"Waar is Nicole?"

  • 0

My vraag aan my vrou klink soos ’n leë eggo in my oor. Sy leun effe oor na na my kant toe: “Sy sal nou hier wees.“

Die vraag het ’n irriterende bobou en ’n angswekkende onderbou in my bewussyn ontwikkel. Dit is soveel keer in my kop en in my lewensruimte herhaal dat die antwoorde daarop ’n korspatroon van niksseggendheid, versigtigheid, halwe waarhede en blatante leuens gevorm het.

Sy kom in die gang van die gemeenskapsaal af in ’n skok-lemmetjiegroen miniromp met gate in, oop middellyf, lae hals, groen stilettohakskoene en ’n wasige skewe pluiskeilhoed. As sy ons familie wou beledig en verkleineer, kon sy nie ’n beter geleentheid gekies het nie. Die burgemeester is byna gereed om haar toespraak te maak en die toekennings te oorhandig. Ek is gekies vir “uitmuntende en getroue diens aan die gemeenskap, spesifiek in gesinsprogramme vir die jeug”. Ek is genader om ook ’n toepraak oor die projekte te maak. Hulle al drie – sy, haar broer Theo, ons laatlammetjie Chloe – sowel as my vrou en haar netwerk van vroueorganisasies, my twee broers en selfs my ma het almal oor die jare saamgewerk aan die projekte. ’n Mens trap nie op ’n Sondagmiddag op die respek wat die gemeenskap aan jou betoon deur soos ’n tert aan te trek en met uittartende heupswaaie by so ’n geleentheid op te daag nie. My vrou moes die verskriklike koue woede en verontwaardiging in my oë gesien het, want sy sê dringend: “Danie, moet tog nou net nie ’n scene maak nie, asseblief.” Maar ek kan aan die rooi gloed in haar nek sien dat sy geskok is.

Ek gaan sit op die stoel waar Nicole baie meer van haar skaamteloosheid sou vertoon as my stoel in die hoek. Ek besluit om die dowwe pyn op my bors en in my linkerarm te ignoreer, maar ek kan nie die vaalheid in my linkeroog en die dowwe pyn wat bokant die oog begin, heeltemal ignoreer nie. Ek sal binnekort twee dubbelsterk Disprin-tablette saam met my hartmedikasie moet drink om ’n massiewe skeelhoofpyn te probeer versag. My vrou weet nog nie eens van die hartmedikasie nie. Dis nog net Chloe wat op 13 reeds ’n skerp genoeg belangstelling in medisyne het en wat die pille herken het vir wie ek moes vertel – sodat iémand darem weet. Ek wil nie nou al so swak en afhanklik voor my vrou wees nie, veral nie noudat sy self met haar gesondheid sukkel nie.

Ek voel meteens gedreineer en hartseer. My kind, ai, my kind. My oudste dogter, nog skaars 20, my hart se punt, my sielgenoot, my klein mater met die skraal, reguit beentjies en die heldergroen oë, die regop ballethoudinkie van haar voskoppie en skraal nek, my slimkind wat in alle skoolvakke uitgeblink het, wat ’n jaar gelede nog simpel grappies vir my op WhatsApp gestuur het, wat saans vir my koekies en koffie gebring het terwyl sy met haar skoolwerk gesit het en ek deur my M-graad-navorsing gesif het. Hoe kon sy dit doen? Mens se kinders trap jou in jou hart; hulle weet presies hoe om jou seer te maak, het ’n verlangse familielid eenkeer opgemerk. ’n Ander praat met die gesag van ’n kinderlose ongetroude: as kinders verkeerd doen, is dit die ouers se skuld.

Jy kon my nie méér seergemaak het nie, het ek gedink terwyl ek na haar oorkant die tafel kyk, haar lelike groen modieuse hoed rebels-afwysend gebuig oor die peperduur, groot slimfoon wat my ma haar vir haar neëntiende verjaarsdag gegee het.

Ek was nog nooit in my lewe so verkeerd nie.

*

“Waar is Nicole? Wat het sy gesê, waarheen gaan hulle? Met wie is sy hier weg?”

