Waarom kunsmuseums of waarom hoegenaamd kuns?

  • 5

Waarom het ons kunsmuseums nodig?

Dié vraag kry aandag by die eerste vergadering van die Filosofiekafee in die kafee van die nuutgemaakte Rupert-kunsmuseum, Stellenbosch.

Die Filosofiekafee, wat sy ontstaan al 20 jaar gelede in Pretoria gehad het, het nou ’n Stellenbosse instelling geword toe Lamé Ebersohn, die stigter, haar voltyds in Stellenbosch gevestig het. Dis ’n dink-en-vra-en-praat-kafee met gewilde onderwerpe wat aan bod kom.

Rondom die vraag “Waarom het ons kunsmuseums nodig?” het een van die land se voorste kenners van die kuratoriale, administratiewe en befondsingsaspekte van kunsmuseums, Marilyn Martin, as gesprekvoerder opgetree. Martin se pasgepubliseerde, magistrale boek, Between dreams and realities: a history of the South African National Gallery 1871–2017) handel juis oor die waarde, prestasies, probleme, politiek en kunskundigheid rondom die beroemde kunsmuseum, nou genoem Iziko, in die Kompanjiestuin, Kaapstad.

Maar eers duik vrae op soos: Waarom nog kuns? Kan die mens hoegenaamd sonder skoonheid lewe? Of sonder verbeelding? Of sonder die prikkeling om na ’n ander sfeer te beweeg? Die kunsmuseum het die plek geword waar meer mense kennis maak met die werk, verbeelding of optekening van ’n kunstenaar, ’n skepper.

Kuns verbeeld ook die mensdom se geskiedenis en die versugting na kuns, of uitbeelding. Martin haal die voorbeeld van die Blombos-kliptekening aan – stellig die oudste kunswerk van die mens (homo sapiens) wat nog gevind is, van byna 100 000 jaar gelede.     

Hoe nou gemaak met bestaande en toekomstige kuns gegewe die problematiek rondom die instelling van openbare of private museums? Martin is krities oor die staat se verantwoordelikheid teenoor openbare kunsmuseums.

“Politici kom nie na kunsuitstallings nie,” sê sy reguit. Sy is ook sinies oor die huidige gebruik om een staatsdepartement vir sport, kuns en kultuur te hê. Die “kafee” stem saam: Dis duidelik dat sport die voorgetrekte is; selde word kuns deur ’n minister bepleit, en die regering se geldelike ondersteuning aan openbare kunsmuseums is skraps, hoewel “transformasie” juis in hedendaagse kuns duidelike uitbeelding geniet.

Ook is Martin striemend oor die Fallist-beweging om kuns te vernietig of te verwyder.

Private kunsmuseums het hoofsaaklik ontstaan uit groot private versamelings soos die Rupert-kunsmuseum. Die Filosofiekafee vergader juis in die maand waarin die museum sy deure op ’n indrukwekkend “demokratiese” manier opgemaak het. Die huidige direkteur, Robyn-Leigh Cedras, noem dit die “museum sonder mure”. Die toeganklikheid daarvan vir letterlik almal word bewys deur die gratis toegang tot die museum. Ook die “Laaste Saterdag van die Maand”- aktiwiteit. Klasse, uitstallings, rondleidings, musiek word aangebied. Die museum is Sondae oop.

Die Filosofiekafee het die “kafeekultuur” ook benut vir die gesprek oor die waarde van so ’n verskynsel: toegang tot ’n groot, deurdagte versameling kuns wat gewoonlik deur een persoon, of ’n familie of ’n groepie byeengebring is en dit dan op ’n spesifieke plek vertoon.

Die totstandkoming van die MOCAA van Jochen Zeits in die Waterfront het ’n hupstoot aan sg private kunsmuseums gegee. By die Zeits, waar Afrikakuns die toonaard is, is daar gratis toegang op Woensdagoggende, en by die onlangs ingestelde Norval-kunsmuseum in Steenberg naby Kaapstad word gratis toegang op Maandae gebied.

Eersdaags sal die Javett-versameling in Pretoria ook geopen word.

