
Foto: Canva
Vrouehart
Daagliks fluister ek
selfs al staan my wêreld op sy kop
hart-hou-aan-klop
As die kat op die stoof sit
en ek nie meer woorde vind om te bid
hart-hou-aan-klop
wanneer die dade van mense my vrede wil steel
en ek moet sluk aan die knop in my keel
hart-hou-aan-klop
Selfs al is ek oorlaai met werk
en my liggaam smag na rus
hart-hou-aan-klop
As depressie my gedagtes laat dwaal
en angs my oorval
hart-hou-aan-klop
wanneer my drome ligjare vêr aan die hemelruim hang
en hier waar ek is voel ek vasgevang
hart-hou-aan-klop
Liewe vrou, weet net
ten spyte van
selfs ... as ... wanneer ...
jou hart sal aanhou klop.

