Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag deur Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht en Marleen Visser: ’n lesersindruk

  • 2

Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag
Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht, Marleen Visser

Tafelberg
ISBN: 9780624090809

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Waar kom ons vandaan?, pryk dit op die voorblad, met die res van die titel in klein skrif daaronder. Met so ’n titel verwag jy amper ’n prentjie van ’n ooievaar wat jou tienerjare in herinneringe roep, met titels soos “Wat seuns wil weet”. Maar nee, dit gaan hier nie oor die individu nie. Dit gaan hier oor ons spesie, homo sapien sapien, en sommer oor al die ander spesies ook. Die ganse fauna en flora.

Hierdie vraag, die een van waar ons vandaan kom, is baie oud. Verskillende mense het oor die millenniums verskillende antwoorde aangebied. Vir die grootste deel van die mens se opgetekende bestaan is die oorsprong van mens, plant en dier toegeskryf aan die bonatuurlike ingryping van ons gode, elkeen na ons eie kultuur en tradisie. Maar mettertyd het die stories oor gode net nie meer geklop nie. Met elke gaping wat die wetenskap vul, verdwyn die hand van God stelselmatig.

So bestaan daar dan ook ’n reusetekort aan sekulêre kinderboeke in Afrikaans. Boeke wat vir jongmense die verhaal van die oorsprong van ons planeet en ons spesie in eenvoudige en toeganklike taal vertel. En nou is dit ook so dat ek sowat 20 jaar gelede op skool laas in die natuurwetenskappe onderrig is. En sedert daardie jare het daar ook al heelwat dinge verander. Die atoommodel van desjare staan vandag glo nie meer op presies sulke vaste fondasies nie, danksy al die nuwe navorsing wat veral deur die Europese kernnavorsingsraad in Switserland gedoen word, so het ek al gelees. Tog word dieselfde ou basiese model steeds gereeld gebruik om die basiese begrippe oor te dra. Wat die evolusie van ons spesie betref, het wetenskaplikes egter skouspelagtige kennisspronge die afgelope drie dekades gemaak. Dit wat wetenskaplikes vermoed het aan die begin van my lewe ten opsigte van menslike evolusie, is vandag in baie opsigte met nuwe insigte vervang. Die soektog na die oorsprong van die kosmos en lewe op aarde is egter nog ver van voltooi, en opwindende ontdekkinge wag nog op die opkomende generasies. Dan is daar ook nog geologie, die sterrekunde en die kosmologie. Ook in dié dissiplines geld die basiese vertrekpunte soos die oerknal steeds, soos wat die evolusieleer se basiese leer, naamlik dat die mens uit ouer spesies ontwikkel het, die biologiese wetenskappe se fondasie bly.

Hierdie kennis syfer egter steeds nie vinnig genoeg deur na ons jongmense nie. ’n Mens sou dink dat 30 jaar na die einde van ons isolasie weens apartheid, waar mense se lewens deur die kerk en staat regeer was, ons darem nou al lankal by die punt moes gewees het waar die kennis van die natuurwetenskappe al algemeen aanvaar word. Tog is dit nie aldag die geval nie. Selfs die meeste Bybelwetenskaplikes aanvaar vandag dat die skeppingsverhale in antieke godsdienstige geskrifte nie feitelike waarhede is nie, maar dit is asof hierdie algemeen-aanvaarde kennis nie aldag lekker deursyfer na die gemiddelde mens op straat nie. Om hierdie redes is dit so belangrik dat boeke soos hierdie die lig sien. Die boek is ryklik voorsien van illustrasies. Dit vertel die verhaal van ons heelal vanaf die oerknal sowat 14 miljard jaar gelede, deur die kontinentale skuiwing en uiteindelik die evolusie van die spesies.

’n Heel verfrissende eienskap van hierdie boek is dat dit nie net terugkyk in die verlede van ons heelal, ons planeet en ons spesie nie, maar daar word ook vorentoe gekyk, die toekoms in. Die skrywers eindig hulle boek met die waarskuwing dat die mensdom diep, diep in die moeilikheid is. Ons spesie vermeerder te vinnig en ons is besig om ons natuurlike hulpbronne uit te put. Daar word vervolgens twee versugtinge uitgespreek. Die een is die hoop op “slim” politici, en die tweede is die hoop op “slim” wetenskaplikes (bl 108) wat die uitdagings van die toekoms vir ons spesie met wysheid en toewyding sal kan bestuur. Vir laasgenoemde (die slim wetenskaplikes) het ek self ook darem nog ’n bietjie hoop, maar die politiek is ongelukkig geneig om die onguurste van ongure karakters te lok …

Tereg waarsku Engelbrecht en Engelbrecht dus die opkomende generasies: “Vir jou lê daar voorwaar ’n uitdagende toekoms voor. Die wêreld waarin jy as volwassene gaan leef, kan baie anders lyk as vandag” (109).

