Vroom of regsinnig? – Kerkhistorikus André Olivier reageer

  • 0

Brummer se uitstekende boek kan gesien word as ’n roetekaart van die teologiese denkrigtings en diskoers in die NG Kerk van die tweede helfte van die 19de en die begin van die 20ste eeu. Die helderheid waarmee hy dit doen, is ’n groot bydrae van sy werk tot ’n beter verstaan, gesien die kompleksiteit van die besondere historiese tydvak in Suid-Afrika, maar ook die breër agtergrond (ook Europees en Amerikaans) waarteen dit geskied het. Hy kon dit helderder sien as baie in en na die stryd. Hy is immers in die jaar van die afloop van die Du Plessis-saak gebore en vanweë sy familieverbintenis met Du Plessis en sy medestanders het hy ’n aanvoeling gehad vir die dampkring van die “vroom” voorstanders. Hy kon dit ook beter doen gesien die jare van in Nederland gesetel te wees wat aan hom ’n gesonde afstand gegee het. Dit gee tog, ten spyte van sy voorkeur vir die een hoofrigting (“vroom” bo “regsinnig”) redelike objektiwiteit.

Die komplekse geskiedenis wat deur die boek gedek word, verwys na die pot waarin baie bestanddele beland het en goed geroer is deur stryd en konteks. Die vrees vir die modernisme (universeel, maar ook in Suid-Afrika) het die verweer daarteen in verskillende gestaltes laat ontwikkel. Indien twee hoofrigtings onderskei moet word, was daar enersyds die sogenaamde Neo-Calvinisme (Kuyper-invloed) en andersyds die Princeton-invloed vanweë studente uit Suid-Afrika wat daar studeer het. Beide word onder die sambreel “regsinnig” onder die loep geneem deur Brummer. Hierby kan ons voeg, maar met onderskeid, die invloed van die fundamentalisme uit die Suide van die VSA (Kentucky) (by name DR Snyman). Die bekendstelling hiervan is ook deur andere in Suid-Afrika bevorder. Binne hierdie stroom was daar die temperende invloed van Bavinck uit die Nederlandse konteks met sy eweknie in hierdie verband in Suid-Afrika, BB Keet (ook ’n promovendus van die Vrye Universiteit). Beide uit die stal van die Vrye Universiteit te Amsterdam, maar meer bemiddelend as hulle voorganger, Kuyper. Laasgenoemde eksponente (Bavinck en Keet en andere) wou, ter versagting van hierdie rigting (“regsinnig”) nie konfessionalisme bevorder nie , maar eerder konfessioneel wees – konfessioneel in die sin wat die middelgrond in die tradisie van die NG Kerk behoort te wees. Anders gesien dat die NG Kerk bekend wil wees as ’n “belydeniskerk”. Die egte fundamentalisme waarna hier bo verwys word, het nie ná die Du Plessis-saak regtig oorleef nie. Wel die Neo-Calvinisme.

Die ander rigting, waarna Brummer verwys as “vroom”, dui die sogenaamde Irenies-Etiese rigting (Reveil uit Nederland) met sy wortels in die Utrecht-tradisie aan. Dit het aangesluit by wat ons ook kan noem die Bybels-apologetiese rigting. Dit was aan die orde aan die Kweekskool voor 1920. Hierdie rigting het die uitdaging gehad om die vernuwingspogings wat veral Du Plessis op die tafel gesit het, op ’n manier te laat rym met die “vroom” tradisie wat hulle voorgestaan het. Hierdie worsteling het as bedreiging oorgekom vir die “regsinnige” rigting. Daar was ook die kritiek van die gevaar van subjektivisme wat met die aksente van hierdie rigting saamgeloop het. Een van die kritieke vrae was: Wat was die grond van ons sekerheid? Die “regsinniges” wou dit soek in objektiewe waarheid, terwyl die “vromes” gewys het op die inwendige getuienis van die Heilige Gees. Natuurlik het dit die deur oopgelaat vir die moontlikheid van subjektivisme.

Die pot waarin al hierdie tradisies in Suid-Afrika beland het, is veral ongemaklik geroer deur die bekendstelling van en aandrang op vernuwing (deur veral Du Plessis) in ’n tyd toe vernuwing bedreigend was (modernisme) en Du Plesisis se styl aanstoot gegee het (sterk polemies). Dan was daar die aantreklikheid van die nasionalistiese invloed van Kuyper se Neo-Calvinisme, asook die armblankevraagstuk en droogte wat die deursnee-lidmaat van die NG Kerk nie ontvanklik gemaak het vir vernuwing nie. Hierteen het Murray gewaarsku.

