Vroue wat my inspireer vir Vrouedag 2017: wenner aangekondig

  • 2

Altesaam 38 inskrywings is vir LitNet se skryfkompetisie, “Vroue wat my inspireer”, ontvang. 7 deelnemers het die kortlys gehaal, en een van hulle is die wenner van ’n heerlike boekpakkie.*

Die wenner is Sunita Keyser met haar ongetitelde vryvers-essay. Martie Retief Meiring was die beoordelaar.

Hier is Sunita se inskrywing:   

ek staar na die handboek
sien die spysverteringskanaal van mond tot anus
die dikderm wat reghoekig om die dunderm span
die werwelkolom en lewegewende senuwees
laaste periode biologie
wat is in die vliet van ’n jong mens se gedagte
bekommernis oor die eksamen
’n droom oor die toekoms
ek hoor ’n ambulans
dit was toe my ma
’n vragmotor het voor haar ingedraai
haar motor het gerol
ander onthou daardie jaar omdat dit gesneeu het
die swart teerstrate was wit
mense het mekaar met sneeuballe gegooi
en nie werk toe gegaan nie
op die voorblad van die koerant
was ’n sneeuman met ’n wortel vir ’n neus
ek het my ma se bleek hand houvas
gekyk hoe haar urine in ’n plastieksak drup
en haar trane oor die kussing loop
die ortopeed het geopereer
my ma se rugmurg met ’n lepeltjie geskep
by die huis was ’n gedruis van stemme
sy sal nooit weer kan loop nie
in die hospitaal het hulle haar lang swart vlegsel afgesny
dat net happe en ’n sliert oorbly
want sy moes vir lank  baie lank
net doodstil lê
en van toe af het net die hondjie my kom groet
as ek van die skool af kom
baie aande het ek skoolkind
wat nie kos kon kook
vir my pa net boeliebief en klitseier gemaak om te eet
maar hy het nooit ’n woord gekla
maande later op ’n blye dag
het my ma met wiele onder haar
en struikelblokke voor haar
huis toe gekom
alles is te hoog
en rystoelwiele kan nie trappe klim
bed op en bed af
stoel op en stoel af moet iemand help
rooi brandstrepies op haar arms
om sywaarts op die stoof te kook
soms met naaldwerk steek
verlore spelde in haar been
ag ek voel tog niks lag sy dan
soms droom sy van tennis
word dan wakker wreed
met bene wat nie kan
troos sy dan haarself  ag toemaar
ek het buitendien so vrot gespeel
op ’n keer toe sy buite
die tuinslang sleep
sak die klein wiel die sagte aarde in
en tuimel sy vooroor
maar al moet sy daagliks ly
is ek  ek net heeltyd bly
oor die koester van haar sagte arm
die warmte van haar gees om my
want die huis was vir lank onmeetbaar
so bedroef en vreeslik leeg
en eindelik word sy die ankerplek
die kragtigheid en toeverlaat van
elke ander met wie haar paaie kruis
op vrouedag veral en elke ander dag
wil ek eer betoon aan
vroue wat op wiele leef
rystoelvroue

Hier is Martie Retief Meiring se terugvoer oor die kortlys en die wenner se inskrywing:

“Vroue wat my inspireer” was die onderwerp van die LitNet-skryfkompetisie om Vrouedag in Augustus te vier, en uit altesaam 38 inskrywings is sewe gekeur.

Die opdrag was om in 600 woorde gedigte, stories of ware verhale oor inspirerende vroue te skryf.  

Die woordbeperking het die skrywers genoop om met ’n interessante aanslag ’n kerngedagte te kommunikeer. Daarom die kort sinne, soms selfs staccato-sinne. Dikwels sinne sonder werkwoorde, of eenwoordsinne. Hierdie raaksê dui dalk op ’n gelukkige invloed (en uitdaging) van die huidige tegnologie. Dit vra dan ook van die leser om stiplees toe te pas, wat in sigself ook ’n aangename ervaring is.

In die sewe gekeurde stukke het die skrywers na spesifieke vroue en ook vrouwees verwys. So kom ma’s, susters en voorgeslagte aan bod, en in twee gevalle ook die grensvrou – meestal dié vroue met wie ons nie gewoonlik in aanraking kom nie..