Die wêreld sal verander, ja, dit glo ek ook. Maar moenie te veel verwagtinge koester oor die politiek nie. Politici sal politici bly.

Waar kom ons vandaan? is ’n boek wat eintlik bedoel is vir jongmense, maar ek het net so lekker aan die boek gelees, en beveel dit dus aan vir enige persoon wat in die onderwerp belangstel. ’n Mens kan maar net die hoop uitspreek dat die boek wyd en syd gelees sal word en dat veral die jongklomp die inhoud daarvan ter harte sal neem.

  • 2

Kommentaar

  • In hierdie resensie verskyn die sin, "Met elke gaping wat die wetenskap vul, verdwyn die hand van God stelselmatig". Daar word later verwys na dié: "Selfs die meeste Bybelwetenskaplikes aanvaar vandag dat die skeppingsverhale in antieke godsdienstige geskrifte nie feitelike waarhede is nie …" Dit wil daarop dui dat daar 'n gaping tussen die Bybel as Gods Woord en die moderne wetenskap bestaan; iets wat nie noodwendig so hoef te wees nie.

    Daarom, indien ons dit as 'n feit kan aanvaar dat ons en alles, ook die 'fauna en flora' waaroor die boek handel, régtig bestaan en die begin lê nie letterlik by die eerste verse in Genesis nie, dan moet ons met bestaande kennis aanvaar ons begin lê by die oerknal.

    Hawking en sy vriende reken hulle kan die oerknal wetenskaplik beskryf, maar éérs ná iets soos 10 tot die mag -43 sekonde verloop het. Of hulle korrek is sal ons nie weet nie, maar in daardie blitsige kort tydjie is daar iets begin, vas geformuleer, wat ons ná sowat 14 miljard jaar by vandag se wonderlike heelal gebring het.

    Wat in daardie kort tydjie vasgelê is, bring mee dat water sy grootste digtheid by 4 grade C bokant vriespunt bereik, anders kon daar nie gevorderde lewe in mere, riviere of selfs die see bestaan het nie. Daardie eienskap is in daardie eerste vlietende breukdeel van 'n sekonde reeds voorsien, laaank voordat die eerste sterrenewel gevorm het of voordat die eerste landdier uit die see geklim het om beter lewensomstandighede op te soek. Water se digtheid is net een van vele eienskappe in die natuur wat presies net die regte waarde het om die heelal en wat daarin is, ons inkluis, se bestaan soos ons dit ken moontlik te maak. Dat alles om ons én ons self ook 'n oorsprong het in 'n oombliklike vrystelling van ongelooflik baie suiwer energie, maar wat reeds die presiese voorskrif bevat om te beskryf hoe waterstof- en suurstofatome sal lyk en hoe hulle verbinding sal optree om ons bestaan moontlik te maak, is letterlik 'n wonder.

    Hierdie is nie oorspronklike insigte nie – so ook nie hierdie vraag in reaksie op die stelling hierbo nie: Dien elke nuwe deurbraak wat ons kennis van die natuur in sy wydste bestek verbreed, ons self ingesluit, nie eerder as bevestiging van God se skeppingshand nie?

    Ek wil glo dat met so 'n insig as vertrekpunt die boek wyer inslag mag vind en vir vele lesers 'n belangrike bydrae ook tot versterking van geloof kan maak.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dankie Daan.

    Ek neem aan die God wat jy van praat, is jou God. Nie een van al die duisende ander gode wat deur die mensdom gekonseptualiseer was nie. Hulle is almal vals en verkeerd. Net jou God is die korrekte een.

    Wat myself betref, die godsdiens waarmee ek grootgeword het, is nie daartoe in staat om konsensus te kan bereik oor eenvoudige dinge soos homoseksualiteit of 'n vrou op die kansel nie. Selfs nie eens of babatjies besprinkel of onderdompel moet worre nie. Maar vir een of ander rede weet hulle skynbaar presies hoe die heelal ontstaan het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top