VSA en Suid-Afrika: ’n huwelik wat skeefloop in ’n nuwe wêreldorde

  • 0

Abel Esterhuyse, Joan Swart, Francois Vrey en Heinrich Matthee (foto: Jean Oosthuizen)

Hierdie artikel het onderstaande artikel voorafgegaan.


........
Kan die VSA nog as wêreldleier gesien word in ’n nuwe internasionale orde? Hoe moet Suid-Afrika sy plek in dié veranderende landskap vind met ’n ANC wat al hoe meer sy rug vir die Weste draai? En kan ’n onafhanklike Wes-Kaap dalk selfs ’n bondgenoot vir Washington word?
........

Kan die VSA nog as wêreldleier gesien word in ’n nuwe internasionale orde? Hoe moet Suid-Afrika sy plek in dié veranderende landskap vind met ’n ANC wat al hoe meer sy rug vir die Weste draai? En kan ’n onafhanklike Wes-Kaap dalk selfs ’n bondgenoot vir Washington word?

Dít was die vrae wat onlangs by die Pionier Instituut se dagsimposium buite Stellenbosch in die Kaap gevra is, waar 10 sprekers van uiteenlopende agtergronde die komplekse verhouding tussen die VSA, Afrika en Suid-Afrika onder die vergrootglas geplaas het.

Die dag is geopen deur Heinrich Matthee van die Pionier Instituut, met ’n lesing getiteld “Verborge wingerd, nuwe boorde” waarin hy die konteks van die simposium geskets het.

Die instituut hanteer oop perspektiewe, kyk na die verskillende scenario’s in die wêreldpolitiek en ontleed dit.

“Ons werk is om scenario’s uit te werk, risiko’s te ontleed en die publiek voor te berei op wat kom, ook wat gebeur as dinge misluk,” het Matthee verduidelik.

Hy het die groter konteks geskets: Die wêreldpolitiek word onstuimig herorden, en Suid-Afrika se ANC-regering het ná Mandela toenemend wegbeweeg van sy Westerse vennote en verkies om bande met Rusland en China te versterk.

Die eerste paneelbespreking wat deur Matthee gelei is, het die tema “Die VSA: maritieme sake, veiligheid en Afrika” behandel.

Deelnemers was Abel Esterhuyse en Francois Vrey van die Universiteit Stellenbosch en Joan Swart van die Referendum Party.

Esterhuyse het die historiese verhouding tussen die VSA en Afrika ondersoek met ʼn blik op die VSA vanuit (Suid-) Afrika.

Hy het gewys hoe Europa die VSA toegelaat het om die leiding te neem in die Weste se interaksies met Afrika, maar dat die VSA Afrika dikwels as ’n enkele entiteit beskou en nie as ’n kontinent met 54 lande en groot kulturele diversiteit nie. Na die bloeitydperk post-1994 (danksy Nelson Mandela en die Clinton-administrasie) het verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA afgekoel.

Esterhuyse het die spanning tussen ANC-belange en nasionale belange, wat tot vervreemding tussen Suid-Afrika en die VSA gelei het, uitgelig. Hy het beklemtoon dat daar te min politieke druk vanuit die Suid-Afrikaanse samelewing is om die regering te dwing om beter met die VSA saam te werk.

Vrey het ’n toekomstige perspektief gebied op maritieme belange in die Indiese Oseaan, met verwysing na Afrika se rol en Amerikaanse strategiese prioriteite as ’n strategiese spilpunt, nie net vir Afrika nie, maar ook vir Amerika se belange.

Die verrassendste bydrae het gekom van Joan Swart van die Referendum Party. Sy het aangevoer dat ’n onafhanklike Wes-Kaap die VSA se ideale vennoot in ’n veranderende Afrika kan wees. Volgens haar toon peilings van Victory Research dat ’n meerderheid Wes-Kapenaars (63%) onafhanklikheid steun. Sy sê die party wil ’n privaat referendum hou om dit te toets, aangesien die provinsie se premier, Alan Winde, dit nie wil doen nie.

“Terwyl die res van Suid-Afrika verval, kan die Wes-Kaap ’n stabiele bondgenoot wees,” het sy betoog. Dit het onmiddellik die vraag laat ontstaan wat die rol van bruin mense in so ’n onafhanklike Wes-Kaap sou wees. Yagyah Adams van die Cape Muslim Congress het dié vraag direk gestel. Swart se antwoord: Dit sal ’n nierassige demokrasie wees, waarskynlik met ’n bruin meerderheid wat die regering van die dag sal vorm.

Die tweede paneel het gefokus op geopolitiek en diplomasie, met deelnemers Theo Neethling en Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat en Alida Kok van Akademia.

Neethling het gepraat oor die VN op 80-jarige ouderdom en of dit nog funksioneel is. Hy het erken dat die VN steeds noodsaaklik is te midde van globale uitdagings, maar sê dat uiteenlopende ideologieë en meningsverskille hervorming belemmer. Die vyf permanente lede weier om mag af te staan, en die VN beleef sy ernstigste finansiële krisis ooit. Tog bestaan daar geen alternatief nie, en die VN moet by nuwe omstandighede aanpas.

Kok het die "nuwe diplomasie" bespreek, waar burgerlikesamelewing-rolspelers toenemend betrokke raak. Diplomasie is nie meer ‘n domein wat slegs deur state bedryf word nie, sê sy; ’n “nuwe diplomasie” is besig om te ontstaan waar burgerdiplomate gevestigde strukture uitdaag, soos deur besoeke aan die Withuis, waar amptelike diplomate nie welkom is nie. In Suid-Afrika skep dit ’n diplomatieke vakuum, waar nietradisionele akteurs namens groepe optree.

