Waar bloed kruip deur Marieta Carrick: ’n resensie

  • 0

Titel: Waar bloed kruip
Skrywer: Marieta Carrick

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795803314

Waar bloed kruip is Marieta Carrick se debuutroman wat pas weer uitgegee is. Dit volg op haar debuutroman in dieselfde genre.

As bogenoemde deurmekaar klink, behoort dit sommer ook as waarskuwing vir lesers te dien dat niks in hierdie sielkundige riller uitwerk soos mens sou verwag nie. Laat ons begin by Carrick se eerste debuut: Waar bloed kruip is in 2020 deur Anna Emm se Nukkerig uitgegee.

Toe Quellerie verlede jaar Bloed van ’n vlinder as Carrick se debuutroman in die hoofstroom uitgee, het beide Carrick en Quellerie se oë skielik teruggedraai na 2020 se Waar bloed kruip. Kort na die inwerk van ekstra komplotte en kinkels en ’n splinternuwe voorblad, het Queillerie die roman nou in ’n nuwe gedaante uitgegee.

Ons ontmoet Lola Anley as ’n finalejaar- mediese student wat gereeld haar drafskoene aantrek as terapie om monsters uit haar verlede te trotseer. Haar akademiese punte is briljant, maar sy moes haar studies lank onderbreek weens ’n lewensveranderende tragedie plus mediese behandeling vir psigiatriese probleme.

Al drawwend begin Lola se reis by haar nuwe tuiste in Kaapstad se Noorderberg-hospitaal. Haar eerste verrassing is dat sy verblyf kry in die kampus se gesogte Straumann-huis, waar slegs die room van finalejaarstudente op die Noorderbergkampus woon.

Sommer met die intrapslag besef Lola dat haar nuwe tuiste nie net maanskyn en die sonneblomme voor haar kamervenster gaan inhou nie – daarvoor kraak Straumann-huis se houtgange net te veel. Verder dra Lola se huismaats Melissa, Justin en Duke veel meer as ’n stetoskoop met hulle saam.  

Te midde van ’n onbehoorlike mier- en kokkerotplaag in Straumann-huis besef Lola die skimme uit haar verlede het saam met haar die 12 uur lange rit Kaapstad toe aangepak, al wou sy dolgraag ’n nuwe begin hier maak.  

Die dwarslat vir hierdie nuwe begin word van die begin af baie hoog gestel: Sy moet die kamer van Asher Parker, ’n top student wat die vorige jaar op die kampus vermoor is, betrek. Regdeur vele ontstemmende oomblikke in hierdie kamer vol fluisterings val haar oog gereeld op ’n klompie van Asher se besittings wat steeds in die kamer staan. Veral sy anatomiemuurprent en ’n eenoog-teddie wat argeloos bo-op ’n volgepropte houer vol goeters gepak is, dra by tot die spanning wat Lola gou begin volg.

Intussen kom sy gereeld in die hospitaal af op foto’s van en fluistergesprekke oor Asher.

Gelukkig geniet Lola die werk en die meeste karakters in die uitgestrekte hospitaal terdeë. Die uitdagings, patos en humor wat dikwels binne ’n ongevalle-eenheid afspeel, pas vir Lola soos ’n (blou hospitaal-) handskoen. Carrick beeld die diversiteit en dringendheid van die ongevalle-eenheid uitstekend uit. Sy slaag daarin om lesers onder die indruk te bring van die abrupte, oombliklike handelinge wat noodgevalle van medici vereis, asook die menslike aspekte van pasiënte en hul families.

Wanneer ’n netjies versorgde vrou met ’n versteekte wapen by die trauma-eenheid instap op soek na ’n erg beseerde bendeleier, of ’n onervare paramedikus ingestuur word om die ongevallesuster vir ’n voorraad fallopiese buise te vra, wéét mens dis nie uitgedinkte praatjies hierdie nie; dis harde realiteite wat Carrick ter wille van lesers na buite oordra. Want feite is steeds vreemder as fiksie.

