Waardering is ’n onderskatte juweel

  • 1

Ek het onlangs my Time To Think coaching- en fasiliteringsopleiding voltooi. Time To Think is ’n leierskapsontwikkelings- en afrigtingsonderneming en spesialiseer in ’n proses genaamd The Thinking Environment. Thinking Environment leer mense hoe om onafhanklike denke in hul organisasies, spanne en lewens te lewer en is die uitvloeisel van Nancy Kline se navorsing. Haar werk is gegrond op die feit dat die kwaliteit van alles wat ons doen, afhang van die kwaliteit van ons denke wat dit voorafgaan. Dus is die belangrikste vaardigheid wat ons dan kan opdoen, die vermoë om mense te help om vir hulself te dink. Haar navorsing en waarnemings het bewys dat die belangrikste faktor in die vermoë om goed vir onsself te kan dink, is hoe ons deur die mense rondom ons behandel word terwyl ons dink. Kline het tien beginsels identifiseer wat tot dusver die sterkste effek het om die beste onafhanklike denke by mense aan te wakker.

Ek maak sin van die denkomgewingbenadering as ’n manier van wees in die strewe na die beliggaming van die tien beginsels, naamlik: aandag; gelykheid; gemak; waardering: bemoediging; gevoelens; informasie; verskil; indringende vrae; plek.

Die beginsel wat vir my die meeste uitgestaan het op my leerreis, is waardering. Hier volg ’n paar wonderlike wetenskaplike feite oor die impak van waardering.

Wetenskaplikes het bewys dat opregte waardering onafhanklike denke in enige mens kweek. Die mens se brein het vier keer meer waardering as kritiek nodig om ons beste dinkwerk te kan doen. Waardering teenoor kritiek moet effektief in ’n vyf-tot-een-ratio bestaan. Dit is die neurowetenskap van waardering. Waardering lewer outomaties oksitosien op. Ons het oksitosien nodig om werklik vir onsself te kan dink. Oksitosien is ’n positiewe, gelukkige hormoon wat kortisol verminder. Kritiek lewer kortisol op, wat onafhanklike denke beperk. Die wêreld vertel ons voortdurend hoe ons beter kan lyk, wees en doen. Die wêreld is gevul met kritiek en nie naastenby genoeg waardering nie. Daarom voel ons so gereeld dat ons nie die vermoë het om vir ’n oomblik stil te staan en na te dink oor waarmee ons besig is nie. Ons het oorlewingsmodus as die norm begin aanvaar. Waardering is die magiese bestanddeel van ’n denkomgewing en ons is heeltemal afhanklik daarvan, selfs al besef ons dit nie. Die beste ding wat ons vir mekaar en ook vir onsself kan doen, is om opreg te waardeer.

When we appreciate each other, we think better.
When we think better, we love better.
When we love better, we live better.
And that is the point of it all, anyway. Isn’t it?
                                    (Nancy Kline, More time to think)

Sedert ek hierdie nuwe, bevrydende kennis oor die belangrikheid van opregte waardering opgedoen het, worstel ek om te sin te maak van die feit dat dit vir ons soveel meer natuurlik kom om onsself en ander te kritiseer eerder as te waardeer. Ek dink hierdie verskynsel mag dalk net die uitvloeisel wees van ons daaglikse oordosis kortisol wat ons as die norm begin aanvaar het. Ons beginpunt is gewoonlik dat ons nie goed genoeg is nie, dat ons onsself moet bewys en dat ons dán eers werklik suksesvol en gelukkig sal wees. Ons oortuig onsself dat ons dan sal kan glo ons is goed genoeg. Die web van negatiewe oortuigings en kritiek teenoor onsself (en ongelukkig ook ander) is reeds so styf gespan dat ons gekondisioneer is om aan te hou om onsself te oortuig dat ons nie goed genoeg is nie, selfs al bereik ons ons doelwitte. Ons is in ’n patroon om altyd die volgende ding te vind waarin ons kan verbeter.

Moet my nie verkeerd verstaan nie – gesonde ambisie is baie goed en nodig. Die ding is egter dat ons nie net gelukkiger mense is wanneer ons opreg waardeer word nie, maar dat waardering ook die sleutel tot sukses is. Die kwaliteit van alles wat ons doen, is ten volle afhanklik van die kwaliteit van ons denke wat dit vooraf gaan. Sonder opregte waardering kan ons nie die plek van optimale denke bereik nie. Dus is ons heeltemal afhanklik van waardering om die suksesvolste te wees wat ons moontlik kan wees.

So, wat staan my en jou te doen?

Waardeer vrylik en sonder huiwering, selfs al voel dit vreemd. Dit beteken dat as jy iets in iemand raaksien waarvan jy hou, wat jou inspireer of net ’n positiewe gevoel by jou ontlok: Spreek dit! Doen dit gereeld, met elke geleentheid wat jy kry. Ek is redelik seker daardie persoon, maak nie saak wie hy of sy is nie, het dit nodig. Die wonderlike ding is dat opregte waardering van ander ook opregte waardering vir jou sal beteken. Dis eenvoudig hoe dit werk. Opregte waardering kweek meer daarvan. Ek, jy en die wêreld het dit nodig. Nou meer as ooit. Kom laat ons die eerste rimpel in die water wees wat ’n positiewe golf van waardering tot gevolg kan hê.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top