Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek bewonder – Beryl Markham

  • 0

“Dit was groot. Maar dit was angswekkend. Ek het opgestyg in die vliegtuig wat spesiaal vir my gebou was met skaars ruimte vir my voete en brandstoftenks onder my en agter my. Dit was al sterk skemer met die wete dat ek deur die nag oor twee duisend myl se Atlantiese Oseaan gaan vlieg. Aanhoudende stormwinde, ysreën, en ’n elektriese storm het dit ál moeiliker gemaak om rigting te hou. Teen daglig het ek besef my laaste brandstoftenk was byna leeg. Ek het versteen. Onder my was net see. Ek het gedink dit was dit. Die einde. Toe, op die horison is land, wonderskone Amerika. Die enjin maak put-put-put. Ek moet land,  daar is mis en ek kan niks sien behalwe groot rotse nie. Ek gly, ek gly, veg met die stuurstok en duik af met die neus van die vliegtuig in ’n moeras. My kop tref die voorruit. Op ’n manier kruip ek uit. Ek het dit gemáák, die eerste vrou wat van oos na wes van Engeland tot in Amerika gevlieg het. Een-en-twintig uur, vyf-en-twintig minute, non-stop.”

In daardie September van 1936 was Beryl Markham se naam op almal se lippe. Elegant, lank en slank, het sy, met haar blonde skouerlengtehare en onverwagse weerlose glimlag, joernaliste, politici, filmsterre en die publiek betower.

Maar wie was Beryl Markham?

’n Kind van Afrika wat op ’n plaas in die Hooglande van Kenia grootgeword het saam met haar pa. Haar ma en broer het hulle verlaat toe sy maar vier jaar oud was, iets wat haar lewenslank sou kwel maar wat haar die vryheid gegee het om awonture te beleef wat gewone dogtertjies nie kon nie.

Skaars uit haar tienerjare het sy, wat self verklaar het sy het perde liewer as mense, die eerste vrou geword wat amptelik ’n perdeafrigterslisensie gekry het. Sy het een resies na die ander gewen met haar renperde en haar reputasie as topafrigter was verseker.

Met min formele skoling het haar intelligensie, natuurlike sjarme en talente haar gewild gemaak in die kringe van die destydse Kenia. Karen Blixen het haar as ’n vriendin geag, Berkeley Cole ook en Lord Delamere en sy vrou het haar as ’n dogter beskou. Denys Finch-Hatton, het Beryl self vertel, was die geheime groot liefde van haar lewe en sy vroeë afsterwe na ’n vliegongeluk was ’n keerpunt in haar bestaan.

Beryl het in rekordtyd haar eie vlieglisensie gekry en vlieg het haar loopbaan geword. Sy het lank posstukke gevlieg na alle uithoeke van Kenia, siek mense karwei, saam met Bror Blixen olifante opgespoor uit die lug voordat sy Engeland toe is. Daar het die droom van ’n rekordvlug ontstaan.

Haar biografie lees soos ’n roman, vol opwinding en seksskandes, haar outobiografie, West with the Night soos ’n literêre meesterstuk waarin Afrika ’n protagonis is.

Kontroversieël, moeilik, weerloos, skynbaar gewetenloos wat mans betref , maak haar klipharde wil, deursettingsvermoë en haar doodsveragtende moed maak van haar ’n fassinerende vrou wat ek waarlik bewonder.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top