
Ek kom net na vier weg uit ons Polokwane kantoor. Teen sesuur wil ek op Magoebaskloof wees. Maar om by dié rusplek uit te kom, moet jy ‘n berg klim. My sportsmodel is nie gemaak vir die klipperige styl bergpad, en moet jy met ‘n 4x4 daar na bo uitspin.
Ek is opgewonde. Dit is vakansietyd, en tyd om die stilte van die asemrowende berg, tussen sy kranse heen, waarvan die mistigheid soos watte om dit vou, op te soek. Ek en manlief het nog nie vir ons houthut daar opgesit, en moet die boswa maar eers sy kant bring. Die plan is om dit direk langs die watervalletjie, wat eintlik ‘n fontein is vanuit die berg, met sy koue suiwer water, op te slaan.

Ek wil bittergraag vroeg-vroeg, tydens wakkerwording, die gekabbel van die water hoor. Asook die sagte gekoer van die bosduiwe. ‘n Wonder-ondervinding van skoon lug en bloekombome wat hoog in die blou wasigheid regop troon, sodat jy duiselagtig word as jy opkyk om hul bopunte raak te sien.
Natuurlik sal ek beter fotos saambring. Dit is die plan. My kamera se battery is alreeds in die kragprop hier langs my, want daar is nie krag nie. Nog nie.
Daar, sal geen mense jou oorval vir afsprake, ek vat ook nie die rekenaar saam, snaaks genoeg ook nie my bybel. Dit is tyd vir rus. Algehele. Om net één te word met die natuur van die Skepper, en te weet dat dit jou EIE tyd is. Joune en Syne. Geen verantwoordelikhede, geen stadsgejaag, geen noodlottige ongelukke om op af te kom (soos gister) of die reuk van rooklug in te asem. Nee, op dié plaas is die lug superskoon en misvars in jou longe.

Daar is die pragtigste skoenlappers en tans hang die soet reuk van allerkleurvolste blommetjies. Ek kan nie wag om van al die verskillende soorte op te lees en dit te identifiseer. (Dié fotos hierbo was tydens vorige besoek met my sel geneem, vra verskoning indien onduidelik.) As jy mooi op die eerste foto kyk, sal jy die Magoebaskloof pad aan die oorkant sien. Hierdie pad kronkel soos ‘n slang om berg en krans.
Ek het gehoor daar is ‘n skaars soort pappegaai wat daar woon, ek meen dit is die African Parrot. Kan nie wag om hierdie fotos vir Hans hier op die Net te wys. Blykbaar maak hul nes in die reusagtige dooie bome wat soos geraamtes met hul arms hang tussen blaar-kompos-reuk en bloulug. Ons sal egter gelukkig wees om hul op foto vas te l?.
God kan praat in die stilte van die natuur, maar ook in die storm van die donder. ‘n Oorvol hart sal Hom hoor. Sag, liefdevol en duidelik.
Mag jy God se liefde rondom jou raaksien. Mag Hy jou met Sy vryheid en vrede seën tot ons weer praat.
Trienie
(Ns: Indien hierdie brief vir jou as leser iets beteken het, bewaar dit asb in jou hart. Kommentare hierna mag die haat vanaf die agnostikus toon, teenoor die dinge van God. Ignoreer dit asb. Liefde. Trienie)


Kommentaar
Trienie, wat laat jou dink "die agnostikus" sou belangstel om te reageer op hierdie brief van jou? Dit klink nie vir my of jy lieg oor enige iets.
God kan praat in die stilte van die natuur, maar ook in die storm van die donder. ‘n Oorvol hart sal Hom hoor. Sag, liefdevol en duidelik, skrywe Trienie en waarsku terselfdertyd " Kommentare hierna mag die haat vanaf die agnostikus toon, teenoor die dinge van God. Ignoreer dit asb". Die plaaslike obsessiewe agnostikus (of so was hy nog tot en met sy voorlaaste kommentaar) maak haas om veelseggend te reageer met 'wat laat jou dink "die agnostikus" sou belangstel om te reageer op hierdie brief van jou? Dit klink nie vir my of jy lieg oor enige iets'.
