftig persent predikante so ontnugter dat hulle die bediening sou verlaat as hulle iets anders kon doen

•        sal vyftig persent predikante wat begin werk, nie langer as vyf jaar in die bediening bly nie.
(Bron: The Fuller Institute, George Barna and Pastoral Care Inc.)

Dit is ’n mistasting om te dink almal wat die kerk verlaat, word ateïste. Baie mense verlaat die kerk, maar word nie noodwendig ateïste nie. Hulle noem hulleself Christene in ballingskap. Sommige wil hulle glad nie meer met die Christelike geloof identifiseer nie, en ’n derde groep verloor hulle geloof heeltemal.

Veral jonger volwassenes ervaar ’n toenemende spanning tussen geloof en wetenskap. Drie uit elke vier jong volwassene het in ’n Barna-navorsingstudie aangedui dat die kerk uit voeling is met die wetenskap en dink hy het al die antwoorde.

’n Kwart van die respondente, van wie almal Christene was, het gesê hulle ervaar die kerk as uit pas met die wetenskap en het selfs gesê hulle ervaar die kerk as antiwetenskap, en 23 persent het gesê hulle word afgesit deur die kreasionisme-versus-evolusie-debat, omdat hoofstroomkerke nie daaroor standpunt inneem nie.

Al hoe meer jong Christene ervaar die kerk se standpunt oor seksualiteit as simplisties en veroordelend. Dit sluit die kerk se sienings oor seks voor die huwelik en oor homoseksualiteit in.

Navorsing toon dat die meeste jong Christene net so seksueel aktief is as nie-Christene, selfs al is hulle dalk meer konserwatief in hulle benadering.

Die eksklusiwiteit van die Christelike geloof, dat dit die enigste ware geloof is, maak dit vir jongmense wat daagliks te doen kry met mense wat anders glo, of glad nie glo nie, al hoe moeiliker om hulle daarmee te versoen.

Al hoe meer mense voel hulle word gedwing om tussen die kerk en hulle vriende te kies. Twee en twintig persent van die jong Amerikaners met ’n Christelike agtergrond wat aan die navorsing deelgeneem het, sê die kerk is soos ’n plattelandse klub waar net sekere mense welkom is.

’n Groot persentasie mense ervaar die kerk as onvriendelik teenoor mense wat twyfel. In die Barna-studie het 36 persent jong Christene gesê hulle voel onveilig om vrae in die kerk te vra en dat hulle ernstige intellektuele twyfel ten opsigte van hulle geloof ervaar.

Dit is dalk hier waar die knoop ook in Suid-Afrika lê. Tydens die US-gesprek was daar selfs predikante wat onveilig gevoel het om openlik deel te neem aan ’n gesprek soos dié.

Jurie van den Heever

Jurie van den Heever, wat deel was van die gesprek, het dit goed opgesom toe hy tydens ’n vorige geleentheid gesê het die NG Kerk, waarvan hy steeds ’n lidmaat is, verkeer in ’n geestelike krisis omdat:

  • die amptenary nie by magte is om na die lidmate se behoeftes te luister nie, maar liewer wil voorskryf
  • hedendaagse lidmate ingelig is oor teologiese kwessies en probleme omdat hulle daaroor lees en dit bespreek
  • predikante steeds nie opgelei word om sinvol aan sulke debatte deel te neem nie.

Uiteindelik is die eerlike en reguit vraag of die kerk regtig wil of kan hervorm. ’n Dekade of wat gelede was die vraag op die tafel of daar nie dalk eers ’n geslag moet uitsterf voordat daar hoop sal wees vir die kerk om sy roeping te vervul, losgeworstel van die jammerlike bagasie van die verlede, nie.

Die implikasie was dat as die nuwe geslag predikante in die meerderheid is, as daardie geslag leierskap eendag in die moderatuurstoele sit, die kerk anders sal lyk, is geglo.

Vandag is daar ’n ontnugtering by ’n groot deel van die “nuwe geslag” lidmate en predikante. Byna tien jaar gelede reeds skryf die teoloog Ben du Toit in Kerkbode: “Die teleurstelling: ons het deel geword van dieselfde spel; ons het fyn en berekenend begin dink aan skuiwe vorentoe, in die regte rigting, met die minste moontlike skade; ons het deel geword van die magspel in die Christendom wat oor eeue heen die kerk aan soveel integriteit gekos het.

