Waarom 'n minderheidsberaad gehou moet word

  • 2

Daar is niks gevaarliker as om ’n samelewing te bou terwyl ’n groot deel daarvan uitgesluit voel nie. As hulle nie ’n aandeel daarin het nie, voel dit asof hulle niks het om te verloor nie.

Só het wyle dr Martin Luther King op ’n gepaste tydperk in die Amerikaanse geskiedenis gesê. Dit was omdat hy bekommerd was oor die stand van swart Amerikaners. Dat swart mense vervreem gevoel het omdat hulle nie dieselfde of gelyke regte as wittes geniet het nie. King se woorde was dus ’n waarskuwing aan die regering dat hulle aandag moet gee aan swart mense se griewe.

Dit is reeds teen dié agtergrond dat die oproep vanuit bruin geledere vir die herrys van die ontslape United Democratic Front (UDF) betekenisvol geag moet word. Dié oproep moet as barometer dien vir die regering dat bruin mense uitgesluit voel en dat hulle iets daaraan moet doen.

Dit is nodig om te noem dat ek nie vanuit ’n fiktiewe (bruin) nasionalistiese raamwerk na die “vervreemdingsgevoel” verwys nie. Enige poging – van enige groep – om nasionalisties te organiseer sou teenproduktief wees, omdat die belange van ander groepe uitgesluit word.

Suid-Afrika se ideaal van ’n inklusiewe gemeenskap sou deur nasionalisme versteur en bedreig word. Hierteen moet ons waak en bid.

Ek doen dit liewer vanuit ’n gemeenskapsoogpunt, want gemeenskapsbou is grondliggend vir nasiebou. Dus is die toenemende openbare gesprek oor die “eenkant-toe-skuif” van bruines vanuit ’n gemeenskapsoogpunt van kardinale belang.

Dié gedagte vir die herrys van die UDF deur Mario Wanza, voorsitter van die organisasie Proudly Manenberg, is relevant as die redes vir die stigting van dié organisasie in 1983 tydens die driekamerparlement in Mitchell’s Plain in ag geneem word.

Dit het die buite-parlementêre politiek 'n heel nuwe dimensie laat aanneem, en dit het 'n belangrike vakuum in die stryd teen apartheid gevul wat ontstaan het met die verbanning van die ANC en ander bevrydingsbewegings.

Belangriker: dit het 'n diepe verbintenis met nierassige waardes by alle gemeenskappe (ook by sommige wittes) gevestig, sowel as die erkenning van die rykheid wat gevestig is in ons diverse kulture.

Dit is reeds die geleidelike verbrokkeling van die “diepe verbintenis” die afgelope 18 jaar dat minderheidsgroepe toenemend uitgesluit en gemarginaliseerd voel.

Die vervreemdingsgevoel by bruines manifesteer in vele gedaantes, byvoorbeeld voorgestelde arbeidswetwysigings wat bruines letterlik uit die staatsdiens (veral in korrektiewe dienste in die Wes-Kaap) kan dryf, bendegeweld, tik, die hoogste skooluitsaksyfer, die hoë werkloosheidsyfer, die laagste tersiêre onderrigsyfer in die land, die baie bruin jeugdiges in tronke en die ontkenning van die rol wat bruines in die anti-apartheids- en vryheidsbewegings gespeel het.

Teen die agtergrond van Wanza se oproep (en die ontydige verhuising van dr Allan Boesak, vooraanstaande UDF-stigterslid, na Amerika vir twee jaar) behoort dit die regering tot nuwe insigte te dwing oor hoe om die vervreemdingsgevoel onder minderheidsgroepe aan te spreek.

’n Minderheidsberaad behoort dringend gehou te word waar die regering en alle belanghebbendes hulle tot die “geykte nierassige denke van die UDF-gemeenskap van 1983” gaan verbind.

  • 2

Kommentaar

  • Ironies dat die klem op "bruines" geplaas word wanneer van minderheidsregte hierbo gepraat word. Geen uitnodiging aan blankes, ook ’n minderheidsgroep, om deel te neem nie. Soos ek in my vorige brief "Who is African and Who is Not" geskryf het, sukkel die bruinmense die afgelope 18 jaar, na apartheid, om te weet waar hulle in die samelewing inpas. Hulle bly ras gedrewe, net soos die skrywer hierbo toon, in hierdie geval die bruin (gemengde) ras.

    HY skryf: "Bendegeweld, tik, die hoogste skooluitsaksyfer, die hoë werkloosheidsyfer, die laagste tersiêre onderrigsyfer in die land, die baie bruin jeugdiges in tronke en die ontkenning van die rol wat bruines." Nou wie wil hy eintlik blameer? Ek sou sê die mense waarvan hy hierbo skrywe moet self iets daaromtrent doen en hulle eie huis in order kry.

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Trevor Manuel en Peter Marais het dieselfde as Jason Lloyd gedoen deur beswaar teen rassediskriminasie te maak as bruines nie in dieselfde mate as swartes in die nuwe Suid-Afrika bevoordeel word nie. Waar die bruines in die vorige bedeling wit wou wees, wil hulle nou swart wees. Hulle wil dus elke keer wees waar dit hulle kan bevoordeel. Dit is 'n pragmatiese maar nie 'n beginselstandpunt nie. Waarom moet bruines op grond van hulle onwettige dade in die UDF/ANC bevoordeel word en nie ook wittes wat soortgelyke misdade gepleeg het nie? Insgelyks, waarom alle swartes bevoordeel terwyl net sommige aan die UDF/ANC se geweld deelgeneem het?

     

    Dit lyk vir my beter om in beginsel teen alle rassediskriminasie te wees. Dit is wat die UDF/ANC destyds verkondig het, maar nou geniet die swartes dit om teen die bruines en Asiers en veral teen die wittes te diskrimineer. Dieselfde skynheiligheid blyk op sportgebied. Die UDF/ANC het dit teen alle politieke inmenging in sport gehad. Deesdae vereis daardie selfde elemente raskwotas en die sing van hulle volkslied by sportbyeenkomste.

     

    Wittes, Asiers en bruines is etniese minderheidsgroepe, afgesien daarvan of hulle as nasionalistiese of bloot as sosiale of gemeenskapsgroepe getakseer word. Al drie word deur die talryker swartes verswelg. Dit was gewoon dwaasheid om, anders as in bv die VSA, geen minderheidsregte in die nuwe Suid-Afrika toe te laat nie. Dit word in vandag se koerant wreed beklemtoon in Jacob Zuma se uitlating gister in die parlement: "As deel van 'n minderheid het 'n mens minder regte" (Die Burger, 14 deser, p 2). 

     

    Johannes Comestor 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top