Vroue se idees oor godsdiens

  • 2

Ek verwys na die brief wat Perdebytjie geskryf het met die titel "Is vrouens nie bevry genoeg om hul sê oor godsdiens te sê nie?" Alhoewel sy heeltemal na die ander kant van die geloofsmunt verwys, voel ek nou weer dat niemand enige agting het vir 'n vrou wat haarself ten gunste van Godsdiens uitspreek nie.

Ja, in my daaglikse lewe, waar ek met geloofsvriende asook gemeentelede te doene kry, dra ek met vrymoedigheid my Geloofsboodskap oor. Tog as mens op webtuistes soos SêNet, Nuus24 of Rapport probeer getuig, is daar 'n magdom van ateïstiese mans wat mens ontsettend afkraak en beledig. Ek het so 'n skok gekry toe ek die eerste keer op SêNet oor Geloofsake begin praat het, want ek kon nie glo hoe erg neerhalend en afbrekend die ateïste hier is nie.

Dalk moet Perdebytjie bietjie kyk hoe min vrouens hier getuig, teenoor die hoeveelheid manlike ateïste! So dalk ervaar ek en Perdebytjie dieselfde vorm van diskriminasie, al is sy beslis verkeerd oor Geloof. Dit is omtrent net Kobus en af en toe Erika Henn wat vanuit 'n Christelike perspektief skrywe. Ek dink ook nie dat hierdie enigsins die gevoel van die bree gemeenskap verteenwoordig nie! Ek ken weinig goddeloses in my daaglikse lewe, en dit lyk asof die klein groepie van diesulkes saamkoek op die internet, bloot om gal te braak teenoor Christene. En ek voel dat die mans, by verre die ergste is! Geen wonder die normale Christen verkies om eerder op 'n persoonlike wyse ons Geloof te deel nie, teenoor die ateïste wat dit ewe skaam vanagter 'n rekenaar doen. Pleks hulle uitkom en in die oopte hulle saak stel. Te bang?

Kyk ondermeer na die kommentaar wat mense soos Cornelius nou weer oor my maak. Heeltemal ongevraagd en afbrekend. Dit is die tipe houding waarmee die Christen – vrou daagliks gekonfronteer word as sy dit durf waag om haar Christelike toewyding te deel. Die rede hoekom vroue minder as mans Getuig, is omdat die paar manlike ateiste en aanhangers van drekgode (Cornelius Henn), uit hulle pad gaan om ons goeie bedoelinge te beledig en sake wat vir ons van belang is, as belaglik af te maak. Cornelius het natuurlik gehoop ek reageer op sy onvanpaste kommentaar, sodat hy my verder kan beledig, maar ek staan sterk in my Geloof.

Dieselfde geld ook vir die vroue wat oor politiek praat. Elke keer as ek my mond oopmaak oor politieke sake, dan word ek bespot en geskel. Ek het al 'n paar here hier uitgevang, wat my belaster oor my politieke standpunt, maar dan 'n paar dae later, alles wat ek skrywe beaam, en dan nogal erger regs en rassisties as ek voorkom. (Johan Wiese). So ek dink die feit dat ek 'n Christen – vrou is maak van my 'n besliste teiken. Ongelukkig vir hulle is ek al te uitgeslape om verder met hulle siek speletjies te speel.

Waarlik, julle moet almal besin, want geen gesprek is moontlik met mense wat vanuit die staanspoor jou aftakel, bloot omdat jy bekend is as 'n Christen nie. Pleks julle die inhoud evalueer en introspeksie doen, voordat julle so lostrek en reageer soos wat mens maar net van julle ateïste kan verwag.

Tant Alie

  • 2

Kommentaar

  • Tant Alie,

    Foeitog, lyk my ek en jy staan sterk saam as dit kom by diskriminasie. Dit wys net weer eens hoe mense met ontsaglike verskille (ek-ateis teenoor jou-christen) saamgesnoer kan word deur gemeenskaplikhede soos minagting van en diskriminasie teen vroue

    Se jou se tannie en moenie dat agressiewe mans jou stilmaak nie!

  • Tant Alie, As jy 'n vrou is en 'n Christen of Mohammedaan, moet jy jou man onderdanig wees en verder jou bek hou. Die Bybel sê so.

    As jy 'n vrou is en 'n ateis, is jy vry om te sê wat jy wil. Daar's g'n heiige boek wat iets aan jou voorskryf nie.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top