Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Ode aan my man se vrou

  • 2

Liewe Sandra

Ons het mekaar nooit in lewende lywe ontmoet nie, my beste vriendin!

Ons het een gemene deler: jou man is my man en my man is jou man.

Julle was gelukkig getroud. Saam ’n wonderlike seun grootgemaak. In sy tienerjare, 14 jaar jonk, langs ’n oop graf van jou, sy ma, sy idol, moes hy afskeid neem …

Ek wil jou net laat weet dat dit goed gaan met jou man en seun! Altus is ’n suksesvolle sakeman, entrepreneur van formaat en ’n kind op wie jy trots kan wees! Jy het hom mooi geleer van die lewe, van waardes en beginsels en hoe om ’n meisie op die hande te dra! Vra maar vir Ilanie …

En dan is daar Rian.

Jou Rian.

My Rian.

Rian wat jou so mooi versorg het tot aan die einde. Met hom gaan dit ook klopdisselboom. ’n Toonbeeld van die beste pa en man waarvan enige vrou kan droom. Dankie dat jy hom geleer het hoe om ’n vrou te behandel, met liefde en respek en vertroue. Ons Rian, die gentle giant.

Ons was ewe oud, ek en jy. Op die ouderdom van 42 het jy gesterf sodat ek kon begin lewe. Jy was nog so jonk, in die fleur van jou lewe. Ons albei het ’n voorliefde gehad vir dieselfde parfuum, was ewe lief vir koerantlees.

Jy, die chatterbox. Ek, die stil een. Rian praat nog baie van jou. Jou herinneringe leef in ons huis. Jy hang teen my mure. Jou foto’s praat, vertel my jy wou nie doodgaan nie, jy wás lewe! Jou man en kind jou alles.

24 September 2003. Diagnose: Servikale kanker.

Die skrif is aan die muur. Jy gaan verhuis …

Op 24 September 2004 het die engele jou kom haal. “Ons gaan rose pluk,” jou laaste woorde.

Ek, jou begrafnisondernemer, het jou versorg met fluweelhandskoene. Ja, die Here het voorwaar ’n sin vir humor! Ek het ons man ontmoet by jou begrafnisdiens. Die eerste herdenking van jou dood, blomme vir jou! Rian moes dit op jou graf neerlê.

Tuisvideo’s. Julle Mauritius-vakansie. Jy lag. Kyk om. En ’n traan biggel oor my wang … Oor wat is. Oor wat was. “Sit dit af,” sing Johannes Kerkorrel. Nooit weer het ons video’s gekyk nie.

Ons trou in 2006. Hy, ’n wonderlike man vir my, nog steeds ’n great pa vir Altus, ’n liefdevolle bonus-pa vir my twee kinders en die beste oupa wat sy 3 bonus-kleinkinders voor kon vra.

Agter elke suksesvolle man staan daar ’n vrou. Agter óns suksesvolle man staan daar twee vroue: Sandra en Sonja!

Ek wil vandag aan jou hulde bring. Vir die vrou wat jy vir Rian is. Die ma wat jy vir Altus is. Jy leef voort in hulle harte! Hulle het en sal jou nooit vergeet nie.

Vandag steek ek ’n kers aan.

Vir jou.

Vir my.

Vandag steek ek ’n kers aan vir jou en julle.

Al my liefde.

Jou man se vrou.

Sonja

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Elize Moulder

    Sonja. Omdat ek die storie, die mense, die verwoestende verloop vd siekte en die rou hartseer ken, loop my trane oor oor hierdie pragtige ode aan Sandra.
    Hulle was alles wat jy beskryf.
    As vorige kollega onthou ek hoe hul liefde vir mekaar ons ander geïnspireer het. Ken ek Rian net soos jy hom beskryf, 'n man soos my pa was. 'n Groot man met n eindelose liefde en omgee vir sy gesin, met 'n kkein, klein hartjie waarin 'n wereld se omgee skuil.
    Is ek eindeloos dankbaar dat hy jou gevind het sodat hy, Altus en sy gesin onbevange hul vrou en ma kan bly liefhê en onthou. Nie baie mense verdra en gun hul nuwe lewensmaat hierdie pot goud nie.
    Mag die son voortdurend op jul liefde skyn en Sy Genade jul in reënboogkleure omvou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top