Vrouedag-skryfkompetisie: JK Rowling

  • 0

Die Byrds het in 1965 “Mr. Tambourine Man” opgeneem en Winston Churchill het ’n hartaanval gehad. Daar is veel meer noemswaardige gebeurtenisse wat in hierdie jaar plaasgevind het, maar dit is te veel om met ’n paar woorde te lys. Die mees merkbare gebeurtenis vir my? Die geboorte van JK Rowling.

JK Rowling is die skryfster van die Harry Potter-reeks wat eers met baie kritiek en teenstand ontvang is. Deur dik en dun het sy met die reeks volhard, al was dit verban in gedeeltes van die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk. Dit word gesien as so ’n slegte invloed dat die boeke al in die publiek verbrand is. Ten spyte van alles, het Rowling nooit die reeks van die mark onttrek of publikasie gestaak nie. Dit alles in die naam van haar getroue lesers.

Min mense besef dit, maar Rowling is al deur baie en het nog steeds aan die ander kant van die tonnel uitgekom. Sy is geterg as ’n kind en is geforseer om Frans te studeer na skool, in plaas van haar ware passie – Engels. Alhoewel haar lewe nie verloop het soos sy graag sou wou gehad het dit moes nie, het sy steeds vanaf ’n jong ouderdom aan haar droom geklou om ’n skryfster te word. Dit is toewyding!

Dit is wonderlik hoe sommige mense se brein funksioneer, is dit nie? Rowling het eendag vir ’n trein gesit en wag om terug te keer huis toe, toe haar verbeelding karakters en ’n storielyn begin verf het. Natuurlik wou sy dadelik begin skryf maar soos die noodlot dit wou hê, was dit die dag wat sy nie ’n werkende pen by haar gehad nie. Sy moes wag tot by haar huis voor sy kon begin skryf en teen daardie tyd kon sy bars van opgewondenheid. Dit was die begin van Harry Potter.

Voor die persepsie geskep word dat ek net na haar opsien omdat sy ’n ryk skryfster is, gaan ek sê wat sy vir my beteken. Dit is ’n stryd om eg te bly aan jou drome en waardes in hierdie wêreld. Rowling is ’n wonderlike voorbeeld dat dit moontlik is. Haar skryfstyl is merkwaardig en bind jou so aan haar boeke dat jy dwarsdeur die nag sal lees om die einde te bereik, net om te wens dat jy die einde langer kon uitstel. Jy hang aan elke woord ongeag hoeveel keer jy die boek lees. Sy neem jou weg van die wêreld waarin jy alleen voel. Alleen en misverstaan. Sy neem jou na ’n plek waar jy inpas en verstaan word.

JK Rowling het my weggeneem van die werklikheid, op die trein na Hogwarts, om die avonture te beleef wat sy so in diepte beskryf. Dit voel gans of jy deel is van die aksie. Sy is die vrou wat my laat uitsien na nog ’n dag. Sy is die vrou na wie ek opsien. Sy is die vrou wat ek onthou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top