Die wen-essay deur Sunita Keyser het geen opskrif en ook geen leestekens nie en daar is geen rym nie. Dit is inderwaarheid ’n vryvers-essay, ’n skryfvorm wat deesdae toeneem, nogal dikwels in die Amerikaanse letterkunde – vgl die digter/skrywer Billy Collins.

In die bestek van haar 600 woorde het die skryfster ’n ganse storie vertel van haar ma se ongeluk, verlamming en indrukwekkende rolstoellewe. Van die dramatiese (goed onderspeelde) skok tot die bewondering word vernuftig boeiend vertel.

Hendie Grobbelaar het ook aangrypend – darem ook met ’n skeut humor – in “My stille inspirasie” ’n grafskrif vir haar suster geskryf. Dis ’n suster wat nooit haar beste vriendin sou wees nie, ene wat haar sonder hulp in die swembad laat spartel het, maar wie se laaste pynlike siekte haar, die skryfster, met die treffende woorde “sy was net my ousus” gelaat het.

Antoinette Venter se bydrae, “Die anatomie van ’n heldin”, gee inderdaad ’n sterk anatomiese ontleding weer van die lyk van ’n vrou, ’n bosslaper, wat in die veld gevind is. Venter se beskrywings is grusaam-aangrypend – die reste van ’n vrou wat eens geleef het, geëet het, gevoed het, gely het. Die kleurbeskrywings van die lyk is onthutsend sterk teenoor die patos van die agtergeblewe man.

Met “My ma het my geleer” skryf verwys ook Sidney Gilroy na die grensvrou – ’n skarrelaar wat haar huis stelselmatig ingerig het uit die goed wat sy opgetel het. Op Dinsdae was sy ’n huiswerker vir ’n ongevoelige werkgeefster. Maar dan het daar ’n tydjie gekom wat sy in die tiener se kamer kon insluip en die woorde in boeke met ’n amper ekstatiese vreugde kon bestudeer. Hierdie stuk dra ook die elemente van ’n teaterteks. Is die skryfster inderdaad die dogter van die vrou wat die woorde in die tienerkamer gaan soek het?   

Michael Potgieter loop in sy essay “Oumagrootjie” terug in die geskiedenis om die destydse amper ontoelaatbare romanse tussen sy Boere-oupagrootjie Wynand en die Engelse Victoria Shelley net na die Anglo-Boereoorlog te onthou. Oupagrootjie het later wel sy hart gevolg en self vir Victoria in Engeland gaan haal en teruggebring Suid-Afrika toe, waar Victoria amper ikoniese status (en liefde) in haar nuwe familie en nageslag gevind het.

“Stiefma” deur Carla de Villiers dui op die aandoenlike alleenheid van die stiefma wat ewig moet terugstaan vir die regte ma. Sy is die een wat versigtig moet trap, op die agtergrond bly. De Villiers huldig dan die stiefma dat sy wel eendag getroos en gedenk sal wees. Die onverwagte empatie vir die gewoonlik ondankbare rol van die stiefma word sterk hier uitgebeeld.

En dan, heel van die steelkant af, huldig Wendy Anthonie haarself in “Ek is ’n XXX-vrou”. Hierdie heerlike self-inkyk na haar lewe, uitdagend feministies ook, het so lekker gelees dat ek die skryfster ’n klop op die skouer wou gee. Anthonie is eerlik oor haarself (sy is nie prentjiemooi nie); sy is eerlik oor haar strewes – sy het geklouter, gestreef na wat sy wou, en op 63 vaar sy steeds die lewe in met durf en krag. Inderdaad ’n inspirerende vrou – nie net vir haarself nie, vir ander ook.