My vrou bel die selnommer. Net die antwoorddiens is aangeskakel. Dis meer as die twaalfde keer, sê sy. Ek kan sien sy het pyn. Sy trek haar kamerjapon styf om haar lyf en druk terselfdertyd op haar maag om weg te steek hoe erg dit is. “Het jy al jou pille vir die aand gedrink? Kom, laat ek jou rug vryf. Vir wie kan ons nog bel? Dis al oor twee.” Dis nou die soveelste naweek dat sy Vrydag en Saterdag lank na middernag huis toe kom. Dan slaap sy die hele dag om. “Sy is hier uit met Jenny en vier of vyf stuks in ’n kombi. Ek ken hulle nie. Ek dink nie hulle is op kampus nie. Hulle is glo na ’n nagklub toe.” Ek onthou dat sy vroeër reeds ook die buurdogter se nommer gebel het, sonder sukses. Ons besef dat dit niks sal help om enigiemand anders te bel nie. Mense kan nie help nie en die stories kan net loop. Die polisie is die laaste vir wie ’n mens kan bel. Ek het ’n naar, hol gevoel op my maag en ek vryf die binnekant van my boarm, waar die pyn soms verlammend klop: “Ek gaan maar weer vir ons melk warm maak.” Gelukkig is die vaalheid bokant my linkeroog, die setel van ’n verwoestende migraine, nog nie so erg dat ek, soos gewoonlik, glad nie die helfte van die TV-beeld kan sien nie.

Dit voel asof ek net my oë toegemaak het toe ek geluide in die sitkamer hoor. Dis oor vier. My vrou se plek op die bed is leeg. Ek is te verward om my pistool uit die kluis te haal en gryp my lyfband; loop die paar treë na die sitkamer vrywend aan die slaapmistigheid in my een oog. Ek hoor ’n harde slag, glas wat versplinter, iemand wat gil en my vrou wat hoog en ontstellend begin huil. Nicole lê skuins op haar sy, haar een arm onder haar ingevou, die ander uitgestrek, vol bloed. Die Chinese vaas, my vrou se kosbaarste erfstuk van haar ouma, lê stukkend op die vloer. Nicole moes dit afgestamp het en haar arm gesny het. My vrou staan in skok gevries by die oop voordeur en huil al harder. “Waar was jy, Nicole? Waar? Ai, my kind.”

Toe begin sy lag, ’n lelike, harde lag wat net soos die gehuil van my vrou klink. “Julle wil nie weet waar ek was nie! Ek was oral. By die nagklubs, by die ... nagklubs ... oral!” Ek vat haar aan die arm en probeer haar optrek om badkamer toe te gaan. Toe merk ek op dat daar fyn, byna parallelle snymerke in lang stroke op haar arm is. Sy het dit self toegedien, sou ek later besef na aanleiding van ’n nuusbladartikel – maar daar is ook potblou kneusplekke aan haar polse en arms. Sy lag al harder en wys spottend na my vrou, wat haar trane probeer afvee.

Toe slaan ek. Die lyfband se gespe tref haar teen die kop en selfs deur die waas van my woede besef ek dat ek haar erg kan beseer en ek vat die gespe in my hand. Ek slaan haar oor haar kop, haar arms, haar rug, haar lyf wat deesdae meestal in swart geklee is, tot die bene en voete met die soort spykerhakskoene waarmee sy ons in die onthaal so verneder het, daardie rooi mond wat so lelik lag, asof dit ook bloei. My vrou probeer my keer, sê my naam oor en oor en asseblief, moenie, jy gaan haar doodmaak, hou op. Ek dryf die duiwel uit jou uit, kom my gedagtes hortend uit. Jy maak jou ma so seer. Jy steek ons in die skande. Jy gooi jou lewe weg. Nicole keer eers verwoed, druk my weg en skop na my. Dis soos ’n ontploffing in my kop. Ek keer die koffietafel op haar om, trap daarop, trek dit af, slaan daardie grynslag van haar gesig af. My vrou is skraal, maar baie sterk. Sy kry my van die kant af beet en hou my slaanarm teen my sy, beurend met haar hele lyf. Ek skop nog na die vertrekte gesig vol maskara en bloed hier voor my, dan oorval die moegheid my. Ek kan nie meer nie. Nou lê hulle al twee en huil, maar my vrou se gehuil is die ergste.

Dan eers sien ek dat Chloe ook in die vertrek is, in trane. Sy staan met een van my gholfstokke in die hand, asof sy ’n inbreker verwag het. Dan gaan lê sy, ook huilend, langs haar suster, haar ma aan die ander kant. Hulle hou mekaar vas. Chloe kyk op en vra, haar gesig besmeer met haar trane en haar suster se bloed: “Waarom het jy haar so geslaan? Was dit nodig?” In ons families spreek ’n kind nooit ’n ouer aan as “jy” of “jou” nie. Die naam Pappa of Mamma word uit respek herhaal. So, dit is wat Nicole aan hierdie huis gedoen het. Nou lê die vroumense in my huis op ’n hoop, by mekaar.