“Dit is ’n siek gevoel. Dit is die ervaring van verlatenheid wat aangebring word deur diepe selfverwyt – wat ons sku maak daarvoor om mekaar in die oë te kyk. Ons sal die mense om verskoning moet vra. Maar, eers: ‘Sorry, Oom K, Oom K en Oom K. Ons was hard op julle – en nou word ons gemeet aan ons eie oordeel oor julle. Sorry Here, ook ons het U gedrop ...”

In ’n sekere sin was verlede week se gesprek ’n geskiedkundige gebeurtenis, hoewel nie ’n kairosmoment nie. Maar dit was ook nie die doel van die gesprek nie. Die doel was om na mekaar te luister. Hoe onbevredigend dit dalk vir sommige was, het dit in een opsig geslaag: mense met uiteenlopende sienings oor kerk en geloof kon mekaar in die oë kyk en na mekaar se verhale luister.

Die grootste les was waarskynlik dit: sulke gesprekke is futiel as ongelowiges dit net wil gebruik om die kerk sleg te sê. Nog minder sal dit help dat die kerk diegene wat van die kerk wil wegbreek, aan die kerk probeer keer of snoer of bind. So ’n verwagting sou ’n teologiese misverstaan of wanbegrip van “kerk” verraai, merk een van die jong opkomende teoloë, Nadia Marais, na die tyd teenoor my op. “Kritiek – van buite maar ook van binne – is uiters goed vir die NG Kerk, juis omdat ons sukkel met ’n gebrek aan ’n kapasiteit vir diversiteit, wat strek van opinies en ervarings tot seksuele oriëntasies en spiritualiteit,” sê sy.

Nadat mense die teoloog Marcus Borg gevra het waarom hy so aanhou met die kerk, het hy gesê: “I know that I live in the belly of the beast – and I still want to try to change the beast.” In die agternagesprek wat ek met ’n teoloog in die noorde van die land voer, sê sy: “Ja, die ‘beast’ het tande, maar dis nie al wat sy het nie. As institusionele organisasie raak sy al meer die irrelevante gedierte wat glo dat haar grom nog saakmaak, vergetend dat mense haar lankal op tou gesit het en met hul rug op haar leef.”

Dan is daar nog die spul naïewes, sê sy, wat onthou hoe die kerk eens was.

Dalk het Jurie van den Heever die kerk se oordrewe vrees vir die konserwatiewe element in sy geledere die beste opgesom tydens die gesprek toe hy opmerk: “Die kerk is baie soos ’n swembad. Die grootste lawaai is aan die vlak kant.”

 

Van die deelnemers aan die gesprek by die Universiteit Stellenbosch was Jean Oosthuizen (vryskutjoernalis en voormalige nuusredakteur van Kerkbode), Pieter van Niekerk (VGK-predikant), Donald Kats (moderator van die Volkskerk in Afrika), Willie Esterhuyse (filosoof), George Claassen (wetenskapjoernalis), Lina Spies (digter en letterkundige) en Lidia Theron (skrywer van die boek Jy bly my kind).

  • 6

Kommentaar

  • Jean , ek dink daar is meestal geen storie gekoppel aan "afvalligheid" nie ... Wat as die redes om die kerk en geloof te verlaat bloot is omdat die konsep van god geen stawende feite het, geen verduidelikende waarde, geen funksionele baat, gesien in die lig van wetenskap en realiteit, en ook geek logiese konsekwentheid nie? Dat die werklikheid van 'n wêreld vol gode, "mutually exclusive and claimed to be equally true" geen sin maak, dat die geskrifte almal deels immoreel en deels sprokie is, en dat die noodsaak vir 'n messias om oersonde te vergewe, verloor het teen die oormag van fossiele, wetenskaplike feite en evolusie wat Adam en Eva ontbloot het as karakters in 'n fiktiewe geskiedenis. Die samesyn van die mens in rituele mag dalk nog kerk ondersteun, maar die fondasies het fatale krake.

  • Ek dink die stelling: “Die kerk is baie soos ’n swembad. Die grootste lawaai is aan die vlak kant.” is die mees akurate wat ons gaan kry. 80% van die mense maak die lawaai en swaai opinies rond, maar wanneer dit na die dieper waters beweeg en woorde omgesit moet word in dade en aksies kan min mense swem ... Sterkte aan al die diep swemmers wat 'n verandering probeer maak na God se wil. 

