Vrouedag-skryfkompetisie: Ouma Bessie

  • 2

Ouma Bessie maak koffie in teekoppies. Fyn porseleinkoppies met prentjies op. Buite blink die dorp se liggies. Die dag is nog ver. Dis winter. Ouma moet gaan werk. Ek kyk vir die liggies en proe-proe aan die koffie. Dis warm en kondensmelksoet. Ek maak seker om nie die koffie te veel te roer nie, so kan ek die laaste soet met die lepeltjie uiteet. Ouma sê ons moet klaarmaak.

Die masjiene spoeg pakke en pakke papiere uit. Soms druk hulle kalenders met bobbejaanprentjies op. Ouma is ’n drukker. Dis haar ambag. Die boonste helfte van haar een vinger verloor toe sy jare terug ’n vassit-papier uit die masjien wou trek.

Dis voor my tyd. Ek is 8 en kuier net bietjie by Ouma. Is eintlik nog kwaad vir haar omdat sy weer begin werk het. Sy was mos nou al afgetree. Nou bly sy hier bo in ’n woonstel en sy het nie eens ’n tuin nie. Ouma wat sommer die laerskool se tuin vrywillig oorgedoen het, want sy kan nie ’n lelike tuin verdra nie. Darem is die uitsig mooi, al verlang sy na haar tuin. Sy sing vir my, “ die wapad is my woning en die skilpad is my koning” wanneer die keeltoetrektrane vanself uitloop as ek moet groet.

Vier dekades kom en gaan. Ouma Bessie maak lankal nie meer kondensmelkkoffie in haar ouetehuis woonstel op die agste vloer nie. Die fyn porseleinkoppies is bo in die kombuiskas gebêre.

Kleintyd se keeltoetrektrane maak spore oor my wang. Buite waai die Augustus wind skielik ’n wit Volksie tot in die erf. “Het Ouma net kom kuier of het jy my kom haal?” vra ek opgewonde-bly oor die bekende gesig.

“Ek gaan gou nog plantjies by die kwekery kry,” lag sy. Ek trek my gesig soos toe ek klein was, omdat ek nie van tuinmaak hou nie. Sy lag, want sy weet. Ek lag saam. Dis lekker om haar weer te sien. “Kom in. Bly ...” pleit ek asof ek weer 8 is, al weet ek dis onmoontlik.

“Die wapad is my woning, die skilpad is my koning,” kry ek die ou antwoord. Dan is sy net weg. Sommer so, maar ek hoor die Volla nog in die verte dreun. Ek weet êrens in ’n ander dimensie van ruimte en tyd gaan die lentetuine weer uitsonderlik wees, want Ouma Bessie is in beheer.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top