Vroue wat my inspireer vir Vrouedag 2017: inskrywings 1

  • 1

Let wel: Hierdie kompetisie het reeds gesluit.

Hier verskyn ’n paar van die eerste inskrywings wat vir die Vroue wat my inspireer-skryfkompetisie ontvang is.

Inhoud

Hendie Grobbelaar Moira Odendaal
Sunelle Geyer Hannes Snyman
Anzé Bezuidenhout Antoinette Lourens
Alida Marais Ivania van der Westhuizen
Riana Barnard Driekie Grobler
Riette Salzmann Antoinette Venter

 

 

Hendie Grobbelaar 

My stille inspirasie

Ons kon nooit saam te lank om een vuur kuier nie. Te verskillend, twee pole op twee planete – al het ons van dieselfde ouers gekom.

Ek was meer konserwatief, konsidererend, ’n regte softie wat gereeld oor alles kon kerm. My lewe fyn uitgewerk volgens wat sosiaal aanvaarbaar was.

Sy was ’n liberalis, reguit van geaardheid, so standvastig soos ’n muur. Sy het gelewe op haar terme en sy het geen toestemming daarvoor gevra of verskoning aangebied nie.

Ek was vyf toe sy my leer swem het  ̶  op haar rug in die diep kant, tot waar sy my gelos het om self te spartel tot by die kant. Sy was net ’n armlengte ver, maar tog.

 By die huis het sy my geboelie, maar by die skool het sy my afknouers bloedneus geslaan.

Toe die kanker haar begin verswelg, het die staal in haar geglinster. Almal om haar het uitmekaargeval, maar sy het staande gebly. Nooit gekla nie, nooit gevra hoekom nie, al moes die pyn, vrees en verlatenheid haar versmoor het.

My respek vir haar het in die laaste paar maande gegroei, hoe meer ek haar stryd gadegeslaan het. Ek het probeer om haar verlorenheid in haar siekte te begryp, maar ek het liederlik gefaal.

Ons laaste gesprek was telefonies; haar stem, blikkerig en moeg. Ek het gesê sy moet gesond word sodat sy een van haar meesterkoeke kon gaan bak vir haar verjaardag die volgende week. Sy het net tam gelag, en toe gehoes. O Here, dit het so seer geklink! Ek was bang  ̶  vir haar part, maar ook vir myne.

Sy was nooit my inspirasie nie; nooit ’n rolmodel nie, nie eens ’n vriendin nie. Sy was net my ousus. Op hierdie aarde geplaas om my lewe moeilik te maak, of so het ek gedink.

Maar sy was ’n kreatiewe vrou, formidabele raakvatter en organiseerder, alhoewel bitter hardkoppig en eiewys. Moeilik om te verstaan met ’n bitsige tong, maar met ’n hart van goud.

Haar siekte het haar dapperheid en krag openbaar. Nooit het ek gedink sy sou my inspirasie word nie maar haar onverbiddelike vasbyt en deurdruk het respek en bewondering afgedwing tot op die laaste dag.  

Haar nalatenskap aan my het heelwat later gekom. Ek het my eie swaarkry-episodes begin bevraagteken en analiseer. Was enigiets werklik so erg dat ek beheer moes verloor en in ’n patetiese bondeltjie verander? Wat was die werklike lengte van my eie uithouvermoë? Hoe ver kon ek myself druk voordat ek nie meer kon staande bly nie? Sou ek so ver soos sy kon gaan, en met waardigheid?

Die antwoord was opgesluit in haar opofferings en deurdruk. Ons is uit een boom gesny en dit maak my sterk vir wat ook al eendag wag.

Vandag is ek dankbaar vir haar voorbeeld van stille krag en diepte, veral in haar donkerste nag.

Ek is natuurlik ook dankbaar dat sy my nie laat verdrink het op vyf jaar nie.

(Opgedra aan my ousus, Elva Gouws, wat drie jaar lank met longkanker geworstel het en ’n dag na haar 54ste verjaardag begrawe is.)


 

Moira Odendaal

Poitjie Perkeer, wat ek langs die pad opgelaai het ... 

“Die mense wat ek lief het / Kom groei op my soos mos,” skryf  Stephan Bouwer en sing Laurika  Rauch.

“En daar laat ek hul na hartelus gedy.” So proe ek dit hier teen die voete van die Langeberge.