*Prys

Sunita Keyser wen ’n boekpakkie met die volgende boeke wat deur NB-Uitgewers (Human & Rousseau, Tafelberg, Lux Verbi) en LAPA Uitgewers geskenk sal word:

Vroue na aan my hart 
Hannes van Wyk

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172646

In Vroue na aan my hart val die kollig op vroue en vrouwees. Skink ’n koppie tee en skuif reg vir ’n hartsgeselsie met ’n vriendin. Daar’s so baie om van te kies: Carike Keuzenkamp, Elize Cawood, Anna Neethling-Pohl, Michélle van Breda, Emsie Schoeman, Mariëtta Kruger, Ingrid Jones en selfs Evita. Kry ook ’n blik op die vroue na aan Hannes: sy ma, oumas, vriendinne. Humoristiese vertellings – soms selfs lekker stout – sorg vir lekker lees en weer-lees.


Paaie van hoop
Nadia Beukes

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320117

Ons almal se paaie lyk nie dieselfde nie. Net omdat jou pad anders is, beteken dit nie daar wag nie ’n gelukkige einde nie. Glansaktrise Nadia Beukes nooi jou saam op die paaie wat sy al geloop het: kronkelpaaie, bergpasse, en soms ook ompaaie. Só leer ken ons die ware Nadia weg van die kalklig. Sy deel haar verhaal van diepe hartseer, maar ook van uitbundige vreugde.


God praat Afrikaans 
HemelBesem

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799382761

Luister na die braste, 
wat kruisbeen oppie trap sit.
Behalwe entertainment, kry ’n taste wat Afrikaaps is!

Aitsa, sy boots het stars ..
Aitsa, hy’s soe die star ...
Aitsa, gloe dis waar ..
Hy’s John Wayne in Afrikaans!

Sy kop in die wolke ... en sy voete stewig op die aarde.

Dit is HemelBesem. 

In hierdie boek nooi dié gewilde kletsrymer jou om saam te stap op sy lewenspad. Hy gesels reguit oor die dinge wat hom gevorm het, die sake wat hom na aan die hart lê ... en hy doen dit in die taal van sy hart. 

Afrikaans. 

Oor sý Afrikaans sê hy: “Afrikaans is ’n groot deel van wie ek is. Dis die taal waarin ek my in oomblikke van woede kras uitgedruk het. Dis die taal waarin ek goed gesê het terwyl ek baklei het, waaroor ek agterna spyt was. Dis die taal waarin ek liefkosing uitgedruk en ontvang het ... As Ma geskel het, of jy bang was ... dis alles momente, en alle momente vorm my bestaan.”

Daarom nooi hy met hierdie boek lesers om ’n ander Afrikaans te leer ken. Elke hoofstuk het Afrikaanse uitdrukkings uit sy grootword- en leefwêreld as vertrekpunt, en dit is vervleg met sy bekende kletsrym-lirieke waarmee hy vlymskerp kommentaar lewer op maatskaplike kwessies en dinge wat hom na aan die hart lê.


50 Blaaskansblokraaie 8
Suzanne van Niekerk (Samesteller)
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799379662

In vandag se gejaagde lewe is dit uiters belangrik om ’n gesonde balans tussen werk en ontspanning te skep. Om tyd te maak vir aktiwiteite wat jou ’n blaaskans gee is nie ’n luukse nie, dit is ’n noodsaaklikheid.


Vrouekeur kreatiewe en inspirerende jaarbeplanner
Janine Bevolo-Manders
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799379846

Die Vrouekeur kreatiewe & inspirerende jaarbeplanner bestaan uit ’n versameling van Janine Bevolo-Manders se boodskappe, verpak in die vorm van ’n nuttige jaarbeplanner met oorspronklike illustrasies deur Rina Burger, ’n plaaslike kunstenaar, en illustreerder van die blitsverkoper ROUGE, inkleurboek vir grootmense.


Early One Sunday Morning I Decided to Step Out and Find South Africa
Luke Alfred 

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075530

South Africa is a country rich in pathways, tracks and roads – both tar and gravel. It is also a country of wonderful stories, blessed with a varied, colourful and contested history. 

For more than a year veteran journalist Luke Alfred walked South Africa’s roads through cities, countryside and everything in between. 

Early One Sunday Morning I Decided to Step Out and Find South Africa tells the stories of some of the country’s most interesting and sometimes forgotten places.

  • 2

Kommentaar

  • Baie geluk, Sunita; ek het jou gedig op die kortlys gelees en self gedink dit het baie meriete. Mens kan sien waarom jy haar gekies het as iemand wat jou inspireer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top