Vrouedag-skryfkompetisie: Ou Nonnie

  • 0

Selfs nog vóór die golf van vernuwing die land oorspoel
en die kultuurpot ons kleindorpie opnuut kom roer het,
was daar alreeds ’n ander nood agter jou glanslose oë tuis.
Ou Nonnie wat het jy werklik destyds ervaar?
Was daar vatplek te kry aan die dae toe jy skottelgoed sou was
en ek soos ’n warrelwind inloopspens toe blaas
myself met sjokolade na hartelus verstop
terwyl jy slegs met ’n bitter kies moes toekyk?
Suiker, net soos jou velkleur, het jou swaar belas
en jou bloed vergiftig en opgekook.
’n vloek waarteen geen demokrasie verligting kon bring.
Pasop kleinbaas, het jy soms in erns genoop,
jou hande terug in seepskuim laat sak
en weer jou plek voor die wasbak vrypostig beman.
Suiker hy maak nie reg met onse mense,
sou jy soms onbaatsugtig as nagedagte byvoeg.
Ou Nonnie jy was ’n merkwaardige vroumens
’n gedig sonder strofes in jou eie reg
Mamma in die moeilikste van tye
Jy het my gewys hoe om vergifnis soos rose
uit die dormante put van morele waardes te kweek
en die arglistige dorings van haat blitsig weg te snoei.
Ek het nooit begryp dat geluk eintlik ’n bedrieglike gedrog was
wat noodgedwonge moes besluit tussen shacks of suburbs
en soos ’n hond wat sy slaap eers na ’n paar rondomtalie draaie kry,
altyd sy rug teen townshipdrome sou draai.
Ou Nonnie ek weet ook dat jy my soms in gedagte deursoek
en onskadelik jou swart op my vel toegewens het
bloot om die tevredenheid van my suikerbelaaide smoel in gees te proe
en dít gepaard met die roekeloosheid van ’n bevoorregte kind.

Hoe móés dit nie voel om selfs net één keer die geween
van ’n knaende soettand behoorlik tot slaap te sus nie?
Ja, jy wou meer hê as die verwyderde vryheid
wat politikusse van ver af belowe het.

Tog, skuins agter regverdigheid en menswaardigheid,
was sjokoladeplesier een méér trefslag teen jou lewenskerfstok,
net nóg ’n argelose ontvlugting wat die lot
jou tot met die wederkoms botaf sou verbied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top