Waarskuwing vir Christen-gelowiges teen die hantering van slange en die drink van toksiese brousels

  • 15

Volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Jaarboek 2002 het 75,49% van die bevolking van 43 686 000 ‘beweer’ dat hulle Christene is. Ander gelowe het soos volg daar uitgesien: (Moslems, Hindoes, Judiste, Tradisionele Afrika-gelowe en ander kleineres) 3,44% (1,5milj) En die res: Ateïste 11,65% +  nie-verklaardes:  9,41%. (9,2milj) Suid-Afrika se bevolking het intussen al aangewas tot meer as 48 miljoen maar ek twyfel of daar ’n beduidende verskuiwing in die persentasies sal wees.

Sondagoggend op Werkersdag oor RSG gehoor, tydens ’n onderhoud met ’n sendeling in Japan, dat slegs 1% van Japan se bevolking Christene is. Die oorheersende gelowe daar is  Shinto en Boeddhisme. Japan se bevolking is meer as 2 keer die van Suid-Afrika, maar ons tronk-bevolking oortref die van Japan weer met meer as 2 keer. Uit hierdie gegewens kan elkeen sekerlik self sy eie gevolgtrekkings maak . Ek sou sê ons steek maar baie sleg af vir ’n land wat daarop roem dat dit ’n Christenland is.

Die oorweldigende meerderheid van ons  bevolking — meer as 70%? — gedenk oor enkele dae hemelvaart. Maar moet tog nie Christus se onverantwoordelike versekering, net voordat hy sou opvaar, ernstig opneem nie!  Sommige daarvan kan noodlottige gevolge inhou. Ek haal Mark. 16:17 en 18, aan waar Markus vir Christus aan die woord stel: 

  • “Die volgende wondertekens sal voorkom by die wat glo: in my Naam sal hulle duiwels uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

Nou sal Kobus natuurlik te kenne wil gee dat ek weens gebrek aan spirituele intelligensie en ateïstiese dwaasheid of so iets, nie verstaan wat Christus bedoel het nie. Dan kan hy sommer vir ons sê watter twee apostels  se weergawe hy as leuens verwerp. Volgens Lukas het Christus van Betanië opgevaar maar volgens Handelinge (Paulus?) was dit vanaf die Olyfberg by Jerusalem terwyl Markus beide aansprake verwerp en beweer dat die apostels aan tafel was toe Christus aan hulle verskyn het net voor hy opgevaar het. 

Ag terloops — kyk tog sommer na die indrukwekkende foto geneem tydens sonsverduistering  in 2012 by: http://apod.nasa.gov/apod/ap160501.html

Panda      

 

  • 15

Kommentaar

  • Hallo Panda
    Bietjie onwetenskaplik om daardie korrelasie te trek; tronkbevolking en christenwees nou. Wat, byvoorbeeld, is die onderskeie geloofspopulasies in die tronke? Daar is onderverdelings in die bevolking wat dalk beter met die tronkbevolking se damestelling korreleer soos ras, geslag, ekonomiese welstand ens ens.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Daar is meer as genoeg bewyse dat die teksverse wat Panda aanhaal nie deel van die oorspronklike manuskripte was nie, maar later toevoegings is. Dit is nietemin daar maar is egter teenstrydig met Jesus se woorde aan Satan, Mat 4:
    5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan
    6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele oor jou opdrag gee” en: “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.”
    7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
    Die waarskuwing is dus duidelik 'n Christen mag hom/haar nie aan gevaar blootstel en dan verwag dat God tot sy redding moet kom nie.
    Die sentrale boodskap van die Bybel gaan egter nie om die verlossing van die liggaam nie, maar wel oor die eindbestemming van die 'siel' wat slegs kan plaasvind deur die volkome aanvaarding van die verlossingswerk van Jesus Christus.

    • FC — Jy sê:" 'n Christen mag hom/haar nie aan gevaar blootstel en dan verwag dat God tot sy redding moet kom nie." Nou van watter gevaar praat jy nou? Christus het dan self gesê dis nie gevaaelik nie en jy kan maar so maak. Jy moet net glo dan is dit OK. Vertrou jy hom dan nie?

  • Jan,
    Jy's reg — ek moes eintlik nie die statistieke by die boodskap ingesluit het nie.
    Die waarskuwing oor die gevaar van die drink van giftige brousels en die optel van slange met die hande, was eintlik die boodskap.
    Groete
    Panda

  • Ek wonder of Kobus gewillig sal wees vir die proefneming? 'n Kollega van my sal die swart mamba voorsien, en ek kan die gifdrankie aanmaak. Dis mos 'n uitstekende bewys van gelowigheid.

  • Volgens FC Boot het daar dus heelwat suurlemoensous in die Bybel ingeloop. Kobus sal beweer dat slegs mense met spirituele intelligensie sal die Bybel kan verstaan en weet om die suurlemoensousgedeeltes mis te proe.

