
Foto: Christine Sponchia | Pixabay
Waar onthou begin
Connie Luyt
Penguin Random House
ISBN: 9781485904465
Connie Luyt se agtste roman, Waar onthou begin, het pas verskyn. Sy het ook verskeie kortverhale op haar kerfstok, en twee van haar boeke, Lang skaduwees oor Afrika en Reën oor die Serengeti, is vir ’n ATKV-veertjie benoem en ook in Nederlands vertaal.
Die teks op die agterblad van Waar onthou begin lui as volg: “Toe Elfrieda ná ’n lang koma uiteindelik haar oë oopmaak, is haar kop leeg. Angs pak haar toe sy in ’n Durbanse hospitaal besef sy kan niks van haar verlede onthou ná sy voor ’n motor ingehardloop het nie.
“’n Terloopse opmerking deur Michael, die neuropsigiater wat na haar omsien, bring ’n flits herinnering: Voor haar sien sy ’n vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary. Met behulp van Michael begin Elfrieda stadig die legkaartstukkies van haar geheue aanmekaar sit.
“Maar die onthou bring seer: Soos die herlewing van die tragedie van haar pa se ongeluk tydens ’n vakansie by die see en haar ma se kille verwyt en woede daarna.
“Elfie se pad na vergifnis en vrede verby die skok en ontsetting van onthou is lank.”
Saam met haar storie loop die grootliks onbekende storie van Mary Livingstone, wie se lewe skaars ’n fluistering in die geskiedenis was. Haar lyding word oorskadu deur haar man, David, se ontdekkingsreise en heldeverering in Engeland. Dele van haar lewe word as aparte storie vertel, maar die oomblik van oorvleueling met dié van Elfie en haar verhaal is verrassend en onverwags.
Connie Luyt se boek is een pragtige beskrywing na die ander. Dis nou behalwe die vervlegte storielyn, wat beslis nie maanskyn en rose is nie. Sy skram nie weg van die donker kant van die lewe nie: hoe hard mense kan wees wat bedreig voel, wat skade berokken is, wat seer het. Daar is geen tekort aan trane en verwyt en verlore tyd nie. En die maande wat sy met geheueverlies in die hospitaal lê, dra by tot daardie wanhopige gevoel van tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie: “Asof ’n duisend voëls in my brein losgelaat word, oorval die kennis my ... Ek druk my palms teen my slape, want dit voel of my kop gaan oopbars.”
Hoewel ek geen kennis het van geheueverlies nie, kan ek as’t ware hierdie deurborende pyn saam met haar voel.
Haar beskrywing van haar jaar van antidepressante drink, wat alles laat “kom en gaan sonder dat ek emosioneel daaroor raak. Alles bly kleurloos, skakerings van grys”, eggo die woorde van soveel vriende wat ook elke dag ’n pil moet sluk.
Op LitNet word Connie beskryf as iemand wat “al baie jare in ’n huis vol boeke en ’n tuin vol bome in Pretoria [woon]. Geskiedenis en mense is lewenslank haar groot belangstellings.”
Bome en plante speel hier ook ’n rol. Die beskrywings van die blaarlose witstinkhoutboom waaronder sy haarself leeg gehuil het, is pragtig: “die lenteson spikkel deur die groen-groen blare van bome ... die geur van jasmyn hang om ons”.
Kyk ook na die pilare met die bougainvillea by die plaas-ingang, die enorme boom wat oor Michael se huis waak en ’n skaduwee gooi ook oor ’n deel van die kothuis; hoe die perd behendig deur die bome vleg toe sy bedreig voel. Let op hoe sy vir haar ma rose plant. Dit skep prentjies in jou kop. Dit maak die omgewings bekend, vul jou neus met die reuk van natgereënde grond; seelug; jasmyn; vroegoggend dou.
Maar net so effektief is haar sombere beskrywings: “Eers daarna het ek verstaan dat blou ook ’n emosie is. Ek het nooit geweet hartseer het ’n reuk nie, maar die kamer is vol daarvan.” Ek voel sommer hoe die emosies dik word in my keel en my bors laat brand.
Die storielyn is onvoorspelbaar, interessant en geensins langdradig nie. Daar is genoeg agtergrond om jou die geheelbeeld te gee sonder om te lank te sloer. Die storie vloei soos ’n sterk rivierstroom en soms wil jy op die kant uitklim en vir ’n ruk net in die sonnetjie bak terwyl die woorde insink, in jou binneste maal en kolk, voor jy weer kan sterk staan vir die volgende hoofstuk.
Ek hou van die gereelde verwysing na die veertjies wat sy langs die pad optel, en aan die einde van die boek waar sy noem van die houertjie waarin haar vereversameling is, besef jy die simboliek én uit hoeveel veertjies ons almal se ondervindinge saamgestel is.
Die boek het my ure se leesgenot verskaf. Ek wou dit nie afjaag nie, resensie of te not. Daar is die lekkerlees en romanse waarvoor jy lief geraak het in boeke van Ena Murray, Tryna du Toit of Ettie Bierman, waar die heldin ’n klein jong bokkie met groot, sagte oë is en deur die aantreklike jong dokter/boer/fotograaf van haar voete geslaan word, maar waar liefde nie so maklik en eenvoudig is nie.
Maar daar is ’n duidelike liefde vir geskiedenis; vir woorde en beskrywings; vir die mens se innerlike stryd, van selfverwyt en vertwyfeling, wat die storie baie dieper lae gee, of jaarringe, soos sy daarna verwys. Dis pitkos en insig wat jou lank bybly.
Ek hoop nie daar moet weer sewe jaar verloop voor ons weer iets uit haar pen kan lees nie.


Kommentaar
Dankie vir jou mooi resensie Maryke, dit het my dag laat sprankel!