Teks: Tom Holloway
Vertaling: Hennie van Greunen
Regie: Hennie van Greunen
Met: Sandra Prinsloo en Marius Weyers
17 Julie 2014, Mango-Wynand Mouton-teater
Hierdie Afrikaanse vertaling van die Tasmaniese dramaturg Tom Holloway se teks And no more shall we part (2011) is ’n ervaring waarin die gehoor nie sommer koud gelaat word nie. Vir ewig en altyd herinner in tema aan twee ander produksies waarin Sandra Prinsloo in 2011 gespeel het: Vergenoeg en Nag, Ma. Anders as haar karakter in Vergenoeg, wat die laaste, pynvolle dae van haar terminale siekte tegemoet gaan, neem die karakter Pam in Vir ewig en altyd self beheer oor haar lot. Waar Prinsloo in Nag, Ma ’n emosioneel behoeftige karakter gespeel het wat haar dogter probeer oorreed om haarself nie te skiet nie, is sy in Vir ewig en altyd die kalm teenpool vir Marius Weyers se angstige Danie.
Prinsloo en Weyers se komplementerende ensemblespel trek die kyker reeds vanaf die eerste toneel in die drama in. Pam en Danie sit in die spaarkamer van die huis waar hulle al dekades lank woon en hul kinders grootgemaak het. Pam sit regop in die enkelbed en Danie op ’n stoel langs haar. Sy probeer op ’n rustige manier herinneringe van familievakansies met Danie deel, maar hy is angstig en afgetrokke. Deur die gelaagdheid van Weyers se spel besef die gehoor dadelik dat iets nie pluis is nie: Danie hou duidelik ’n worsteling onder beheer ter wille van Pam. Die akteurs het ongelukkig die spanning ’n ent in die vertoning in effens laat val in konfrontasies wat soms te lank en herhalend geword het. Van die middel van die vertoning af is die bou en afloop van die spanning egter baie goed beheer en die huiltonele was aangrypend.
Ten spyte van die doelgerigtheid waarmee Pam haar besluit neem, word dit nooit as ’n eenvoudige besluit of ’n oplossing aangebied nie. Pam se siekte draai die karakters vas. Die besluite wat hulle kán neem, is beperk. Hulle kan nie die onafwendbare verander nie, maar slegs die tyd, plek en duur van Pam se lyding. Hierdie dooie punt wat die karakters bereik, is wat Vir ewig en altyd ’n interessante teks maak. Dit hanteer morele kwessies waar daar nie ’n uitgemaakte antwoord is nie en wys hierdie twee karakters se worsteling daarmee.
Deur middel van tydspronge word die gehoor ingelig oor die agtergrond tot die gebeure op die verhoog. Hierdie tydspronge word aangedui deur minimale kostuum- en dekorwisselings. Die verdonkeringe waartydens hierdie wisselings gebeur, dra sinvol by tot die atmosfeer van die stuk. Tydens die verdonkeringe word Danie met blou of pers verlig waar hy met sy rug na die gehoor voor ’n fotomuur of elders in die huis staan. Ongelukkig het een van die toneelhelpers tydens een van hierdie wisselings in die pers ligkol wat vir Danie isoleer, inbeweeg. Sulke slordigheid is taboe in ’n stuk wat grootliks steun op die gehoor se inlewing in die fiktiewe gebeure.
Die verskillende vertrekke in Danie en Pam se huis word baie effektief deur middel van geïsoleerde ligblokke voorgestel. Tog het die dekor nie oortuig as die interieur van hierdie huis nie. Op hierdie teater se verhoog het dit soos karige studentemeubels gelyk. Realistiese verhoogdekor is peperduur, maar dit sou dalk meer oortuigend gewees het om die ruimte met abstrakte dekor voor te stel.
In die geheel styg die vertoning wel uit bo enige kleiner kwelpunte. Hennie van Greunen se Afrikaanse vertaling van die teks is vloeiend en gemaklik. Die transposisie na ’n Suid-Afrikaanse omgewing is baie subtiel gedoen deur verwysings na plek vaag te hou. Die gehoor wonder dus nie te veel oor die fiktiewe ruimte buite die verhoog nie, maar bepaal hulle by dit wat voor hulle afspeel.
Die produksie het my diep geraak, en te oordeel aan die snikke en hoorbare gevroetel met sakdoeke in die gehoor was die meeste kykers emosioneel betrokke by die lot van die karakters. Suid-Afrikaanse gehore is geneig om baie maklik op te staan tydens applous, maar in die geval van Vir ewig en altyd was die staande ovasie welverdiend.


Kommentaar
Die stuk was aangrypend en het jou laat dink.