Waar is ons manlike amateurbakkers?

  • 0

 

Suurdeegversorging is ’n ware teken van toewyding wat joernalis Clifford Roberts en ’n paar van sy manlike vriende toon. Hy wonder egter of hulle werklik só in die minderheid is as wat die tweede seisoen van die televisiereeks Koekedoor weerspieël.

Die opvolgseisoen van Koekedoor, kykNET se realiteitsbakkompetisie, het op 14 April met 10 nuwe bakkers afgeskop. Vir ywerige kykers van kookprogramme wat sommer gou-gou hul gunstelinge al van die eerste episode af gekies het, is dit beslis nie meer nuus nie.

Dit gaan hier oor amateurbakkers wat deur 13 episodes mekaar die stryd aansê, en ons wat agter ons skerms die emosionele mallemeule ry soos die verhaal ontvou.

Soos dit gaan, lê die opwinding van hierdie tipe programme juis daarin dat die kompetisie in jou eie sitkamer uitspeel. Wie is die beste; wie gaan wen? Het die een met die groot persoonlikheid ’n kans of is daar ’n kampioen wat eers later sy of haar ware kleure sal wys? Hóé het sy dít gemaak? O gonna! Gaan daai resep uitwerk – dit voorspel nou eerder ’n ramp!

Een ding van die nuwe seisoen wat noukeurige kykers sou opval, is die teenwoordigheid van net een haan onder die henne. Wessels, die Kaapse balju, het sommer gou onder die deelnemers uitgestaan en vir meer as bloot die stoppels op sy ken. Hoe kan dit wees in ’n land waar elke man by ’n braai – tot die frustrasie van die hoofbraaier – ’n opinie oor ander se kookvernuf het? En wat van die manlike-tuiskok-revolusie wat deur TV-bekendes soos Keith Floyd van die 1980’s, Jamie Oliver, Gordon Ramsay en talle ander veroorsaak is?

“Ek dink mans het ’n baie goeie aanvoeling vir kosmaak,” sê Koekedoor-beoordelaar Tiaan Langenegger, ’n gekwalifiseerde patisseriesjef en wenner van Kokkedoor 1, die susterreeks van Koekedoor. “Ek dink sekere mans [het ’n aanvoeling] ook vir bak, maar ek hoop volgende keer skryf daar meer mans in. Die dames het ons hierdie keer oorweldig met die talent.”

Foto: http://kyknet.dstv.com/2016/04/19/koekedoor-21-april-2016/

Hoeveel mense het ingeskryf?

“Ons verkies om sulke fyn besonderhede nie aan die groot klok te hang nie – maar dit was duisende,” sê Koekedoor-woordvoerder en inhoudsvervaardiger Errieda du Toit. “Ons het inskrywings ontvang van skoolverlaters tot veteraanbakkers in hul sewentigs. Die meeste aansoeke is in die ouderdomsgroep 25–40. Die aansoekers kom so ver as van Namibië, van stedelike gebiede en diep in die platteland. Sommige deelnemers het tot agt ure gery om die oudisie te kan bywoon! Die meeste inskrywings is uit die Wes-Kaap en Gauteng-gebied, met die Vrystaat wat ons altyd aangenaam verras.

“Die verdeling is sowat 80% vroue. Die mans wat aansoek doen, is meestal in hul 20’s en 30’s.”

’n Mens kan net bespiegel oor die redes agter dié – en ander – tendense, soos dat terwyl vrouens baas van die tuiskombuis is, die meeste sjefs in restaurante mans is. Laasgenoemde laat byvoorbeeld die eweredige balans tussen manlike en vroulike deelnemers van die gewilde Britse reeks The Great British Bake-off na manipulasie lyk – tot jy sjef Tiaan se ervaring hoor: “Ek het self begin in ’n ‘soet’ kombuis. Dit was van die beste tye wat ek in die kombuis gehad het.” Deur die jare het hy ook met baie patisseriesjefs gewerk en was die verhouding “omtrent 50/50” tussen vrouens en mans.

“Ek dink dit gaan oor toewyding en wat jou benadering tot die beroep is. Die een ding wat ek wel kan sê, is dat vrouens se hande meestal bietjie kleiner en koeler is; dit help baie wanneer ‘n mens met veral sjokolade en deeg werk,” sê hy.

Terug by Koekedoor: dis reeds ’n opdraande pad van die eerste-ronde-oudisies tot by keuring – nog voor die eerste episode opgeneem is.