........
Rossouw het na die oorlog in Oekraïne gekyk deur die lens van René Girard se teorieë, met die VSA en Rusland wat vasgevang is in ’n mimetiese wedywering – ’n wedloop van nagebootste magsug en prestige wat geweld onvermydelik maak.
.........

Rossouw het na die oorlog in Oekraïne gekyk deur die lens van René Girard se teorieë, met die VSA en Rusland wat vasgevang is in ’n mimetiese wedywering – ’n wedloop van nagebootste magsug en prestige wat geweld onvermydelik maak.

Rossouw het ’n filosofiese ontleding gegee van die oorlog in Oekraïne, geïnspireer deur John Mearsheimer (‘n Amerikaanse politieke wetenskaplike) en René Girard (Franse-Amerikaanse filosoof, antropoloog en literêre kritikus). Girard se mimetiese teorie stel dit dat state soos die VSA en Rusland mekaar se begeertes na mag, prestige en invloed naboots, wat tot eskalasie lei. Hierdie dinamiek dateer terug na die Koue Oorlog en word versterk deur globalisering, wat klein verskille (die "narsis van klein verskille") aanwakker.

Van Rusland se kant beeld Wladimir Poetin Oekraïne uit as ’n neo-Nazi-bedreiging, wat geweld as ’n "suiweringsritueel" regverdig – ’n voorbeeld van Girard se sondebokmeganisme. Oekraïne is kultureel en taalkundig soortgelyk aan Rusland, wat dit ideaal maak as sondebok. Van die VSA se kant gebruik hulle Oekraïne as ’n proxy om Rusland (en selfs China) te verswak, terwyl dit sy eie imperiale ambisies versluier. Dit skep ’n mimetiese krisis, gedryf deur onvervulde aspirasies vir vryheid. Mearsheimer waarsku dat eskalasie voortduur sonder erkenning van Rusland se veiligheidsbehoeftes, terwyl Girard versoening deur niegewelddadige strategieë voorstel.

Die laaste paneel het dimensies van die VSA, EU en Suid-Afrika ondersoek, met Riaan Eksteen (UJ), Heinrich Matthee en Jo-Ansie van Wyk (Unisa) as deelnemers.

Eksteen het buitelandsebeleidsvorming in die Trump-era bespreek, met klem op ’n "Amerika Eerste"-benadering. Trump se handelstariewe ontwrig die wêreld, maar genereer inkomste vir die VSA. Eksteen voorspel sukses vir die Republikeinse Party in volgende jaar se middetermynverkiesings, ondanks Trump se styl.

Hy het gewys hoe die Trump-era ’n “Amerika Eerste”-strategie gevolg het – selfs handelstariewe is as wapens gebruik. Dit het die wêreld ontwrig, maar ironies genoeg groot bedrae geld vir Amerika ingebring.

........
Jo-Ansie van Wyk het ’n harde waarheid uitgespel: Suid-Afrika se weermag is uitgekalwe en sonder enige vermoë om die land se soewereiniteit te beskerm. Dit verklaar waarom die VSA geen belang toon in militêre samewerking nie.
.........

Jo-Ansie van Wyk het ’n harde waarheid uitgespel: Suid-Afrika se weermag is uitgekalwe en sonder enige vermoë om die land se soewereiniteit te beskerm. Dit verklaar waarom die VSA geen belang toon in militêre samewerking nie.

Sy het ’n bestekopname gegee van Suid-Afrika en die VSA se veiligheids- en militêre samewerking. Hervorming van intelligensiedienste is noodsaaklik, maar sy is skepties oor die "ontkaping" van die weermag. Vertroue moet herbou word, maar hoop is skraal, sê sy.

Die hoofrede is deur Joshua Meservey van die Hudson Instituut (en die Heritage Foundation) uit Amerika via Zoom gelewer. Hy het gesê Westerse bevolkings in Suid-Afrika moet leer onderskei tussen pro-Westerse en anti-Westerse elemente binne die regering. Hy meen selfs subnasionale reëlings met sekere provinsies of groepe is moontlik, mits hulle hul invloed kan demonstreer.

Op ’n vraag van Heinrich Wyngaard (Kaapse Forum) oor hoe die bruin gemeenskap hul stem in Washington hoorbaar kan maak, het Meservey gesê dat hulle in ’n unieke posisie verkeer as ’n groep wat veronderstel was om voordeel uit Swart Ekonomiese Bemagtiging te trek, maar grootliks uitgesluit gebly het. “Dit maak hulle kritiek moeiliker om te ignoreer in Suid-Afrika én die VSA,” het hy gesê.

Die Pionier-seminaar het ’n seldsame platform gebied waar akademici, politici en gemeenskapsfigure met ʼn hoofsaaklik meer konserwatiewe baadjie uiteenlopende perspektiewe gedeel het – van filosofiese oorwegings oor mimetiese begeertes tot wesenlike vrae oor ’n moontlik onafhanklike Wes-Kaap, maar waaroor daar kritiese nadenke ontbreek het ten opsigte van die praktiese haalbaarheid daarvan.

Wat duidelik uit die gesprekke geblyk het, is dat Suid-Afrika se verhouding met die VSA broos, kompleks en vol onsekerhede is, en dat die vraag oor hoe hierdie verhouding ontwikkel, die komende dekades se geopolitiek in Afrika wesenlik kan beïnvloed.

Lees ook:

Trump, Amerika en die toekoms van Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top