Uitstekend, Trienie! Lyk vir my jou geïnspireerde mooi benadering het die obsessiewe agnostikus se weerstand teen God en God se teenwoordigheid en betrokkenheid in en by die natuur en by die mens afgebreek en beskou hy daardie uiters belangrike mededeling, die Geestelike kruks van jou artikel, nie meer as 'n leuen nie! En hy sê so wrintie self so!
Of moet ons nie asem ophou nie... ons weet mos ook hoe hulle soort mantel swaai. Kom ons kyk wat maak hy daarmee. Sy eie ondubbelsinnige woorde is immers op rekord hierbo.
Kobus de Klerk
Trienie beskryf hoe sy die natuur ervaar, God wat met haar gesels. Ek, as ongelowige, ervaar die natuur heeltemal anders. Trienie se subjektiewe ervaring is presies dit, haar persoonlike ervaring. Watter reg het ek, en hoe vermetel sal dit wees omhierdie ervaring van haar 'n leun te noem? KdK, jy is besig om te blaf vir jou eie weerkaatsing!
Wat 'n power poging, Chris. Jou woorde is duidelik - in jou kommentaar het jy nie 'n woord gepraat oor haar sogenaamde subjektiewe benadering of belewenis nie, maar jy het dit duidelik gestel dat jy geen leuen in enige iets wat sy geskrywe het, kan sien nie - let wel, enige iets, insluitende dus God se betrokkenheid by die natuur ens.
Maar, soos ek sê, julle is manteldraaiers en onbetroubaar en inkonsekwent en onstabiel in wat julle kwytraak oor sake Gods - Jy en ander soos jy gaan doen baie moeite om te verkondig dat dit 'n leuen is om te sê God lewe!
As jy werklik staan by wat jy hierbo skrywe, behoort jy nooit weer 'n enkele negatiewe kommentaar te lewer oor enigiets wat enige van ons gelowiges oor God en Sy Woord skrywe nie - want tot dusver het jy presies die teenoorgestelde gedoen as wat jy nou probeer predik. Jy is in die hoek met jou eie uitlating en het jouself vasgepraat.
Kom ons kyk of jy betroubaar is - alles wat ons as gelowiges hier skrywe oor sake Gods, is ons belewenis - dus, volgens jou eie nuwe credo, sal dit vermetel van jou wees om hierdie ervaring van ons 'n leun te noem of dit selfs te hanteer asof dit 'n leuen is.
Ons sal jou integriteit en betroubaarheid op jou eie woord dophou. In die verlede het dit geen goeie vrug opgelewer nie.
Kobus de Klerk
Dag Chris,
as jy daarvoor kyk sal jy dit raaksien.Die Christene sal jou nie eindeloos beledig en uitkryt nie. Dit is die mense wie die Tanakh ken en die woorde van Messias glo. Maar hulle is min.
Aan die ander kant is die groot getalle wat basuin dat hulle "verlos" is van die "ou testament" ens ens ens. Dis die Paulistyne. Hulle het hul totale glo-sisteem op die woorde van die Turks-gebore Saul gebou en hulle weier om raak te sien dat hy nooit 'n apostel was nie. Hierdie Turk het selfs die leiers van die ware apostels beledig en na hulle verwys as "kastige " leiers en hy het rondborstig loop en spog dat hy niks by enigiemand geleer het nie. Die ware apostel is deur Messias uitgesoek en vir meer as drie jaar het hulle by Hom geleer.
Sê maar net, as jy soms wonder hoekom party is soos hulle is en ander weer is soos hulle is.
Shalom
Duitswester
KdK, mens moet elke keer vir jou 'n prentjie teken voor jy verstaan: Ek kan enige stelling maak en dit doen sonder om te lieg. Ek mag miskien regtig glo dat die mannetjie op die maan groen is. As ek dan sê dat die mannetjie op die maan groen is, is ek nie besig om te lieg nie, ek is net heeltemal verkeerd.
Die ou grote Kobus de Klerk (soos hy graag ook na homself verwys), braak elders die volgende: "En met hoogmoed het dit niks te make nie - wel met 'n wyse en opgevoede keuse om onsself nie spiritueel te bevuil om in die spreekwoordelike varkmis te gaan ploeter saam met julle, sodat die brommers julle toesak, soos ons hier sien gebeur, nie."