Aansoekers het begin met ‘n inskrywingsvorm wat aandui wat hul bak-ervaring is en ‘n gebakspyskaart saamstel. “Hierdie opdrag was die eerste van 40 uitdagings wat die uiteindelike wenner suksesvol sal moet voltooi,” sê Errieda. “Daarom het ons baie streng gekyk na hierdie skriftelike opdrag. Baie van die aansoekers het hier gestruikel deur nie die opdrag te volg nie of baie verbeeldinglose gebak voor te stel. Dis insiggewend dat die 10 wat uiteindelik deurgedring het, reeds in hierdie eerste opdrag uitgeblink het.”

Die eerste oudisies is verlede Augustus in Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg gehou. Hulle moes nie net die beoordelaars (Tiaan, die beoordelaarsveteraan van die Vroue Landbouvereniging (VLVK), Elizabeth Cloete, en kosstilis en koekontwerper Mari-Louis Guy) beïndruk nie, maar ook die regisseur Sanet Olivier en vervaardiger Paul Venter.

Die 25% wat deurdring, moet dan ’n kombuistoets ondergaan voor nog uitvalle volg, en dan breek die laaste rondte aan – ’n oudisie voor die kameras.

Die uitblinker-“koekedore” wat tans kompeteer kom van Saldanha, Sasolburg en Simonstad, van Bloemfontein en Bloubergstrand, van Pretoria en Port Elizabeth, George en Delmas.

Dis groot skoene wat die nuwe bakkers moet volstaan, soos die formidabele top drie Mareli, Martjie en Gerda [van die vorige reeks],” sê Errieda. “Selfs die mense wat vroeër uitgeval het, het só ’n groot aanhang dat hulle ‘volksbesit’ geword het.

“Ons het egter sommer al in die verfilming van die eerste episode van die nuwe reeks gesien dat die nuwe ‘koekedore’ net so in die harte gaan inkruip. Ons het ook vanjaar voor die eerste uitsending deelnemers se name bekendgemaak, en selfs toe het mense vir Wessels raakgesien.”

Soos verlede jaar was mans in die minderheid. Verlede jaar was daar twee: Gerrit en Murray. 

Errieda sê Wessels het in die eerste episode met sy kwinkslae, warm bruin oë en bakkalmte opgeval. “Maar waarmee hy die vroue (en ’n stewige klompie manne) se hart week gemaak het, was sy begeerte om tog net mense te hê vir wie hy kan bak. Hy ontvang klaar liefdesverklarings en ma’s skimp dat hy hul dogters moet ontmoet,” sê sy.

“Suretha (die vrou wat haarself volgens Hannon in die eerste episode ‘in ’n middelpaadjie ingebak het’) het ’n groep aanhangers wat haar uitbundigheid geniet, en ’n kleiner kamp vir wie al die drama eens te veel is. Sy het vir baie pret gedurende verfilming gesorg. Sanet word as die buiteperd beskou wat vir verrassings gaan sorg, veral noudat sy episode 2 so oortuigend gewen het. Mense sien klaar Wilandi se artistieke flair raak (sy was in al twee episodes sover onder die top drie), bewonder Corli vir haar mooi fyn aanslag en verwag dat Martie van die Vrystaat (die oudste deelnemer) nog gaan lostrek om haar ervaring te laat triomfeer.”

Buiten die pryse vir die naaswenner en dié wat in spesifieke episodes uitgedeel gaan word, kompeteer die bakkers vir ’n eerste prys van R200 000 kontant, ’n nuwe motor, ’n kookboekkontrak en ’n suikerkunskursus.

Dit is nou bo-op die reputasie wat daarmee saamkom. “Amper almal wat aan die eerste reeks deelgeneem het, is tans in ’n baie goeie plek wat hulle loopbane aanbetref,” sê Tiaan. “Ek glo sterk dat as jy ’n sukses uit hierdie geleentheid wil maak, jy hard daaraan moet werk. Ek het ook besef dat sodra jy begin goed doen, jy amper harder moet werk om dit te behou waarvoor jy gewerk het.”

En hier kan ek saampraat: jy is net so goed soos jou laaste brood, muffin of skons en maak nie saak hoeveel keer jy meel gooi en deeg knie nie, dit bly elke keer vir my ’n wonderwerk as ek veerligte gebak uit die oond haal en my vriende se glimlagte sien as hul tandmerke in die warm botter agterbly! En as daardie meelkolle op my voorskoot my herinner aan vorige samesyne om my gebak, is ek sommer weer van vooraf geïnspireer!

  • Die reeks, wat weer op die Twee Jonge Gezellen-landgoed buite Tulbagh verfilm is, is Donderdagaand om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144. Volg Koekedoor-stories op Twitter @koekedoor of op kyknet.dstv.com of die Koekedoor Facebook-blad. Die Koekedoor-bakboek in samewerking met kykNET en Human & Rousseau sal direk na afloop van die reeks op die rakke verskyn, met ’n versameling resepte uit hierdie uitdagings.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top