Liefde kom in baie tale en gebare, somtyds ook stomstil, ander male met klanke, maar dit kom ook uitsonderlik kleurvol hiér in die Overberg. Liefde wat met goudstof binne-in my hart griffel.  

Dié warm dag laai ek ’n vrou op wat ente loop vir haar daaglikse brood se verdienste. Ek reis lugverkoeld op die wapad langs haar voetpad, langs mekaar, dog eeue verwyder van mekaar. Haar pad is langer, meer stowwerig, moeisamer, so verwyderd van myne soos hout kap van borduurwerk. Sy praat min, antwoord eintlik maar net op my geselssoekvrae, maar met die groetslag belowe sy plegtig: “Nonna, eendag rol ek vir jou ok ’n klip in jou pad in!”  

O Professor, verskoon die growwe blaps! Maar dis met my hart dat ek die verminkte idioom aanhoor … aangryp. Ek voel die liefde, so ongelooflik warm en tasbaar in die eenvoudige sin, waar ons raaknaby mekaar in die oë kyk, in die intieme ruimtetjie van my koets. En ek is tot oorlopens vol van geluk, braaf genoeg om die idioom te herskryf.

“Rol die klip in die pad in, nie uit nie!” Want sien, haar lewe se paaie is anders as myne, dalk joune ook. Om hier ’n rusplek te vind, dis ’n skrale kans! Maar as iemand vir haar ’n klip kon inrol op haar pad, ’n plekkie om te verpoos, ’n sitplek verhewe bo die warm sand van die voetpad ... dis is mos ’n samaritaansgebaar! 

Hoe dikwels sien of hoor ons dinge, trek neus op want dit wyk af van die sogenaamde perfekte, en hoe mis ons nie die liefde in die oomblik nie. 

Ek wens vir julle elkeen ’n klip in die pad, my mede-Evas. Een vir elke pad wat jy moet loop. ’n Groot een, dat jy uitgestrek kan sit, gedrapeer, terug kan leun en die rotssterkte van die Skepper teen jou rug kan voel en in jou borskas inadem! ’n Breë een, jou eie stage, waar jy jou act kan act, al is die props tweedehands, die script nie perfek nie, die note effe vals, en waar aalwyne en kannas en proteas  ̶  die voetligte van die veld  ̶  jou gelaat ophelder tot sterstatus! ’n Hoë een, wat jou sal uitlig bo die nonsens-stront van elke dag, sodat jy met die baldadigheid van ’n kind sal wil uitklim tot die hoogste piek, en wanneer jy bo kom vir jou armvlerke sal maak en jy vry soos ’n voël sal voel, reusagtig hoog gelig, omhels deur die hemelblou. Nog hoër, dat jy met jou kop in die wolke loop, en nog hoër, so hoog dat God in jou oë kan kyk, in die intieme ruimte van sy koets.


 

Sunelle Geyer

 Ma

het vir ons gelees
ons na die
biblioteek geneem:
lewensiklus van die mot.
Ek het eers gedink dis stories
maar Ma het gesê dit is so
en ek het geglo

Ons moes baie legkaart bou.
Op twaalf, dertien het
siel en gees begin vasmaak
die stukkies onewerediger
heelwat meer en kleiner / groter
draakskubbe, Bybelverse en
blokkies van die periodieke tabel

Die prent is nog maar stuk-stuk
die boks is lankal weg, maar ek
leef so lekker in die raaisel.
Dankie daarvoor Ma. 


 

Hannes Snyman

Moederhen (My moeks)

Strelend, moederhande teer
haar sagte woord in aandgebed
biddend, liewe Jesus sag en teer
vra sy: kyk my kinders, help ons Heer

hoeveel duisend moedertrane
stroom van moeë liefdesoë?
rou en ruwe jaarringbane
diep geëts in afgematte hand

net soos altyd sag haar roede
met ʼn onvernietigbare liefde
met ʼn moederhen se woede
hou sy wag oor al haar kroos

Vader, Seun en Heil’ge Gees
laat haar seën bo haar verwagting wees


 

Anzé Bezuidenhout

Die seën van 'n moeder

vir die musiekleier, ’n psalm van Anna
’n kneg van die Allerhoogste welgeluksalig is hy
wat die liefde van ’n moeder besit
die hitte van haar omarming beleef
in die geheimenis is jy kunstig
in haar lende geweef
met moedersmelk reeds
is jou siel gevoed met ewigheidspyse
jou hoof met olie geseën en
het jou tree in groen weivelde vertoef
wyl jou tafel oorloop van liefde
omdat jy in jou kindskap haar eer
sal jy jubel in jou grondgebied en
geen onheil by jou tent ervaar


 

Antoinette Lourens

Mamma Eliez

Ons is tans ook deel van die snelgroeiende toebroodjie-generasie in die land. My 74-jarige moeder woon by ons. 