  • Avatar
    Jean Oosthuizen

    Riaan jy is reg daar is dikwels geen storie gekoppel aan "afvalligheid" nie, maar dit op sigself is 'n storie. Baie mense het geen behoefte meer om eers meer te praat waarom hulle die georganiseerde godsdiens agtergelaat het nie. Ek verstaan dit goed. Maar daar is tog wel mense wat die gesprek nog om verskeie redes interessant vind hoewel hulle nie meer glo nie. So was daar tydens die gesprek hier bo mense wat nog glo, mense wat agnosgties is en mense wat glad nie meer glo nie. En die meerderheid van hulle het die gesprek die moeite werd en interessant gevind ongeag die verskille.

  • Avatar
    Ingrid Retief

    Ek is 64 en ook 'n NG-kerklidmaat wat myself buite die kerk bevind. Hoeveel keer in my lewe moet ek die kerk nog as totaal onnosel ervaar. 'n Paar voorbeelde: Eers het ek groot geword met die geloof vanuit die kerk dat Apartheid Bybels is en later moet ek hoor dat dit nou ONBybels is. Die vrou was eers nie goed genoeg vir posisies in die kerk nie en toe ek volwasse word, word ons skielik as wel goedgenoeg bevind. Dat gays steeds nie in die kerk en op kansels welkom is nie, het my finaal laat besluit dat ek beter gelowig kan funksioneer sonder die kerk. En wat 'n sielsverlossing was dit nie! Op 64 het ek genoeg van my ure gemors om te luister na mense wat dommer is as ek. 

  • Ek is een van die wat dit al oorweeg het om pad te gee, maar besluit het om dit vir eers nie te doen nie. Ek val ook binne daardie groep van dominees wat in hulle eerste 5 jaar van bediening staan.

     
    Waarom het ek dit al oorweeg om te gaan? 
     
    Weens die magspeletjies wat ek al teëgekom het binne die kerk. Omdat ek al self bedekte dreigemente ontvang het omdat ek dit durf waag het om in die openbaar vrae te vra oor die optrede van hulle daar bo. Omdat ek antwoorde verskuldig is en seker vir ewig sal bly, want dis makliker om te sê ons kan "eendag" gesels as om eerlik te antwoord. Omdat die liefdelose veroordeling van mense my bitterlik grief. Omdat die skynheiligheid van die kerk so duidelik wys deur die besluit dat homoseksuele mense nie predikante mag word nie. Hoe sê Jesus: "Laat hy wat geen sonde het nie die eerste klip gooi". Lyk my ons sit met 'n klomp leiers in die kerk wat baie oortuig is van hulle eie sondeloosheid en daarom het hulle alle reg om predikant te word, maar ander nie. 
     
    Waarom bly ek? 
     
    Want ek sien mooi goed binne gemeentes gebeur. Ek hoor van gewone lidmate van 60+ wat net so gefrustreerd is met die situasie, maar nie bereid is om te loop nie. Ek praat met lidmate wat familie het wat homoseksueel is en vir wie dit geweldig bevrydend is om te hoor dis toe nie sonde nie, hulle mag maar opreg lief wees vir die homoseksuele familielede. 
     
    Dis vir hierdie mense wat ek bly, want in hulle lewens kan ek 'n verskil maak. Vir hulle kan ek help om die saak anders te sien sodat hulle bevryding kan kry. Daarom hou ek aan om vir nou die stryd te stry terwyl ek glo daar mag dalk 'n dag kom wat dit anders kan wees.
     
    Waarom skryf ek anoniem? Want ek moet kos op die tafel sit vir my en my gesin.
  • Avatar
    Jans de Jager

    Ek kom uit 'n kerklike huis en voel my kerk het my lewe baie bevoordeel as 'n onafwerpbare faset van my bestaan. Tog is daar druk op kerke vandag wat alleenlik op hulle getroue pad wil bly sonder om te groei met die tye. Van die ouer generasie lidmate wat op 'n tyd getrou en betrokke was het stadigaan hulle deelname teruggesnoei. Van die meer entoesiastiese lidmate het van kerk verander. Tog bly daar 'n matige vloei van belangstellendes wat met tyd besluit of hulle hulself met die kerk kan vereenselwig. Verandering is altyd goed maar die risiko is daar om getroues teleur te stel, en natuurlik ook die vraag oor op wie se skouers die inisiatief geplaas moet word. Aan die einde van die dag verrig die kerk 'n gevestigde taak wat nie deur ander inrigtings in gelyke maat vervul kan word nie. Van die kot na die graf is dit tog gerusstellend dat die kerk naby is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top