Vryfees 2012 – Vriesweer, Van Coke en die VF+

  • 0

Dit is sekerlik benede vriespunt buite. Skaars ’n halfuur gelede het ek van die Wynand Mouton-teater af hier na die biertent gestrompel. Die drang om ’n sigaret uit te haal en aan te steek was in ’n felle stryd gewikkel met die drang om die hande (met vingerlose swart handskoene, vroeër die dag by ’n stalletjie aangeskaf) diep in die broeksakke te hou. Die nuus dat die N1 toegesneeu was, het Bloemfontein ook bereik – nie goeie nuus nie, aangesien ek en die kollega teen môreaand in die Kaap moet wees en alle paaie blykbaar nou spesifiek nié daarheen lei nie.

Nou word interliggaamlike hitte egter geskep deur honderde, dalk meer as ’n duisend, moshende jongmense, van wie die meeste (te oordeel aan hul gebrek aan selfs melkbaarde) sekerlik nie bier mag aangeskaf het voor die vertoning nie. Dit is net na elfuur namiddag. Van Coke Kartel is op die verhoog. Die hoofsanger, Francois, is in die zone. Een van die meisies met wie ek vroeër die week ’n blik of wat gedeel het, moedig my aan om te dans. Ek hoor haar skaars. Ook wanneer sy ’n aansteker by my bedel, moet sy lank wag. My gedagtes is by die week wat verby is.

Ek en die kollega is opgeroep om vir die week diens te doen by die Stronk-feeskoerant. Feesnuus en so, jy weet. Sondag die 9de (of was dit nou die 10de?) het ons dus in die wit Chico geklim om die duisend of wat kilometer aan te durf – nie ’n té moeilike poging nie, aangesien onder meer die Stones, Dylan en Waits as reisgenote gedien het.

Het ons maar geweet in watter skel teenstryd dié aangename reis sou staan met die terugkeertog.

In ieder geval, die week begin soomloos genoeg. Ons ontmoet die studente vir wie ons kwansuis hierdie week moet lei en deel man-drukkies met ou bekendes. Soos dit maar by ’n feeskoerant gaan, is nie al die idees wat uitkom, ewe goed nie en nie al die vooruitsigte ewe opwindend nie. Onder die redakteurskap van ’n geheelonthouer is daar ook min geduld met rooi oë en ’n laatkommery (soos die studente weldra sou uitvind).

“Bloemfonteeeeeeein!” brul Francois van die verhoog af. Die jonges jil. Ek is jaloers op rocksterre, dink ek. Jy kan absoluut enigiets sê en jy sal met ’n gejil beantwoord word. Graag sal ek eendag van ’n verhoog wil roep: “Ek beleef dikwels kreupelende eksistensiële krisisse!” of “Ek vermoed geen pogings tot selfverheffing sal ooit kan vergoed vir my persoonlikheidsgebreke nie!” en beantwoord word met ’n luide toejuiging, moontlik ook met ’n bra wat by my voete land.

Die Maandagaand het ons in die Mystic Boer beland. Ek wou dit graag met die kollega deel – dit was immers min of meer my woonplek tussen 2007 en 2009, toe ek in Bloemfontein doenagtig was.

Die kollega is aanvanklik teleurgesteld. Dit is so ’n legendariese plek, het hy verneem, maar hier sit ons, en treffers van tien jaar gelede (Linkin Park, Papa Roach en dies meer) word sonder ironie of nostalgie deur die platejoggie uitgekreun.

“As die VF Plus die land lei, sal die Here ons so seën,” klink dit op vanuit die rigting van een van die meisies wat aan ons tafel kom sit het. Sy het blou oë en rooibruin hare. Dit is die VF Plus se Christenskap wat haar vir hulle laat stem, sê sy.

“Objection!” wil ek roep, soos Matthew McConaughey in daai simpel movie oor ’n prokureur wat ek nou die dag gekyk het. Seën pastoor Ray McCauley dan nie so nou en dan vir Zuma nie? Die ANC maak tog sterk aanspraak op hul onderdanigheid aan God – wat maak hulle anders?

Hulle is nie eg nie, seg sy. Haar beste vriendin aan haar linkerkant, ’n stoere DA-ondersteuner, sluk diep aan ’n glas soet witwyn en tuur weg, op soek na iemand se oë. Sowat 20 jaar oud, hulle albei.

Die gesprek eskaleer, maar niemand gil op mekaar nie. Die voormalige teologiestudent op die punt van die tafel sukkel-sukkel om die lettergrepe aanmekaar te sit soos die oormaat bier op sy brein weeg.

“Jagerbombs!” roep iemand. Hulle kos immers net vyftien rand hier in die Vrystaat. Daar word meegedoen en weer meegedoen. ’n Lied van Wheatus klink op. Dansvloer toe, wikkel die dames. Dit sal nie die laaste politieke gesprek van die tog wees nie, maar dié een is vir eers verby.

