
Foto: Canva
Waar het ek julle verloor?
Ek het my familie
Verloor
Agter watter boog
moet ek hulle gaan soek
Ons verstaan mekaar nie
Ons het tog
Saam
met karton van die mynhope gegly
Saam
in die huis se plafon
Die bediende se sigarette
gerook
Saam
In die straat saans speletjies
Gespeel
Saam
As bendes gespeel
Saam
met Frans se kaskarretjie
in die strate se afdraandes
afgery
Saam
Die karretjie die hoogtes uitgestoot
Langs die huis
Kennetjie gespeel
Saam
Tannie Sannie se kar
Gedeps en laatnag in die strate gery
Koos du Plessis sing:
As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt,
dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ’n brokkie son.
Dit het ek gedoen
En ’n boek geskryf
Oor my lewe
En ons s’n
Hoekom is niemand
Van hulle
Nuuskierig genoeg
Om aan te hou lees nie?
“Ek is ’n stadige leser”
“Ons is almal besig”
“Gun ons dit om op ons eie tyd dit te lees”
Anneli van Rooyen sing:
Hoe verstaan mens alleen
Al die seer, die vervreem?
Waar het ek jou verloor?
Ons het mekaar se wonde verpleeg
Mekaar getroos
Saam
Vingertaal in die kerk gepraat
Om oor ons verveling te kom
Hoekom hoor niemand my trane nie?
Hoekom sien niemand my wonde nie?
Hoekom verstaan niemand dat ek soekend is nie?
Waar het ons mekaar verloor?
Agter watter boog moet ek julle soek?
Waar is ons land van saffiere
Ons stukkie son?