Mamma Eliez het ons woonstel, Grace, pragtig omtower in haar eie klein skuilhoekie vir haar siel. Sy is, en was nog altyd 'n groot yster in my lewe. Die Here het my regtig fenomenaal geseën toe Hy haar spesiaal vir my uitgekies het.

My moeder is 'n ongelooflik reguit vrou en soms nie baie taktvol nie. Ek deel dus graag die volgende staaltjie met julle, om dit te staaf.

René, my dogter, het toe sy so ongeveer tien jaar oud was 'n groen kortbroek gehad waaraan sy baie verknog was.  Die spesifieke dag waarvan ek nou vertel het my huishulp die groen broek gewas en gestryk, en per ongeluk gebrand. Die brandmerk was taamlik groot en die broek was totaal geruïneer.

Ek het op daardie stadium die huishulp en my moeder versoek om die insident vir eers te verswyg. Sou sy vra na die broek sou ons net meld die broek is seker nog in die was. (Ons was- en strykkamer was langs die huis.)

Die middag toe René oudergewoonte van die skool af kom en by ons aansluit, het die volgende gebeur: René het kom sit met haar tas nog op haar rug en nadat sy almal gegroet het, het haar ouma weggetrek en haar reguit gevra, "Onthou jy nog jou groen kortbroek?" René het geantwoord, "Ja, Ouma." My moeder het voortgesnel, soos 'n springhaas in die pylvak. "Jy het hom nou nie meer nie." Nodeloos om te sê, my kind was histeries, en wou weet wat dan nou? (Vandag nog prikkel die insident selfs my moeder se lagspiere.)

Ek waardeer mamma se eerlikheid. Sy is nie perfek nie, maar 'n opregte Godvresende vrou. By haar voete het ek Jesus gevind.  

Haar ouderdom het wel deur die jare ook aangestap. Haar gees is egter altyd gewillig, al sou die vlees ook soms wil faal. My moeder is my grootste aanhanger, en ek hare. Sy is ook die invloedrykste vrou in my lewe.

Ek vertrou haar oordeel altyd. Eerlik, opreg en flukser kan jy nie kry nie. Ek streef daarna om haar voorbeeld uit te leef. Watter voorreg om haar DNA-gene te mag deel. Mamma is talentvol ook, haar hande staan vir niks verkeerd nie.

Mamma se gunsteling woorde is, "My computer is nog skerp." Sy speel elke dag sudoku, en haar geheue is regtig vlymskerp.

Die gediggie dra ek op aan my mamma:

Mamma Eliez is vir ewig my held,
met haar aan my sy wen ek net veld.
Haar kennis is noemenswaardig,
haar dade is nooit ooit onwaardig.

Sy stel altyd die beste voorbeelde,
waardig drangeloos sonder weelde,
opreg en nederig met bitter min vrae,
God is die een wat haar altyd sal dra.

Ek salueer jou mamma Eliez!
Groete

Nettie


 

Alida Marais

O suster van my!

("I believe that these circles of women around us weave invisible nets of love that carry us when we're weak and sing with us when we're strong." – Sark)