Ek is dankbaar en bly om in GOD se genade en liefde, te weet dat wyl 'n farisese godsdiensboef soos Kobus de Klerk homself as te HOOG ag om saam met die sondaars, "agnoste", asook ander nederige kinders van die HERE wat hulle nie eer nie "bevuil en in varkmis te gaan ploeter" - GOD immers NEERGEDAAL het uit die HEMEL tot af na die HEL, en as 'n mens in 'n stal vir ons ALMAL se saligheid gebore is.
Anders as onse HERE, beskou Kobus de Klerk, en sy ware gelowige meelopers soos Trienie Mahne, hulself VERHEWE bokant mense wat nie voor hulle buig nie - ook nes die Fariseërs en skrifgeleerdes van ouds.
Dis absoluut skreiend om te lees, hoe veral Kobus de Klerk nou selfs nou hul ervaring van die Skepping, groter as enige ander deur God se Skepsels ag.
Ja, hulle doen duidelik al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die vergadering en die begroetings op die markte en om deur die mense as "spiritueel intelligent" oor "sake Gods" beskou te word...
Maar so spreek onse HERE - ...die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die Hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie... Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self... Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid... Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid... Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? (uit Mattheüs 23)
Dis genade om te weet dat ons almal se Almagtige Lewende Skepper, 'n persoonlike verhouding met elke hart op aarde het - ook met sondaars, "agnoste", en elke ander wat nie voor hierdie hooghartige godsdiensboewe buig nie.
Onse HERE se son, maan, en sterre skyn ewe veel oor ons almal, en die prag van God se Skepping, bekoor so elke hart op aarde ewe veel...
Mag Jesus Christus onse HERE, ons verlos van die helse hooghartigheid van 'n Kobus de Klerk, asook dié van al sy meelopers onder 'n dekmantel van Christelikheid; adders...
Namaste!
Cornelius
Hello Duitswester
Ek het nog altyd vermoed dat jy 'n baie interessante benadering tot Christenskap het. Ek sal regtig meer wil weet van hierdie minder as vleiende beeld van Paulus waarna jy verwys. Kan jy my 'n bietjie meer vertel of ten minste verwys na bronne waar ek meer hieroor kan lees.
Jy sien, my siening is heeltemal andersom as joune. Ek beskou omtrent alles in die Nuwe Testament, behalwe die Evangelies en Handelinge, as van die vroegste sienings oor wie Jesus was, 'n beskrywing van 'n wese wat bestaan in 'n spirituele, nie-aardse wêreld, soos "geopenbaar" in die Ou Testament volgens die 'pesher' tegniek van interpretasie, soos ek verstaan, aan mense soos Paulus. Die Evangelies verteenwoordig 'n fase van Christendom waar hierdie Jesus gehistoriseer word as 'n figuur wat fisies op aarde geloop het.
Omdat ek dink dat die Evangelies eers geskryf is aan die einde en begin van die eerste eeu, beskou ek die aardse bestaan van Jesus as 'n latere, en minder oorspronklike weergawe van Christendom. Maw, dat die historiese Jesus nie gevind kan word in Christen geskrifte van die eerste eeu. Ek is nie een honderd persent oortuig daarvan dat Jesus nooit bestaan het op aarde nie, maar vind die argumente vir Jesus as 'n mitologiese figuur baie oortuigend. Wat ookal die geval is, die ortodokse en fundamentele siening van wie hy was het groot probleme, en om te maak, soos 'n KdK, asof dit nie so is nie, is onuithoudbaar.
Laat weet as jy belangstel om verder oor die onderwerp te gesels. Daar moet maniere wees vir gelowiges en ongelowiges om te kan praat, ten spyte van die KdKs van die wêreld. Na 'n ruk is daar min anders te doen as om sulke ouens staan te maak voor 'n spieël.
Chris
Ns. Trienie, jammer dat ek jou spasie so gekaap het. Miskien sal dit beter wees as jou volgende bydrae is sonder die "uitlokkende" naskrif.