Ek gaan sit op die bed in ons kamer. Ek voel my keel toetrek en ek sien hoe die vaalheid van my trane my verblind. Onlogies voel ek oor die bedkassies en die duvet na die sleutel van die kluis met die Glock. My eie trane ontstel my meer as wat ek wil erken. En die moegheid is te veel. Dis alles te veel vir my. Dis tyd om ’n einde te maak aan alles. Hulle sê mos ’n vis vrot van sy kop af. Hierdie kop is klaar. My rol as hoof van die huis is verby.

Die sleutel van die kluis is nêrens in die kamer nie. Waar is Theo? Hy is ’n man. Hy moet verstaan. Werk hy regtig so hard aan hul satellietprojek dat hy weke lank moet uitslaap?

*

My ma bel my op my selfoon: “Haai, my kind. Wat werk julle al weer so hard? Wanneer gaan julle dan weer ’n bietjie vakansie hou? Kyk hier, hoor hier. Nicole was gister hier by my. Asvaal van die honger. Sy sê sy het geryloop daar van julle af.”

Ek kry skielik weer die lam kol op my maag en die steekpyn bokant my linkeroog. Nicole, geryloop? Al twee motors was dan hier, Theo s’n ook.

“Toe moes Oumie maar vir haar ’n lekker toebroodjie en ’n koppie soet tee gee. Siestog, my arme kleinkind kry so swaar. Sy lyk vir my so maer, haar oë is so diep in die kop.Van al die studie. En toe steel hulle mos nog haar selfoon ook. Daar in die biblioteek. Ek sê nog vir haar, maar sy kan mos maar my foontjie solank gebruik. Ek het dit nie nodig nie. Sy reken toe nee, sy sal regkom. Ek moet haar net ’n paar rand vir die bus gee. Sy was lank hier, van nege-uur af tot amper vieruur.”

Nou weet ek: Nicole is besig met iets onderduims. Sy lieg nie net vlot nie, sy bedrieg ook haar ouma. Sy het gister ’n groot prakties gehad, van nege tot twaalf, en toe ’n dubbele lesing later. Daar was definitief nie weer klasontwrigtings nie.

Toe sê my ma: “Kyk, Danie. Ek het nou so gereken. Julle is so besig met julle eie dinge dat julle nie altyd by my kan uitkom nie. Ek kla nie, maar as Nicole meer by my kan kom kuier, of selfs wil bly, gaan ek nie nee sê nie. Ek het nog ’n geldjie oor en as ek kan help, gaan ek haar help met ’n ander ou selfoontjie.”

“Het sy tog nie by Ma geld geleen nie? Ma moenie sulke dinge doen nie.”

“Nee my kind, nog nooit nie. Maar jy weet tog, geld beteken vir my niks. Een van die dae is ek nie meer hier nie. R1 500 beteken op my ouderdom nie veel nie.”

*

’n Onverwagte, maar baie welkome vrede sak skielik een naweek op ons huis toe. My vrou se pille werk beter en ek betrap haar dat sy saam met die radio ’n ou liedjie neurie terwyl sy kosmaak. Dit laat my haar van agter af omhels en sy gee kamma ’n benoude gilletjie. Ek kry ’n onverwagte meevallertjie van ’n paar duisend rand by Sars. Theo kom die Vrydag huis toe en haal sonder ’n woord aan my die grassnyer, randsnyer en graaf uit en begin gras sny. Chloe en Nicole help ook en gaan sit in die son om onkruid uit die beddings te trek. Ek sien my twee groenoogdogters met hul koppe naby mekaar sit om die saailinge wat hulle gaan koop het, te plant. Hulle stemme klink soos silwer klokkies in die stil woonbuurt. Later hol hulle drie jillend op die gras rond soos hulle mekaar natspuit. Chloe kom gee onverwags haar Pappa Dan ’n soen op die wang vir die nuwe Astro-Tech-hokkiestok wat Sars se geld gekoop het. Nicole gaan lê haar gebruiklike twee uur in die bad en maak daarna vir ons haar kampioenkerrie. Sondag is ons almal in die kerk en die kerksusters lyk tevrede om my vrou te sien.

Die lewe is goed en mooi; die knop in my keel is ’n dankgebed.

Ek onderdruk die gevoel van naderende onheil in die gesprek met my ma soos ’n mens jou soms indink dat ’n mediesetoetsuitslag nie so erg kan wees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top