Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) deur André le Roux: ’n resensie

  • 0

Titel: Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)
Skrywer: André le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9-780798-176941

Dis bitter moeilik om elke maand ’n kort, maar sinvolle rubriek te skryf. Nog moeiliker om een uit te dink wat ’n glimlag, of selfs ’n haha-oomblik ontlok. André le Roux het dit vir ’n volle 18 jaar reggekry. Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) is ’n versameling van dié skrywer se laaste Sarie-rubrieke wat tussen 2009 en 2017 verskyn het.

Die verskillende hoofstuktitels wakker reeds die leeslus aan. Voorbeelde sluit in: “Hoe vrouer hoe mooier”; “Men buy, women shop”; “Waarom was ’n vrou ’n waslap?”; “*x@+&!” en “Waarom ’n man nie dokter toe gaan nie”.

As die titel jou aandag het, kan die inleiding dit behou. Of nie. Le Roux begryp dié beginsel. “Moderne agterryer” begin byvoorbeeld só: “Ongelukkig is daar nie ’n behoorlike Afrikaanse woord vir back-seat driver nie. In haar geval is dit iets soos ’n moderne agterryer, wat voor sit.” Of jy man of vrou is, jy sal met die meeste “kwessies” wat reeds in inleidings belig word, kan identifiseer.  

Die skrywer slaag ook daarin om elke keer ’n gevatte slot te skryf. Jy sal kopknik en glimlag, of dalk hardop lag. Veral vir die seksuele suggesties wat so gereeld voorkom. Le Roux sê wat hy bedoel, maar hy sê dit ook nie. “Stout” het immers perke in ’n vrouetydskrif.

Die rubrieke sluit by mekaar aan. Dié wat oor inkopies handel, is ’n voorbeeld. Daarom vorm die bundel ’n netjiese eenheid.

Le Roux is een van die enkele rubriekskrywers wat nie ekkerig skryf nie, maar eerder in die tweede persoon. Maklik is dit nie, maar dit werk goed. Soos hier: “Jy staan in die deur en maak ’n beweging. Jou sokkies gly op die vloer, maar jy behou balans ...” Sulke beskrywings kan op énige man van toepassing wees. Dis die idee. Daarby weet die leser deurgaans presies wie wanneer praat sonder die alewige “sê hy” of “sê sy”. 

Navorsing, ’n klein stukkie wetenskaplikheid nou en dan, verleen gravitas. Dié feite is boeiend en laat jou dikwels vra: Kan dit waar wees? Het jy geweet dat mooi vroue 16% meer kinders het as “sê maar minder mooi vroue. Jy weet, lelike eendjies?” Die meeste van daardie kinders is sowaar dogtertjies!

Aantrekkingskrag word geneties bepaal, is ’n ander feit. Uiteenlopende gene voorkom inteelt en sorg so dat kinders ’n sterker immuunstelsel het. Le Roux neem dié stelling verder wanneer hy (tong-in-die-kies) sê dat ’n man dalk ’n vrou kan verlei met woorde soos “Haai, wys my jou DNS, dan wys ek jou myne. A! kyk net, ons gene verskil hemelsbreed, kom ons vry en kry kinders met ’n goeie immuunstelsel om infeksies te bestry.” Oorspronklik! En ook skerp wanneer hy dinge vra soos hoekom ’n vrou G-strings dra. Die antwoord? Om haar rieme dun te sny!  

Le Roux speel inderdaad heerlik met taal. Wanneer ’n vrou weens erge hoofpyn haar man vra om “soontoe te lê”, kon sy net sowel prontuit nee gesê het, skryf hy. “... en nou lê jy daar afgehaal en nie oorgehaal nie. Kortgeknip. Ingekrimp. Al jou koerasie skielik sonder koers.” Hoeveel beplanning skuil nie ook agter hierdie paragraaf nie: “Sy dink iets, maar sê dit nie, dan dink sy sy het dit gesê, en dan sê sy jy het nie gedoen soos sy gedink het sy gesê het nie. Dan’s dit jou skuld.”

Die rubriek wat oor troetelname (vir mekaar) handel, bevat metafore soos dié: “Ja, party troetelname kan ’n mens eet of inlê, of in blompotte laat staan: Gousblom, Roosknop, Bloeisel of Blommie, wat nogal simpel is as iemand jou sou vra. Blommie hoort by Liewe Heksie, man.” In “Mense vir ete” vryf iemand weer die wynglase so blink “soos ’n someroggend”.  

Jy sal hard moet soek na iets om te kritiseer. Tog kan daar vroue wees wat seksisme in stellings soos dié een lees: “Dogtertjies vra baie meer vrae as seuntjies, dis hoe hulle vroeg al leer om onbruikbare inligting bymekaar te maak.” Daarby koek-’n-tee nie alle vroue (met hul vriendinne) nie. Sommige drink eerder wyn. Ander vervang hul eie gloeilampe. Nie alle vroue kyk ook sepies nie. (Al kyk die mans van dié wat wel kyk, soms saam.) Party verkies Netflix se dokumentêre programme.

Dalk kon die skrywer nuwe Afrikaanse woorde geskep het vir burping seal, post-purchase rationalisation, unsubscribe en ear cuffs. Met die Engelse woord tussen hakies aangedui. Maar dis nie so belangrik nie.

As jy met ’n glimlag wil gaan slaap en ook so wil opstaan, geniet elke aand een of twee rubrieke. Jy sal ná die lees van Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) jou lewensmaat, man óf vrou, veel beter verstaan. Dis tog ’n goeie rede om die bundel nader te trek. ’n Ander een is die skitterblink (humoristiese) skryfwerk. Maak gerus so!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top