Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Fyn en klein staan sy daar agter die skool se kateder. Dis ’n winderige oggend op die aantreeblad. Opgewonde wag ons om te hoor wat hierdie vroutjie met ons gaan deel. Ek kan nie regtig meer haar boodskap onthou nie, maar sy maak ’n indruk, ’n baie groot indruk in my kinderhart.

Die mooiste stem, klink soos voëltjies wat ’n danklied sing tot hul Skepper.

Sonja Heroldt ... die pragtige blondekop tannie met die mooiste dimpels as sy lag. Sterre in haar oë wat skitter en blink en vol lewenslus borrel. My hart is vol blydskap as ek luister na die boodskap wat sy vir ons bring. Definitief het sy haar merk gemaak in my kinderhart. Pragtig, fyn en klein en sprankelend.

Jare later lees ek die hartseer verhaal van haar egskeiding. My hart is seer ...

Diep binne my wou ek hierdie vroutjie baie graag ontmoet, met haar gesels, vertel hoe sy in my hart ingekruip het met haar pragtige glimlaggie en borrelende persoonlikheid. Dit is ’n begeerte weggebêre diep in my hart. Hoekom weet ek nie, dis net daar mooi toegevou in ’n sagte snoesige kombersie van hoop, dalk eendag!

Jare later word die droom in my hart ’n werklikheid. Ek kan dit nie glo nie, ek gaan haar weer sien, ek wonder. Is sy nog so mooi!!!

Februarie 2013 – my hart is seer, ek word aangeval deur vroue, dit is nie lekker nie, ek moet bly staan. In dié tyd bring die Here weer opgewondenheid terug in my hart soos destyds vroeg in die hoërskool. ’n Tannie met blink in haar oë wat ’n kinderhart ophelder met haar klokhelder stemmetjie. Sy sing vir ons ‘Jantjie’, ‘Waterblommetjies’ en nog ’n paar liede.

Ek is so opgewonde ek gaan haar ontmoet, vandag gaan ek haar groet en vir haar vertel wat ’n pragtige mensie sy is ... en ek is tevrede. DVD in my hand stap ek weg met ’n persoonlike boodskappie geskryf van die vrou met die blonde hare, die sterre in haar oë en my hart is tevrede. Sy is pragtig, geskape met ’n doel om ’n hart te verbly wat pyn van die seer. Heel te maak met ’n glimlag en ’n blink in haar oë.

Sy self het die pad gestap, ken die pyn van die hart.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top