Vrouedag-skryfkompetisie: Moord in Niemandlaan

  • 0

Ons het gister
jou een-en-veertigste lewensjaar
gevier:
’n lewe vol konsertorkeste
en klein glimlaggies
en eindelose geduld.

Maar op een-en-veertig
en een dag
het jou liggaam misvormd in jou kamerjas gelê,
keelaf
strale wat skyn deur die gate in jou lyf.

Ons het in die klas gesit
en gedink jy is laat –
die afperiode gevier –
nou wens ek dat ek eerder bladsye en bladsye se bladmusiek moet memoriseer
en jou met daardie simpel fluit kan irriteer.

Jy het nog vroegoggend vir hom die hek oopgemaak
min wetend
sy angstige afwating
vir jou oproep
van roggelgeluide –
jy verstik aan jou eie bloed.

Jy, en Reeva
en die meisies van Stella
en sesduisend naamloses,
jaar in en jaar uit.

En jy sou hom nog steeds probeer vergewe,
jy het altyd gedink jy kon hom
(hulle)
red.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top