O suster van my!
lig jou voete uit gister se gruwelike puin en roet
wat jou verwoed ingebrand laat leef
asof jy verduurde as is!
sprei jou dubbelgeveerde
skouers bolangs waar jy kleur kry
in die houvas van die son!
want jy verdien om somerdeurspoeld
te staan en te vermeerder in lig
en lig jou oë
soos oopgehorte vensters
en sien! sien hoe jy buite die status quo
van opgetelde staan
want ek sién jou!
en ek weet van jou soos ek weet van myself
en om hemelsnaam hou op!
óp met die kulkuns van jou gekerfde lag
want ek sien jou pyn en weet van jou
agter elke gegletserde kyk
ek weet want ek was daar toe jy breek!
ek was daar in jou gister
toe patriargale omhelsings jou mis gekoester ’t
en jou voete nie vinnig genoeg
’n skoot kon inadem nie!
ek was daar toe siembamba seerder was
as ’n lied in die drankdeurdrenkte gange van tyd en plek
en ek was daar!
daar toe jou verstaan van liefhê
tot verwrong geskaad is
daardie eerste lief wat jou hart
soos ’n riet gebreek het
ek was dáár!
daar toe jy ’n flikkering van ’n ma word
die één wat op water kon loop
maar nou op kraakgrond staan
want jou kinders het van jóú hart vergeet
en jou beste was nie goed genoeg nie
ek was daar toe alles tot stilstand kom
en ’n laaste wink jou ma word soos ’n niet
ek was daar toe jy moes leer van dood
en die dag toe dae ophou skyn het
ja ek weet van jou
en ook hoe die geweerloop van tyd
jou dae aan sekondes meet
tot in die onderste laag van jou gees
want die vlees het lank reeds afgewyk
van koel briese en godsalige nagte van sweet
ek weet, ek weet ja!
dat jy roubande oor jou hart moes trek
om deur nog ’n dag te kom
al bid jy
bid jy
bid
jy van die hand na die mond
soos een wat die minste verdien
en ek sien! ek sien hoe jy klippe kou
terwyl jou vingers die vaardigheid van sag moet in
en ek is daar as die son sak soos ’n nag sonder sterre
want ek wéét van jou!
en ek ín jou soos bloed van my bloed
want my hart pols-pols-pols
die bitter nadraai
van omkeerbare onverstaanbare
arms vol seer soos joune
en my voete watertrap
in onvergenoegde seë
tot ek jou anker
in mý hier en nou


 

Ivania van der Westhuizen

Sy 

Koud-wit haar rok
Soos haar gelaat 
Dis al wat ek onthou
Daardie dag van rou

Sy, ons ma
Sy, ons pa
Sy, ons alles

Vyf gesiggies weerloos teen die pyn
Hopeloos in verdriet, ook sy
Tog styg sy bo die pyn van haar eie hart 
Sy troos en help en versorg  

Minute word ure
Ure word dae
Dae word maande
Tyd het verbygegaan
Sterk en groots haar liefde
Dag vir dag dieselfde gebly
Om haar die vyf wesens wat gedy

Sy,
In haar diepe jare
Sy,
Net ’n hart van liefde

Sy, my ma
Sy, my pa
Sy, my alles 


 

Riana Barnard

Vroue wat my inspireer

Ek sit in die motor voor ’n wegneemete-plek en kyk na al die mense wat so heen en weer skarrel. Vrouedag, ek was lus vir regte egte slap chips en vis vandag, wou nie kook of braai nie. Ek probeer om minder opmerklik na die vrou te kyk wat vir ’n hele rukkie al links van die winkeldeur staan. Haar hare lyk of dit so stuk-stuk met ’n mes afgekerf is. Rooi gekleur, of liewer dit was eens op ’n tyd rooi. Die grys het al oral uitgegroei en die rooi is nou so snaakse pienk. Ek kyk na haar growwe hande en die afgedopte pienk naellak terwyl sy sukkel om haar sigaret aangesteek te kry in die wind. Sy staan met ’n papiertjie in haar hand en luister na die gebrommel in die winkel. Ek besef sy wag vir haar bestelling. Dit is haar kliëntenommer wat daarop is. ’n Opgeskote meisiekind kom kry die papiertjie by haar en verdwyn weer in die winkel. Sy kom na ’n paar minute uit met ’n plastieksak en gee dit vir die ouer vrou. Waar hulle almal vandaan gekom het weet ek nie, maar eensklaps was daar drie dogters en nog ’n seun om die vrou. Sy lag hartlik terwyl die kinders kwetter om haar. Sy maak die sak oop en gee vir elkeen ’n stukkie vis en broodrolletjies. Dit laat my meteens dink aan die vermeerdering van die vissies en broodjies. Net soos Jesus daardie dag, deel die vrou die kos aan die kinders uit. Hulle drink almal beurt-beurt uit dieselfde koeldrankbottel. ’n Swanger meisie kom ook nader en vra of haar ma vir haar ook kos gebêre het. Soos ek kan aflei wil sy kos hê vir die kêrel ook wat ’n ent verder op sy motorfiets sit en rook. Dadelik raak ek sommer ergerlik. Die niksnut, hy werk nie, maar kom sit en wag vir ’n stuk kos van ’n ou vrou wat dit tien teen een met haar welsynstoelae gekoop het. Die eienaar van die winkel  kom uit en begin skel oor die lawaai wat  die spul skarminkels voor sy winkel maak. Die vrou kyk hom aan sonder enige begrip, want hulle lag dan net. Dan sak ek my kop en dink, Here, ek salueer hierdie vrou. Ek dra haar aan U op. Sy inspireer my soos niks vantevore nog ooit kon nie. Ek moet, nee, ek wil betrokke raak by vroue soos sy. Sy het tog dieselfde drome as ek gehad. Ek was gelukkig. Ek salueer elke vrou wat swaarkry en sukkel maar nog steeds kan deel en liefde uitstraal. Wat wye mond kan lag al is daar meer as een tand weg. My man kom uit met die kos en ons begin stadig huis toe ry. Waar is daardie vrou se huis? Waar bly al die kinders, is almal hare en het sy ’n man? Hoe het hierdie vrou haar kinders groot gekry en waar het syself groot geword? Wat was haar drome? Wat sou sy graag wou word? Ons stop by die rooi robot en ek kyk in die oë van die vrou wat nader aan die kar kom. Voor sy nog iets kon vra gee ek haar die papiersak met die kos. My man kry amper ’n oorval maar ek maak my ore toe en sluit hom uit. Ek het pas besluit ek gaan die vrou help. Mevroue, julle was my inspirasie. Nie suksesvolle goed geklede dames nie, nee julle wat bitter swaar kry en nog steeds kan aanhou. Julle inspireer my. 