Martin wys op die vryheid wat private museums het om van hul kuns te verkoop. Dit is nie iets wat in openbare museums geskied nie. Maar dan het private versamelings nie die hulpbronne van baie groot donateure of stigtings wat dikwels tot openbare museums bydra nie. Die insetkoste in ’n private museum sal selde deur ’n inkomste verhaal word.

Martin is krities oor die huidige beheer en instandhouding van Iziko. Sy self het die baie ondernemende direkteur, Raymund van Niekerk, vir wie sy besonder hoë agting het, opgevolg. Martin se termyn word steeds gesien as ’n dinamiese invloed en gebruik van die museum.

Nou wys sy ook op die algemene kritiek teen die afskeep van nasionale museums. Nie genoeg aandag word gegee aan klimaatbeheer, onderhoud of aansporing met spesiale kunsgeleenthede nie. Ook gebrekkige kuratoriale kennis en insigte pla ten opsigte van kunsuitstallings wat beplan en beoordeel moet word.

Martin verwys nie in haar gesprek na die publieke bohaai wat soms rondom ’n omstrede kunsuitstalling kan woed nie, maar in haar boek verwys sy na die ophef oor ’n uitstalling in 2016 getitel Our Lady. ’n Werk en foto van Zwelethu Mthethwa is daar getoon. Die bekende skilder was toe reeds aangekla van (en later skuldig bevind aan) die moord op ’n sekswerker, Nokuphila Kumalo. Weerstand van veral organisasies wat sekswerkerregte ondersteun het, het ernstig beswaar gemaak, klein proteste gehou. Ook is luide beswaar gemaak dat die tentoonstelling hoofsaaklik van die werk van mans was. So het kuns darem ook onder die gewone mens se aandag gekom en heelwat publieke kommentaar het gevolg.

Waarom kunsmuseums dus? Vir die mens om te kyk, nader te staan, te dink, te sien hoe tye verander, transformeer. Martin stel dit eenvoudig, direk.

In die museumkafee waar die gesprek plaasvind, is ’n groot klipmuur met San-rotskunsfigure daarop. Naasaan, in die kunssaal self, is daar ’n wyer, betowerende uitstalling van ou rotskuns. Anton Rupert het al in die sewentigerjare vir Richard Townley Johnson (destyds baie bekend as Ginger) opdrag gegee om ’n versameling rotskuns uit verskillende gebiede in Suid-Afrika na te spoor.

As die mens tóé al nie sonder kuns kon leef nie, hoe sal die mens vorentoe daarsonder kan leef?

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Dit is met 'n uiters kundige en beroepservare oog en hand dat Martie hier skryf.

    Ek het van agter in die lokaal só na haar gesit en kyk waar sy notas maak en gedink: waar is die dae van top-geslypte Afrikaanse joernaliste?

    Martie se skryfwerk vonkel na dekades steeds helder soos dié van 'n professioneel-geslypte diamant.

  • Avatar
    Nico M Ferreira

    Ek wou eers kommentaar lewer op "Die Filosofiekafee" wat nou 'n "Stellenbosse instelling" geword het - asof die kafee in Pretoria 'n stille dood gesterf het.
    Toe kom ek af op die laaste paragraaf hierbo wat oa verwys na "die betowerende uitstalling van ou rotskuns".
    Nou hoekom is ek onder die indruk dat NIEMAND rotskuns uit die natuur mag verwyder nie? Dit word selfs as 'n kriminele oortreding beskou.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Nico van Rensburg
    Ek skat Lamé Raubenheimer sal dankbaar wees om te hoor dié kafee in Pta is nog springlewendig en aan die gang.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    En oor Nico M Ferreira se sinspeling daarop dat die Rupert-museum moontlik onwettige rotskuns uitstal, kan 'n mens maar net hoop hy het intussen geleentheid gehad om die sandsteenrotsnavorser en -kunstenaar, Richard "Ginger" Townley Johnson (1911-1994), te gegoogle het.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Apologie: Ek het bedoel: Nico M Ferreira en nie Nico van Rensburg nie, wie se insette, soos ons weet, op 'n heel ander oktaaf lê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top