Die gevolg was dat die Irenies-Etiese (“vroom”) rigting plek gemaak het vir die Neo- Calvinisme na 1920 en veral na die afloop van die Du Plessis-saak in 1932. Dit is ingelui deur afgestudeerde studente van die Vrye Universiteit en Princeton wat die promovendii van Utrecht begin vervang het. Hierin was veral EE van Rooyen ’n sterk voorbeeld.

Die insigte en aanbod van die “vroom” rigting, wat veel meer organies as fundamentalisties te werk wou gaan, is algemeen verwar met modernisme. Eintlik was die aanbod van hierdie (“vroom”) rigting op voetspoor van die tradisie van die Kweekskool en as behoudend bedoel. Dit was net te veel en te gou vir wat die kerk toe kon hanteer. Toe die kerk uiteindelik van Du Plessis ontslae geraak het as professor, is die kind saam met die badwater uitgegooi. Daar was baie meer gematigde stemme, soos Murray en Keet, wat die positiewe insigte en aksente wat Du Plessis voorgestaan het, veel verder as Du Plessis sou neem. Die kerk het egter genoeg gehad van stryd.

Die gevolg was ook die demping van teologiese ontwikkeling vir dekades wat sou volg.

En toe! Terugskouend – wat was dan die eintlike tradisie/rigting van die NG Kerk? Was die vroom rigting nuut en anders en daarom onwelkom? Of kan ons dieselfde sê van die regsinnige rigting? Is dit die een of die ander?

Dit is ou nuus dat die saak met Du Plessis besleg is deur ’n keuse met ’n meerderheidstem. Daar is van Du Plessis ontslae geraak sonder om die saak (vir ’n tradisie) uit te klaar. Die geskiedenis sou dit uitwys.

Ons moet insien dat die NG Kerk is in sy wese ’n “akkommodasie-kerk” is. Daar woon meer tradisies in die huis van die NG Kerk as die vroom of die regsinnige tradisie.

Tot 1920 het die vroom tradisie die botoon gevoer. Daarna het die regsinnige die botoon gevoer.

Dit was ook nooit regtig net die een of die ander nie. Beide tradisies was maar altyd aanwesig.

’n Kentering het egter met tyd ingetree. Elemente van die vroom tradisie het weer hulle regmatige plek ingeneem (toenemend) en dit is veral sigbaar in die afwesigheid van groot dogmatiese “sake” en sigbaar in musiek (van die hart), liturgie, die ekumene (akkommodering) en in die praktyk van gemeentes. Daar is meer verdraagsaamheid en sagter grense tussen denkrigtings en selfs denominasies.

Hierdie ontwikkelinge het plaasgevind sonder dat modernisme (Skrif-liberalisme) ’n bedreiging of oorweging vir die kerk geword het (amptelik). Die NG Kerk bly (amptelik) daartoe verbind om die Bybel as Woord van God geïnspireerd te onderskryf, asook om ’n belydeniskerk te wees.

Ons sien ook hernude aandrang daarop dat die kerk ’n missionale kerk moet wees. Die herontdekking van die drang tot sending en evangelisasie (vandag ander begrippe) wat geleef het in die kerk van Murray en Du Plessis en ander word hierin teruggevind. Dus is dit nie die een of die ander (ten opsigte van intensie) wat die ideaal sou wees nie, maar ’n gesonde verhouding tussen vroom en regsinnig. Vroom in die sin van ’n “love affair” is beslis aan die orde; nie vroom in die sin van eng piëtisme nie. Die lewende verhouding met die lewende Here is ’n egte tradisie van die NG Kerk. Maar ook om belydend en getuigend kerk te wees eerder as om konfessionalisme (juridiese intellektualisme) te bevorder.

Ek wil dit waag om te sê dat Willie Jonker ’n gesonde balans van beide in homself uitgeleef en deur sy werk bevorder het.

Brummer se boek kan groot helderheid bring vir mense wat die veranderinge in die NG Kerk beleef, maar nie seker is waar dit vandaan kom nie. (Hier moet ons egter ook rekening hou met evangeliese invloede uit die VSA.)

Hierdie boek verryk die verstaan van die NG Kerk en haar worsteling om haarself terug te vind tot getrouheid aan ’n gesonde verhouding tussen hart en verstand in ons aanbidding.


Lees ander bydraes in die seminaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top