Vrouedag-skryfkompetisie – Clinton V du Plessis is die wenner!

  • 20

Na bykans 200 inskrywings en ’n uitdagende keuringsproses het ons ’n wenner! Clinton V du Plessis is aangewys as algehele wenner van LitNet se Vrouedag-skryfkompetisie. Hartlik geluk, Clinton!

Die redaksie het vasgehaak by twee inskrywings en kon nie oor die beste een besluit nie. Dankie aan die bekroonde digter en letterkundige Lina Spies, wat dadelik ingestem het om ons te help om ’n wenner aan te wys:   

“Clinton V du Plessis se gedig getuig van ’n digter in beheer van sy instrument waarmee hy die menslike kondisie in sy gedig sober en sterk verwoord in ’n treffende gedig oor ’n ma-seun-verhouding vir vrouemaand.” ~ Lina Spies


Ma, imagine net

Sê nou net jy kon lees, ma
dink net,
dan kon jy met my bundels in die
son sit en spog
"dié het my laaitie self geskryf,
ek wonder waar kry hy die talent,
aard seker na sy pa – baie gedink."

Sê nou net jy kon skryf, ma
dink net,
dan kon jy aantekeninge maak van jou eie lewe:
vrugtefabrieke se hande-arbeid
joernale van vloerskrop
en bekhou en aanhou en uithou
’n bestaan met bitter min keuses:
ter wille van oorleef,
ter wille van ons.

Ma, imagine net, hoe wyd en oop jou wêreld sou kon wees
maar, hierdie munt het ook ʼn flipside
nou onthou jy disse sonder resepteboek,
oorleef jy, minus handleiding vir begeleiding van bejaardes.

Hier, skuins voor 93
durf jy daagliks die lewe en die dood aan
só sonder pretensie,
sonder pen,
sonder papier.

 

  • 20

Kommentaar

  • charlotte beukes-muundjua, Windhoek Namibia

    Bravo Clinton!! sy penne-vrug pluk aan die hart! baie geluk,
    baie geluk

  • Clinton, Nie net is ek ongelooflik trots op jou nie, maar jou aanvoeling om gebeure te verwoord, eerlik, so in die oomblik van jou onthou. Ek lees dit wat jy skryf keer op keer. Jy maak my deel van jou skrywe, soveel so dat dit vir my voel of ek jou ervaring persoonlik beleef. Welverdiende prestasie vir iemand wat sy talent met ons almal deel!

  • Baie geluk met hierdie werk. Dis treffend en sal my altyd bybly. Dit maak ook mens se oë oop vir ’n ander mens se wêreld.

  • Ester October

    Ek het gehoop jy sal wen! Wel gedaan aan jou en dankie aan LitNet vir die geleentheid om deel te neem aan die vrouedag kompetisie.

  • Gustaf Claassens

    Puik. En dan sinspeel jy dat jou onlangse bundel dalk die laaste was. Wat se bog is dit!?

    "Ma" is soos meeste ma's 'n wenner. Baie geluk.

  • Elize Nothnagel

    Jy tref my diep getref met hierdie eerlike wysheid van baie mammas in moeilike situasies, Clinton. Hierdeur lig jy ook die laken op sodat kinders kan sien wat moeders werklik moes deurgaan om aan hulle kinders dit te kon bied wat hulle bevoorreg was om te kon hé!🌹 Ek wens die jongmense van vandag wil hierdie gedig van jou twee maal per dag lees, sodat hulle iets kan verstaan van die werklike lewe van opofferinge en regte keuses wat soms gemaak moet word vir suksesvol wees as mens.

  • Almore Cupido

    Clinton ek het gister met jou gesels en jy se niks, tipies Clinton, nederig. Ek soek vanoggend toevallig iets op taalarsenaal en kom toe op hierdie juweel af. Clint, jy kan toor met die woord. n Digter het nog nooit n laaste gehad nie. Solank daar lewe is solank sal jy dig. Uitsonderlik! my vriend

  • Gerrit Boonstra

    Clinton het 'n uitsonderlike talent: 'n kunstenaar wat deur sy keuse van woorde lewende wêrelde van betekenis skep en oopmaak. Mens kan dit sien, hoor, ervaar. En dit rààk en verryk mens. Dankie daarvoor. Ek is bly ander sien dit ook raak en gee erkenning aan jou talent.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top