Ongelukkig besef Lola gou dat iémand bewus is van die geheime uit haar verlede. Sy leer ken die donker kant van haar huismaats en ervaar gereeld hoe die nuwe departementshoof wat ook by Straumann-huis intrek, “warm gloede teen haar wange opstuur”. Tot Lola se ontsteltenis besoek haar oorlede sussie Mandi haar op die ongemaklikste tye en dring by Lola aan om die geheime van twee versteekte leidrade wat Asher in die kamer gelaat het, op te los. Met elke versigtige tree van vordering beleef sy egter weerstand, want daar is iémand wat geen plan het dat sy nader aan die waarheid moet kom nie.

Carrick plaas met groot behendigheid fyn geplante leidrade; lokaas wat spanning en afwagting laat opbou. Uiteindelik probeer die leser verniet raai wie veroorsaak wat, want naelbyt-intriges wat mekaar vinnig opvolg, veroorsaak ’n moeilik voorspelbare ontknoping.

In Waar bloed kruip raak elke karakter ’n oortuigende mens, met net genoeg beskrywings van elkeen se fisieke voorkoms dat lesers ’n gedagteprentjie kan skep. Die manier waarop Carrick haar mediese studente toelaat om Engelse uitdrukkings in hul Afrikaanse sinne te gebruik, skep eerder ’n gevoel van normaliteit as om te irriteer.

Klein jakkalsies in hierdie roman herinner egter aan ’n marathondrawwer wat goed voorberei vir die moeilike uitdagings soos steil opdraandes, maar geensins let op haar hardloopstyl op die gelykpad nie: Terwyl die vele dramatiese oomblikke oortuigend beskryf word, raak uitgerekte sinne en onnodige beskrywings (op die drawwer se gelykpad) soms vervelig.

Vele sinne kon aantrekliker aangebied gewees het, byvoorbeeld: “Sy kan nie anders nie as om op te let dat Melissa en Justin baie soos Barbie en Ken lyk nie.”

So loop lesers hulle ook vas in die herhalende gebruik van sommige woorde, soos in “toe die koffie op is, kom die dokter van vroeër weer in ...”, “toe sy klaar is ...”, “toe Melissa uit is ...” en “toe sy klaar geëet is ...” Met ’n bietjie inisiatief kon hierdie sinne beslis interessanter aangebied gewees het. Lola se wange raak ook té herhalend warm wanneer die aantreklike Blake Koller naderstaan.  

Vreemd genoeg tref mens ook verskeie probleme met spasiëring ná ’n punt aan, asof iemand met paragrafering gespeel het sonder om die spasiebalk kundig te gebruik.

Dis interessant dat Carrick, ’n mediese tegnoloog, in beide haar romans se titels bloed as tema gebruik. Daar is ook ander ooreenkomste, soos verdagte karakters wat tydens onheilspellende oomblikke kinderliedjies sing, herhaalde besoeke deur onwaarskynlike karakters, asook die gebruik van insekte om die gevoel van onheil te verhoog (vlinders in Bloed van vlinders, en kokkerotte en miere in Waar bloed kruip).

Wanneer al die dramas rondom Lola uiteindelik uitgesorteer is en die leser saam met haar nuwe vriende ’n slag kan asem skep, neem ons almal aan dat sy werklik genees is van haar psigiatriese probleme. Of word ons (dalk weer) mislei?

Die manier waarop Waar bloed kruip vir lesers ’n realistiese kykie in die mediese wêreld bied, saam met weldeurdagte dramas rondom iemand wat haar geestesgesondheid probeer bestuur, maak dit ’n besonder leesbare boek. Dis sou wel gehelp het as die klein jakkalsies van soms kinderlike sinne en ’n effe geromantiseerde aanbieding van die pasiënt in boeie, van die begin af hokgeslaan kon gewees het.  

Terwyl Carrick en die inwoners van Straumann-huis nou reeds in twee interessante spanningsromans lesers laat naels kou het, wonder mens of dié uitgestrekte Noorderberg-hospitaal dalk ’n bloedtrilogie in hierdie genre sal lewer.

Lees ook:

Bloed van ’n vlinder deur Marieta Carrick: ’n resensie 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top