 

Driekie Grobler

Jani Allen

wyd het jy geswerf
naby het jy geval
voetspore fyn uitgekerf
’n eggoklank wat wegsterf

drome reënboog gespan
berug, bemind, bekend
selfs ’n blik gegun op Kanaän
maar verhoed om daar in te gaan

sou jy dalk wou herroep
die klingel na glansmunt
met leë beloftes in waarde soek
die kontrakkleur op jou skilderdoek

sou jy weer trots, kop omhoog
’n laaste poging aanwend
om woordpyl gespan in vuurdoop
opnuut die wêreld storm te loop

ek bewonder jou brawe moed
jou wil en deursettingsvermoë
om ontsnapte drome weer te soek
die grotes uit te trek aan jou hoek

ver het jy gaan draai
naby weer kom staan
om die wêreld te wys
jy kán weer koning kraai


 

Riette Salzmann

Helen se hande

Ek sien jou hande
twee ou pelle
doen gesels-gesels wonderwerkies
deel liefde uit asof dit gewoonte is
maak mooi maak heel maak plan
met dit wat die spens oplewer

’n Stukkie van die, ’n skeutjie van daai
was ek bygelowig, 
was jy ’n sangoma
meel sneeu uit jou palmkelke
kieliedeeg ril tussen behendige vingers
lig rys die brood
en warm suis my hart
op jou lappieskombers

Jou hekelpen glip-gly gemaklik 
deur die garesteke
ons bestaan word aanmekaar geweef
’n veilige vangnet
vir ons drome

Ek smile as ek dink 
aan jou hande:
my engelvriendin
wat magic maak uit alledaagsheid


 

Antoinette Venter

Die anatomie van ʼn heldin 

Hy vind haar naakte liggaam half bedek onder die oranjegeel stekelblaartjies van die Strelitzia-bos. 

Terwyl hy op die polisie wag maak sy oë vraagtekens oor haar figuur.

Haar oë – glasig. Bleekblou damplek van soveel opgehoopte trane. Later die weerkaatsers van diepe empatie.

 Haar lippe – koud. Senuwee-gevulde omverskoningvraers. Later reg-soeners van pyn.

 Haar nek – blou gekneus. Wurgpilaar van woede. Later die pilaar waarop ander se laste sou rus.

 Haar boesem – pap. Leeg gesuig. Later die rusplek vir iedere moeë gees.

 Haar hande – knopperig. Skropmeganismes. Later voeders van vele.

 Haar maag – verrek. Broeiplek van ondankbares. Later die baken van vertroosting.

 Haar voete – vereelt. Stomp geloop agter aanvaarding. Later die fondasie waarop die uitgeworpenes hul hoop sou bou.

 Haar naam – wie weet? Later moeder Theresa van die bosslapers.

 Mag sy saliger rus as wat sy geleef het, dink hy, terwyl hy sy enigste baadjie oor haar gooi.

  • 1

Kommentaar

  • Elsabe de Beer

    Ons is so trots op lede van SA Skrywers en SA Digters wat hierdie mylpaal behaal het. Baie,baie geluk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top