  • Beste Angus
    Vertaling is die heel moeilikste take wat enige mens kan aanpak.
    Kyk bv na die volgende:
    Genesis 1 (1983)
    1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep.
    2 Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
    3 Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
    1953
    1 IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.
    2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
    3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
    Bybel vir almal met kantnotas.
    1 Alles het begin toe God die hemel en die aarde gemaak het.
    2 Daar was niks op die aarde nie, niemand kon daar woon nie. Daar was net ’n groot see, en dit was baie donker. Die Gees van God het oor die water beweeg soos ’n sterk wind.
    Groot see: “Groot see” of “diep water” beteken “Die water wat daar was toe alles begin het”. Die Gees: Die Here stuur die Gees uit die hemel om te doen wat die Here wil hê.
    3 God het gesê: “Daar moet lig wees.” En toe was daar lig.
    Die Boodskap.
    1. In die begin van alle tyd het God die hemel en aarde gemaak.
    2. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. 'n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En 'n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai.
    3.God was egter daar en Hy het gesê: 'Laat daar lig wees."
    Watter vertaling is die naaste aan die gedagtes van die oorspronklike bybelskrywers? Wat was die stand van die wetenskaplike kennis en kulturele en geskiedkundige agtergrond waarteen die verhale geskryf is?
    Wat help dit om 23 Bybels te hê en daarmee te spog en dan te lees en nog nie te verstaan wat jy lees nie.
    Die sentrale boodskap van al drie vertalings is duidelik en dit word dan ook later in die nuwe testament bevestig. God het die proses aan die gang gesit waardeur alles tot stand gekom het op so 'n wyse wat vandag nog onverklaarbaar is, want jy het mos self erken dat daar buite die Oerknal ook nog ander teorieë is oor die oorsprong.
    Dit sou mos nie (verskillende teorieë) so gewees het as die wetenskap presies kan verduidelik hoe alles begin het.
    Groete

  • Die miskonsepsie by baie Christene is dat die Bybelse "siel" en liggaam twee aparte entiteite is. In werklikheid sê die Bybel dat nadat God asem in die mens geblaas het, het hy 'n "lewende siel" geword.
    Moses en Elijah is liggaamlik lewendig hemel toe. Met die eerste wederkoms is dit die afgestorwenes se liggame wat weer lewendig word om saam met Jesus hemel toe te gaan. Met die tweede wederkoms is dit die afgestorwenes se liggame wat weer lewendig word tot ewige verdoemenis. Wanneer 'n mens doodgaan is daar nêrens in die Bybel wat beweer 'n "siel" (gees) gaan hemel toe, na die vagevuur of hel toe nie. Beide wederkomste is dienooreenkomstig oorbodig indien reeds in die hemel of hel is.

  • Beste Jaco

    In Lukas 23 vers 40 tot 43 lees ek die volgende:
    Die man aan die anderkant het hom gou stilgemaak."het jy g'n respek vir God nie ?Jy staan nou onder sy oordeel!
    41.Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers.Maar hierdie Man het net mooi niks veerkeerd gedoen nie."
    42.Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê:"Ag Here,sal u asb aan my dink wanneer U daar in God se woonplek ankom?"
    43.Ek het baie goeie nuus vir jou," het Jesus dadelik geantwoord."Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie.Nee,jy gaam saam met My na die paradys toe.Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak."

    Jesus het gesterwe en is begrawe en het opgestaan.Wat van die misdadigers se lyke geword het is nie seker nie.Onder http://infidels.org/library/modern/peter_kirby/tomb/roman.html word verskillende praktyke asook wanpraktyke bespreek.

    In lig van jou verduideliking wat van misdadigers is saam met Jesus?

  • Hoe meer julle oor die Bybel skryf, hoe bespotliker word alles wat daarin staan.

    Verbeel jou twee misdadigers aan kruise vasgespyker, met moontlik ook 'n klompie spykers deur hulle dingese, en nadat hulle slae met 'n kartwats gekry het, (soos beskryf deur FC Boot se infidels-skakel) sê doodgewoon, asof hulle aan tafel sit, elk met koppie tee en 'n koeksistertjie: "Ons verdien om hier te hang, want ons is misdadigers."

    Diegene wat hierdie stories glo, verdien om met mambas te speel en gif te drink.

  • Angus.
    Duidelik ken jy nie jou Bybel nie.
    Eerstens was die twee misdadigers met toue vasgemaak. Alleenlik Jesus was met spykers vasgekap.
    Verder het altwee nie gesê hulle verdien om daar te hang nie, net die een.
    Die ander het net soos jy Jesus belaster en gespot.
    Hy óók het nie geglo nie. Terwyl hy daar was ...

    Die Bybel sê een dag sal almal glo ...
    Die probleem is net dan is daar nie meer omdraaikans nie ...

  • Beste Dylan,
    Ek kan nie eens onthou dat ek so giftig geskryf het nie, so lank gelede is dit al. Dis waar, ek kan nie so presies altyd onthou wat in die Bybel staan nie. Kan jy? Sonder om na te slaan?
    Ons ateïste glo mos nie aan glo nie. Wat moet jy nou eintlik glo? Ons wil net weet. Omdraaikans is ook netso gevaarlik; dan beland jy dikwels in die duwweltjies.

  • Angus
    Ag nee wat Ateïsme is maar ook mos 'n geloof. Om te glo in niks.
    Ek as jy glo daar's niks dan is dit geloof.
    Kyk daar was mos niks en toe ontplof daai niks op 'n (wonderbaarlike?) manier en daai ontploffing maar eensellige gediggies wat later sou evalueer in intelligente mense soos ek en jy. Wat lekker kan debatteer of ons nou eintlik niks of iets is.

    Ek kan redelik onthou wat in die Bybel staan, seker maar aangesien ek daaraan glo en baie belangstel daarin en dit vir my sin maak.
    Maar ja ek kan nie woord vir woord en vers vir vers onthou nie maar die belangrikste goed is in my hart ingebrand. En dis lekker om toe soek na antwoorde en na te slaan. Kyk ek Glo dis hoe God met my praat. En soos ek soek, kry ek antwoorde.

    En veral as mens Openbaring lees is dit ongelooflik hoe in lyn daardie profesieë met ons huidige wêreld toestande en gebeure is. En dit maak my opgewonde want ek sien hoe daardie dinge woord vir woord gebeur voor my oē.

    Lekker dag verder vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top