Die week vlieg verby in ’n waas van pannekoekstalletjies (daar was ’n oorbevolking van diés), vreemde gesprekke en Johnny Cash-covers wat dag en nag uit die biertent stroom. ’n Paar grepe doem op terwyl ek na Van Coke luister (“Dis ’n land van kleure en klank, dis ’n land van liefde vir drank …”):

– Die toneelstuk Poppekas, wat handel oor ’n groep eerstejaarstudente in ’n koshuis wat wreed ontgroen word deur hul seniors. Sonder om te veel te verklap: die woord poppekas het skynbaar daarmee te make dat medekoshuisinwoners in kamerkaste wegkruip en toekyk hoe die uitverkore student die liefdesdaad (of dalk eerder die gebrek-aan-liefde-daad) met ’n niksvermoedende dame uitvoer. Dit is waar dinge skeefloop vir een van die eerstejaars, wie se skuldgevoel en drang om die dame voorts te beskerm hom in ’n ondervragingskamer laat beland. Die stuk slaag grotendeels, hoewel ons ná die tyd onder mekaar wisselende menings uitruil oor die struktuur en progressie van die stuk. Die spel was van ’n hoë gehalte, dalk die beste uitgedruk in die feit dat die akteurs voor die uitvoering in karakter in die voorportaal rondbeweeg het, met ene OuPoot wat Deep Heat aan sy dye gesmeer en luid gesing het neffens die ingang. Ons het aanvanklik gedink dit was bloot inwoners van die JBM Hertzog-koshuis, waar die uitvoering plaasgevind het. Dalk is dit maar hoe dit werk in die Vrystaat?

– Die Heuwels Fantasties se uitvoering in die biertent. Dit is vir my altyd ’n riem onder die hart om te sien hoe gewild Kaapse groepe in die res van die land is. So trots op my kinnes. Die trommer Snake Venter (van Fokofpolisiekar- en aKING-faam) het hom by die groep aangesluit vir dié vertoning, aangesien die gebruiklike tromspeler, Philip Erasmus, na bewering oorsee vir sy model-meisie kuier. Gmf. Later in Mystic vertel Snake my hy was bekommerd oor hoe goed sy inskakeling by die groep afgeloop het, aangesien die voorbereidingstyd maar min was. Ek verseker hom hy het niks om oor bekommerd te wees nie. Jagerbombs!

Die Rebellie van Lafras Verwey. Hierdie stuk is al genoeg geprys en ’n vyfster-stuiwer in die armbeurs van my kant af sal oorbodig wees. Die Wynand Mouton-teater was wel ’n ander uitdaging as die Intimate Theatre in Kaapstad, waar ek die stuk die eerste slag gesien het. Hulle het egter blykbaar moeiteloos aangepas by die groter verhoog en die groter gehoor. Vir die Stronk kon ek ook ’n onderhoud met Carel Nel, wat die rol van Lafras vertolk, voer. ’n Voormalige Kovsie en ’n kief ou.

*

Francois maak hom gereed om ’n sak vol T-hemde die gehoor in te werp. Hy swaai die sak vorentoe en agtertoe; soos ’n windmeul maak sy regterarm. Dan laat gaan hy, maar al wat gebeur is dat die sak kerplaks die light rig tref en vassteek. Dit hang daar, tot die plastiek vinnig smelt en die T-hemde neertuimel grond toe, reg tussen die verhoog en die skare. Die staalreling maak die gegryp van honger handjies futiel.

*

Die Vrydagaand is dit al lank na saktyd vir die laaste koerant en daar is nog nie ’n hooffoto nie. Die redakteur en die fotograaf het egter vroeër die week verekussings aangeskaf met die doel om ’n sanger daarmee te wiks sodat ’n mooi foto met spattende vere geneem kan word. Vanaand is daar op die teiken besluit: dit sal onse Bobby van Jaarsveld moet wees.

By die biertent, waar Bobby ook optree, het die senior lede van die span opgeruk om mee te doen aan die reëlings vir die Bobby-foto. Twee jong dames moet uit die gehoor gepluk word om die kussings te swaai en, o ja, Bobby moet nog oortuig word.

Hy maak mettertyd sy verskyning backstage. Hy luister na die idee, glimlag en knik. Hy sal dit doen. Maar, sê hy, eers ná sy vertoning. Ons brom – dit raak ’n bietjie laat. Buite die backstage-gebied, langs Bobby se private toilet, steek ek en die kollega ’n sigaret op. “Ek verloor entoesiasme vir hierdie uitstappie,” bieg ek aan my kollega; “dit beteken ons gaan die hele fokken show moet kyk.”

Die kollega laster.

Kort daarna klink die klank van ’n gespoel op en Bobby klim teen die trappies af uit sy private toilet. Oeps. Hy het ons waarskynlik gehoor.

Die fotograaf daag op. Hy luister na ons storie en sê hy sal self Bobby se private toilet gebruik om navorsing te doen oor of hy ons kan hoor.

“Kan jy ons hoor?” sê ons teen ’n middelmatige volume terwyl hy besig is.

Hy klim uit. “Hard en duidelik,” glimlag hy.

Oh well.

