Vrouedag-skryfkompetisie: Sterk vrou

  • 1

Daar was kere wat jy wou huil
en ook wat jy wou skreeu
maar elke oggend staan jy op
met ’n glimlag en as iemand
na jou welstand verneem –
staan jy altyd op ’n positiewe been

Daar is my een vriendin wat
al deur soveel trauma is maar
nog steeds kan glimlag en gesels
net die wat haar ken en liefhet
sien wel die kommer en rou strepe
wat nie weggedokter kan word deur rome en sepe

Daar is ’n ander wat elke dag
haar kruis dra en geduldig ook
jy hoor haar nooit kla of murmureer
sy is vriendelik en gesellig –
laat jou altyd welkom voel
en sy gee jou ’n druk wat sy bedoel

Vir sulke vroue sal ek met graagte
monumente oprig – sterk vroue
wat elke dag opstaan en opnuut
die dag tegemoet gaan met durf
nie gaan lê in die trauma en seer van gister
maar die dag tegemoet gaan en skitter

Vir jou, vriendin – gee ek ’n ekstra druk
ek wil die trane uit jou oë vee
en jou seer en moeë voete en gemoed masseer
met jou gesels oor dit wat jou pla
oor ’n koppie tee en meer –
jou toelaat om te vergeet van al jou seer.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top