Chris
Trienie het God se betrokkenheid in en by die natuur as 'n positiewe feit gestel net soos sy al die ander feite gestel het - en nie net as 'n persoonlike siening, soos sommige van die ander dinge wat sy ook noem, nie en jy het in soveel woorde bevestig dat jy dit nie as 'n leuen sien, nie - deur die gebruik van die woorde 'enige iets'. Dit gaan oor wat jy as objektiewe waarheid en leuen beskou en het nog altyd in alle gesprekke met jou.
Jy het jouself dus vasgepraat (nie dat die erkenning daarvan dat God leef en betrokke is in die natuur, enigsins negatief kan wees, nie, maar inderdaad baie positief). Jou pogings om jou uit jou eie uitlating te probeer bevry, is 'n aanklag teen jou eie integriteit, net soos ek verwag het, sal gebeur.
Kobus de Klerk
KdK, op 'n tegniese punt het jy dit miskien reg gekry om die saak uit die hof gegooi te kry. Jy het my woorde verdraai en beskou dit as 'n oorwinning...pateties!
Watter hof? Wat sukkel jy so melodramaties voort?
Jou woorde verdraai? Wat makeer jou, Chris? Dink jy mense kan nie lees wat jy skrywe nie? Ek haal jou verbatim aan en ek herinner jou aan wat dit wat jy in soveel woorde gesê het, en ek wys ook uit dat dit voorspelbaar sou wees dat jy jou daaruit sou probeer wurm, soos wat toe inderdaad gebeur.
Vir jou, in die omstandighede, moet die skade maar rus waar dit geval het. Julle is maar net nie opgewasse teen die Waarheid nie.
Kobus de Klerk
KdK, jy trek nou al by 'n argument oor die argument oor die argument, en dring steeds daarop aan om te verwys na 'Waarheid' met 'n hoofletter. Met jou en Trienie se egos aan flarde besef meeste van ons dat dit hier gaan oor julle Ego, nie die Waarheid nie. Julle het julle kans gehad om dinge reg te maak, of ten minste 'waarheid' met 'n kleinletter te herstel, maar julle het julle kans laat verbygaan.
Miskien sal dit goed wees as jy en Trienie begin agterkom dat om nie te lieg of kak te praat die eerste stap is na 'n gesonde ego.
Ek vind hierdie gesprek oor jou Ego, wat jy probeer optooi as een oor geloof, uiters vervelig.
"julle kans laat verbygaan" hierbo is iemand anders se keuse. Die woord wat ek gebruik het was kras, maar ek dink gepas. Hier is 'n leidraad: die woord begin met 'opgef' en eindig met 'ok'.
Kyk nou net so 'n poging van jou, Chris. Jy is darem baie desperaat. Die lessie wat daar vir jou te leer was, probeer jy nou op ons projekteer, ongeag hoe maklik mens dit kan agterkom.
Maar ongeag, jy het jouself maar net weereens as een sonder integriteit bewys en jy is uitgevang daarmee. Hoe jy ookal spartel, draai jy jouself net vaster.
Dit is vir jou of enige van julle, of enige kombinasie van julle, nie beskore om ons 'ego' op enige wyse 'aan flarde' te kry nie. Jy dink weliswaar aan jou eie posisie. Vir jou inligting - ware gelowiges soos wie jy hier en elders teëkom, het nie ego's wat so in die pad staan van 'n sinvolle verhouding met die HERE nie - jy sien, ons verloën ons eie karnale ego's sodat ons kan floreer in die teenwoordigheid van die Woord en die Heilige Gees van God, die HERE.
En nou ja, die teenwoordigheid van die Woord en Gees is natuurlik fenomenaal en opmerklik by enige ware gelowige - en dit is juis ook daardie aspek wat julle nie kan begryp nie en wat vir julle daarom so tot aanstoot is.
Maar helaas, dit kwessie sal jy ook nie onder die knie kan kry nie - dit is geheel en al bokant jou begripsvermoë as agnostikus vir wie die ego die sentrum van sy bestaan is.
Kobus de Klerk
Al wat nou nog kort is Trienie se prysing van haar jakkals se stert. Wat dink jy, KdK, is Trienie se ondersteuning vir jou laaste sarsie woordpasteie nie effens flou nie? Kan dit wees dat sy dalk nie jou inmenging heeltemal so baie waardeer as wat jy dalk dink nie?