Nietemin stem Bobby steeds in tot die foto. Ná sy vertoning draf hy backstage om sy kitaar (ja, hy gebruik een) weg te bêre. Wanneer hy terugkeer, is die verekussings oopgesny, die grootoog-meisies gereed en die kameralens wagtende. Hulle klim op die verhoog. Die meisies laat waai en (ek lieg nie) dit is vere orals. Órals. Gelukkig was die verhoogbestuurder vriendelik, anders sou ons nou nog daar gesit en vere optel het.

Wanneer die vere op en die foto’s geneem is, klim Bobby af van die verhoog. Ek stap nader, skud sy hand en bedank hom daarvoor dat hy so ’n goeie sport is.

“Akh,” sê Bobby en steek sy tong effe uit soos hy blykbaar stik aan ’n veer. Hy vee oor sy duur baadjie. “Akh,” groet hy en stap weg.

*

Van Coke Kartel is klaar. “We want more,” dreunsing die jonges. Hulle kán nie, sê Francois. Hulle mág nie. Die tyd is op.

Ek is maar half dankbaar. 'n Mens kan mos nie loop voor die vertoning verby is nie, maar dit was ’n lang week en ons moet môreoggend douvoordag op die pad wees en die mense, en veral die meisies, moet nog gegroet word, met bedenklike beloftes oor herontmoetings op Facebook.

*

Omstreeks agtuur Sondagoggend vertrek ons uit Bloemfontein, met 'n voorruit vol ys en harte vol moed. Die week was in alle opsigte suksesvol, maar die vooruitsig om terug onder Die Berg te wees is aanloklik en teen hierdie tyd tasbaar.

Net verby Colesberg sien ons dit: koppies waarvan die bopunte toegesneeu is. Ons oe en aa en neem selfoonfoto's.

By Drie Susters verander die ge-oe en ge-aa kort voor lank in 'n gebrom en 'n geswets. So ver soos die oog kan sien, staan die verkeer opgedam. Langs die pad lê die sneeu soos hompe stywe kapokaartappels opgehoop. Hoërskoolmeisies spring uit die bussie voor ons en bestook mekaar al giggelend en jubelend met sneeuballe. Een of twee van hulle het sweetpakbaadjies aan met "Rhenish" op. Ook hulle word weldra moeg vir die speletjie en betree weer die bussie.


Ná sowat 13 uur op die pad het ons skaars 500 km gevorder.

Kort voor ons Beaufort-Wes bereik, herlei 'n spietkop of twee die verkeer na 'n pad wat na links swenk. 'n Tydjie lank sit ons vas agter een van daardie Abnormal-trokke met die rooi vlaggies voor ons deur die mis 'n kans vat en dit verbysteek. Vir kilometer is daar dan geen motors voor of agter ons nie. Waar de @#$ in die @#%% se % $$%@$%[email protected] is ons? Het ons 'n afdraai gemis? Murraysburg, lui 'n bordjie. Goed, maar waar is dit?

"Ek mis die Kaap," sê die kollega. "Dít sou nooit daar gebeur het nie."

Mettertyd vind ons darem weer die snelweg. Die selfoonhorlosie sê dit is min of meer 22:30 wanneer ons by Beaufort-Wes intrek. Nog sowat 600 km tot in Kaapstad. Nee wat. Hier oornag ons.

By die Royal Hotel word daar ingeboek. Dit was 'n moedbrekende dag en ons moet drankies vind om die breine en bene te sus. Twee nagwandelaars raai ons aan om die Thatch Roof, aan die aaaaander kant van Donkinweg, op te spoor. So gedaan. Die antie maak die deur huiwerig oop wanneer ons die klokkie lui. Nee, dis reg, ons kan inkom. Die kroeg is om die hoek.

Daar by die toonbank sit Christelle en Charl, twee Pretorianers wat terugkeer van 'n vakansie in Houtbaai. Charl, met 'n silwer ring aan elke oorlel, verklap kort voor lank dat hy in 1989 in die weermag diens gedoen het.

"Vir wat?" skud hy sy kop.

Christelle praat weer politiek met die kollega terwyl sy diep teug aan haar soveelste sigaret op 'n streep.

"Die DA is net soos die ou KP," sê sy hard.

Die kollega proes. Sy geamuseerde laggie word kwalik gesluier.

"En wie is daai blondekop-ding?" gaan sy voort en klap haar vingers terwyl sy daarop probeer kom.

"Uhm ... Helen Zille?" waag ek.

"Ja!" roep sy. "Sy's 'n lafaard. Hoekom staan sy nie op vir Afrikaans nie?" Sy gaan klaend en kermend voort oor die "swartes", die "blankes", "ousies" en Afrikaans. Die kollega sit sy leë tumbler op die toonbank neer. Tyd om te gaan, wink hy.

Terwyl ek 'n tienrandnoot oorhandig aan een van die swerm kinders wat om die motor saamkoek, dink ek aan Mystic en die VF+-meisie. Met haar kon jy darem práát. En na haar luister, en kyk na haar blou oë en rooibruin hare.

En vir 'n oomblik van jou eie oortuigings en herkomste vergeet.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top