Vrouedag-skryfkompetisie: Onthou die engel

  • 3

Engele dra nie wit nie, want die stains sukkel om uit te was.
Engele dra overalls en gemaklike skoene,
want die las wat hulle moet dra
is swaar.

Hoor die engelkoor                      
soos hulle van die taxi rank af loop.

Soggens, voor ek nog van my koekon ontwaak,
hoor ek hoe skoffel ons huis se engel
om die wasgoed bymekaar te maak.

Sy dra swaar,
want sy wou eintlik ’n juffrou gewees het.
Nou leer sy kinders dat sy
nie ’n meid is nie,
maar ’n mens.

Sy praat maar met die honde in haar lunch break,
want Miesies raak ongemaklik rondom haar.

Engele dra nie wit nie,
want die stains sukkel om uit te was
sy was
was
was die vloere, die spieëls, die mure.
Was sy net wit, was dit anders.

“Hou nou op,”
skree die massas.
“Apartheid is verby.”
maar sy drink uit ander koppies as jy.
Sy kry ’n ander bord, ’n ander vurk, ’n ander mes.
Jy behandel hierdie vrou mos dieselfde as die res?

Engele dra nie wit nie,
want hulle sukkel met die stains –
van die verlede.

Engele dra nie wit nie
– net op Sondae –
as hulle die Here dank vir hulle blessings.

My engel dra nie wit nie,
haar skoene is nie heel nie,
maar Jesus sal nooit weier om
Sy beker met haar te deel nie.  

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top