Waar rats die ribbok gaan ... saamgestel deur Sarel Venter: ’n resensie

  • 3

Waar rats die ribbok gaan ... Briewe van Elsabe Steenberg
Samesteller: Sarel Venter
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316902

Die titel van hierdie versameling briewe is ontleen aan ’n teks in die Bybelboek Habakuk (hoofstuk 3) en beeld die skryfster Elsabe Steenberg se hunkering uit na beweeglikheid waarvan sy gaandeweg deur veelvuldige sklerose beroof is. Die boek is ’n hartroerend eerlike kroniek van ’n skrywende ma en haar lang stryd teen hierdie aftakelende siekte, hoewel sy ook ’n boek, Twee hang bo die pad, vier loop op die mat, oor die lewe in ’n rolstoel geskryf het.

’n Mens kan seker sê die boek het sigself geskryf, omdat die briewe van Elsabe aan haar boesemvriendin, Liesbeth Venter, in ’n skoendoos in hul huis “ontdek” is. Tog het die ontvanger se man, Sarel Venter, die briewe met ’n baie sensitiewe aanslag georden, in dekades ingedeel en van verhelderende kommentaar en agtergrondfeite voorsien.

Steenberg bekla haar lot onbevange, soos wat ’n mens doen teenoor jou vriendin met wie jy ’n “vriendskap soos ’n ou pantoffel het”, maar elke klagte word opgevolg met ’n stuk geloof dat dit vorentoe beter sal gaan. Die Steenbergs gryp deur die jare elke strooihalm aan, van konvensionele behandeling met kortisoon en ’n dieet sonder koolhidrate tot ensieme, serums, magnetiese bestraling, osoon, skerpioengif en geloofsgenesing. Telkens bou Elsabe haar hoop op ’n strooihalm wat ’n geloofsdaad word en haar, ondanks mislukking, met insig teen die volgende teleurstelling versterk.

Sy deel haar ontreddering ná ’n miskraam, maar ook haar trots op haar groeiende kroos. Sy noem haar jongste “’n soet dierasie” en later deel sy haar kommer oor seuns wat grootword en dalk grensdiens moet doen.

Terwyl beweging al moeiliker word, skryf sy: “Daaroor beklei ek fel Boontoe: moet ek nou hóé oud word omdat dié hel net martel en nie dood nie? En tog steeds weer ’n duidelike ervaring van genade, en ’n spesiale engel wat betig en laat lag.”          

Elsabe Steenberg moes haar kreatiewe lewe nie net met die liefdesdiens aan haar gesin en gemeenskap balanseer nie, maar ook met die “gog”, soos sy haar siekte genoem het. Humor en treffende beelde in die gang van gewone lewensfases te midde van lyding dra tot die leesgenot by. Sy vertel hoe duur en moeitevol die sere aan haar voete behandel word en dat die mediese raad amputasie is, maar merk op: “Maar sover skop (!) ek nog vas.”

Haar opmerkings oor haar broer André (P Brink) is kostelik. As skrywer was hy meer beroemd, maar het ná haar gedebuteer en uiteindelik opslae gemaak met sy boeke, waarvan sommige verban is, en sy vyf huwelike. Sy verwys na sy fokus op die seksuele en haal dan “iemand” aan wat gesê het “dis goed om die taboes bietjie lig te gee, maar is dit nodig om daar in vloedlig op te fokus?” Sy lewer kritiek op Kennis van die aand (1973) as sou “dit soveel aangrypender en eerliker tot ’n mens gespreek het as dit met minder opsetlikheid en fanfare aangebied is”. Sy haal Dawie, haar man, wat ook ’n letterkundige was, se tong-in-die-kies kommentaar aan: “Dis regtig ’n indringende werk; die hoofkarakter dring in ál die vrouens in ... as jy die banaliteit sal vergewe.”

Ironieë bly ook nie uit nie. Só skryf Elsabe in 1973 aan haar vriendin wat, net soos sy, pas 35 geword het: “Nou’s ons mooi in die helfte van ons uitgemete ‘three score and ten’, en ek het so ’n nare suspisie dat die jare vinniger omgaan as ’n mens ouer word.” Twaalf jaar voordat sy haar uitgemete 70 jaar bereik het, was haar lyding en haar lewe verby, maar haar invloed nog lank nie. Nege jaar voor haar dood (op 58 jaar) skryf sy oor ’n voorgenome operasie vir haar pa op byna 82:

Ek hoop só ek kan my huidige insig behou as ek self oud is: om nie die
lewe te wil verleng asof dit nou waarlik nét oor dié lewe gaan nie. Hoe’t
Gemanicus gesê: - “[M]oet ek klein wees, kleiner as wat ek sien, om dié
geskenk te hou?” Seker maklik om te praat as dit nie jyself is nie. Of is dit?
Dalk het swaarkry my beter voorberei op dinge soos die dood.

Hierdie intieme kykie in die hart van ’n talentvolle skrywer en akademikus voel byna wederregtelik. Die Venters, wat die verrykende moontlikhede van Steenberg se briewe vir Afrikaanse aanhangers van haar kinder- en jeuglektuur raakgesien het, verdien lof. So ook haar kollega van die Noordwes-Universiteit, Betsie van der Westhuizen, wat haar werk uitvoerig bestudeer het en ’n epiloog tot die boek bygedra het. Daar is ’n voorwoord deur Liesbeth Venter en huldeblyke deur ’n voormalige student, haar jongste dogter Erika, wat Elsabe as vriendin in hierdie briewe herontmoet het, en deur André Brink. ’n Bydrae agterin deur ’n kleindogter wys dat sy haar ouma se skryftalent geërf het. Die meisie beskryf hoe haar pa, die Steenbergs se oudste seun Adri, wat as’t ware voor die leser se oë grootword, in 2008 deur rowers vermoor is. 

Benewens die paar foutjies wat weer eens wys dat die drukkersduiwel aktief bly in die elektroniese era, is Elsabe se laaste brief met haar eie foute onveranderd gelaat. Die onderliggende patos wat daaruit spreek, is ’n effektiewe aanduiding van hoe vinnig sy kort voor haar afsterwe in 1996 verswak het, maar steeds die hoop behou het dat “iets dit moontlik sal maak om aan te hou en steeds te glo dat alles goed sal word”. Vir hierdie fyn mens het die aanhaling voor in ’n Graham Greene-boek baie beteken: “Man has places in his heart which do not yet exist, and into them enters suffering in order that they may have existence.”

Die boek is ’n aanwins vir memoirliefhebbers in die besonder en vir die Afrikaanse letterkunde in die algemeen. ’n Mens kan jou net onwillekeurig bekommer oor hoe lank daar nog sulke vondste op solders en in spaarkamerkaste gevind sal word wat lig kan werp op beroemdes en bekendes se lewens. Ek kan my nie indink dat e-posse so lank en goed behoue sal bly nie.

  • 3

Kommentaar

  • Grootste waardering vir hierdie wonderlike en vriendelike beoordeling van my (ons) boek. Baie dankie, Elkarien Fourie. Nadat ons jou besonderse boek oor Sjina gelees het, het ons 'n eksemplaar gaan koop vir ons skoondogter, Rietie Venter, wat saam met haar gesin (in Australië) ook Sjina besoek het. 'n Heerlike leeservaring wag op hulle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top