
Daar is vyftien, pertinente geleenthede in hierdie week om jou tussen hemel en aarde te gaan tuismaak. Daar is vyftien, pertinente geleenthede in hierdie week om die lewe uit ’n totaal ander perspektief as dié waaraan jy gewoond is, waar te neem.
Hierdie geleenthede kry jy by vanjaar se 13de kunstefees, die Vryfees, wat tans in Bloemfontein by die Universiteit van die Vrystaat plaasvind. Tussen Hemel en Aarde word daagliks tot Saterdag 13 Julie 2013 om 14h00, 16h00 en 18h00 by die koshuis NJ van der Merwe se gazellie aangebied. Die gehoor se sitplekke is met trampolienmatjies tot lêplekke omvorm. Só kan die videokuns van Herman van den Berg (musiek) en Pieter Lombard (video), onder regie van Alexa Strachan, rustig beleef word in die pikdonker lokaal. As jy eers rustig op jou rug lê en na die beelde teen die trapesiumvormige grootskerm in die plafon kyk, raak jy as kyker ver verwyder van die res van die fees se rumoer en handel. Jy ontvlug die aarde ook vir ’n wyle om tweërlei rede. Eerstens bied die video jou die visie van ’n ruimteteleskoop se loer vanuit die strato- en mesosfeer “tussen die aarde en die hemel”. Tweedens neem die musikale en woordreis jou weg van die gravitasie van die alledaagse gebeure. Want die poësie van TT Cloete, wat voorgelees word deur Chris van Niekerk, kan nie anders as as ’n Skepping op sigself beskryf word nie. Die produksie is juis gegrond op (of sal mens sê: “ontwortel vanuit”) hierdie digter se skeppingsdade, soos:
God die digter
Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak
Saam met die gravitasielose gedigte van die grootse Cloete, beleef die feesganger ook Carina Stander, wat dikwels as protégé van Cloete beskryf word, se uitnemende digkuns.
Die produksie is ’n reis wat duskant ’n halfuur duur, met tradisionele filmtegniek in die buitenste ruim, maar wat ook eksperimenteel met beeld omgaan, veral die skote wat op die bekende aarde geneem is. Dit gee die aarde weer deur ’n videolens wat letterlik op die aardkors gemonteer is en boontoe af-neem. ’n Babatjie wat kruip, ’n boomstam, Herman van den Berg wat met sy kitaar in ’n boom sit en sing, ’n estetiese danseres in die droë veld en ’n baba op die arm word van ónder afgeneem. Die omringende bome in die tonele pryk prominent en anders op die oog.
Heelwat beelde in die produksie is onderwerp aan eksperimentele tegnieke. Gewone beelde word deur X-straal-, blokkies- en dowwe tegniek verander. En beelde is herhalend in rondomtalie-draai teen stadiger en vinniger tempo verfilm. Vir die eksperimentele aard van die produksie is dit gepas, maar tog sal mens na die funksionaliteit hiervan kan vra in die herhalende terugkeer van die spesifieke tegniek.
Die produksie kan egter vir elke Vryfeesganger besondere stof tot nadenke raak. Die grootse skeppingskrag van die digter Cloete staan uitgesponne deur die produksie. Maar dis hierdie einste skepsel se aardse inperking tans met die loopraam wat sy daaglikse bestaan moet stuur, wat verganklik gekontrasteerd voor die geestesoog bly verbystap.
Sodat jy jou plek tussen hemel en aarde bly onthou.

