Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 1

Sy dans terwyl die musiek trek deur die vertrek. Haar pienk moulose rompie wat reg bokant haar knieë sit, laat my dink aan die rokkie wat Marilyn Monroe aan het op die groot portret wat in haar gang hang. Marilyn Monroe – antie Bridgette se ikoon so lank as wat ek kan onthou. Die bossiekop is in ’n korter, netjiese haarstyl. Nog nooit het ek antie Bridgette so mooi gesien nie. Haar gaste verlaat haar, drukkies en soentjies soos hulle groet. Antie Bridgette se hartsmense – "As sy jou liefhet, is jy klaar family," sal jy altyd hoor.

Die voorkamer is stil, die musiek sagter, die herfsskemerlig lyk donkerder as gewoonlik. Ek trek die gordyne toe. Ek en antie Bridgette gaan deur ou famile-albums. Vir ’n oomblik streel sy saggies oor haar oorlede man, uncle Ernest, se foto, die oë raak sagter, dun straaltjies water gly langs die hoeke van haar oë. Ek leun my kop teen haar skouer, die lou nattigheid beland saggies op my hand, wat op haar skoot rus. Ek kyk na haar, die groot bruin oë kyk nikseggend voor haar, ’n ligte glimlag verskyn op haar lippe. Ek probeer haar troos terwyl ek my hand saggies oor haar skouer vryf. “Ag, my kind, die Loewe gaan mos maar aan," sê sy, haar stem amper onhoorbaar.

"Antie Bridgette, hoe gaan dit regtig?" wil ek weet.

"Dit gaan goed, hoe ouer djy raak, hoe minder raak djy bang vir die pad vorentoe."

Ek wil haar so graag glo.

"Toe, gaan skink vir ons nog rooiwyn voor Trudie en haar vriendinne al ons bottels kom leegmaak."

Ons albei kry lag. Vir ’n vrou wat haar man en enigste seun ’n jaar terug in ’n motorongeluk verloor het, en nog net ses tot agt maande oor het om te leef, straal die lewe nog steeds uit haar. Ek skakel die ligte aan terwyl ek in die lang gang afstap, Marilyn Monroe se glimlag lyk of dit nog meer ophelder. Antie Bridgette se ikoon mag nou wel in haar lang gang hang, maar my heldin is sommer net hier. My skoonma, antie Bridgette.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top