Vroom of regsinnig?: Europese storm ook op pad na Suid-Afrika

  • 0

Ek het die studie van professor Vincent Brümmer met groot belangstelling gelees. Ek is natuurlik geen teoloog nie, maar ’n politieke joernalis en historikus wat my veral met die politieke en krygsgeskiedenis besig hou, en ek is nie so seker of ek die regte persoon is om aan dié gesprek deel te neem nie.

Nietemin, ek is lidmaat van en ouderling in ’n reformatoriese kerk, en as sodanig is ek wel op beskeie skaal besig met die onderwerp wat Brümmer in die boek behandel.

As politieke historikus is daar vir my ’n leemte in die boek. Dit is die feit dat hy net sydelings die invloed van die teologiese gesprek in die NG Kerk, en dan veral die Du Plessis-saak, op die politieke en sosiale geskiedenis van Suid-Afrika betrek. Die wyse waarop professor Johannes du Plessis se relatief vrysinnige omgang met die Bybelteks (en spesiaal sy houding rakende die sending) deur die regsinniges platgetrap is, het immers ’n rol gespeel in die radikalisering van die Afrikanernasionalisme in die jare dertig. En dus kan ’n mens ook die streep verder trek na die ontstaan van die apartheidsbeleid waarin die Afrikaanse kerke, veral die NG Kerk, ’n beduidende rol gespeel het.

Dat Brümmer dit nié doen nie, maak sy boek effens minder relevant. Soos dit nou staan, is dit ’n teoretiese boek vir teoretiserende teoloë. Dit sal waarskynlik hoogs interessant wees vir professore in dogmatiek en etiek, maar vir die minder ingewyde gelowiges soos ek nie so erg nie.

Maar miskien is dit slegs ’n kwessie van persoonlike belangstelling. Brümmer skryf eenvoudig en helder, en die boek is ongetwyfeld ’n bydrae tot die teologiese wetenskap in Afrikaans.

Maar daar is nog ’n aspek.

Die sentrale probleem wat hy bespreek – die NG Kerk in die verlede voor die keuse tussen wat ek sou wou noem liefdevol vroom of teologies streng regsinnig – is een wat vandag steeds relevant is, ook in Nederland, waar ek tans woon. In die hele Europa is die kerk in mindere of meerdere mate in ’n bestaanskrisis gewikkel. Dit geld veral vir die gevestigde hoofstroomkerke, Protestant én Rooms-Katoliek, maar selfs die charismate ontsnap nie heeltemal daaraan nie.

Dis nie dat die Europeërs “belydende ateïste” á la Richard Dawkins of George Claassen is nie; inteendeel. Tot 60% van die mense in Europa glo in iets diepers, maar weet nie mooi wat nie. Hulle soek, maar kry nie die antwoorde in die gevestigde kerke nie.

Teen dié agtergrond worstel die kerke, ook die kerkraad van die gemeente waaraan ek behoort, met die vraag: Hoe kry jy die mense, veral die jonges, terug in die kerk? As jy op ’n gemiddelde Sondag agter in ’n gemiddelde kerk sit, sien jy veral grys hare.

Een van die vrae wat die kerke dus besig hou, is presies die probleem wat Brümmer behandel: Vroom of regsinnig? Steeds minder Europeërs hou hulle besig met die fyner punte van die teologie wat Brümmer behandel. Presies wat is die aard van die Drie-eenheid? Watter belydenisskrifte moet geld? Het die slang in die Paradys gepraat? Hoe kon Jona in die vis se maag pas? Was Christus se geboorte maagdelik?

Vir die regsinniges – dié wat altans oorgebly het – lê sulke vrae dikwels in die sentrum van hul geloofslewe. Dit verveel die ander. Dit dryf hulle juis weg van die kerk.

Hulle soek singewing. Hulle soek iets wat dieper is as die leë materialisme wat hom van die Westerse kultuur meester gemaak het.

Met ander woorde, jy gaan die kerk in Europa nie met regsinnige teologie red nie. Met vroomheid, met die liefde van Christus en die – om ’n ouderwetse begrip te gebruik – gemeenskap van die heiliges, staan jy ’n kans.

Die Protestantse Kerk van Nederland (PKN), waarvan ek tans ’n lidmaat is, is besig om te eksperimenteer met “pionierspunte” om die jonges vir Christus en die kerk terug te win. ’n Groep jonges sal eenvoudig in ’n huiskamer of selfs in ’n kroeg om ’n tafel gaan sit, uit die Bybel lees en ’n gesprek – darem meestal onder leiding van ’n dominee – oor hul geloofslewe voer, en wat geloof in hul persoonlike lewe beteken. Hulle vind dit baie sinvoller as om passief in ’n erediens te sit en na ’n vervelige preek vol clichés te luister.

Dié probleem is nog nie so sterk in Suid-Afrika as in Europa aanwesig nie. Maar die grappie lui mos dat die vlieënier van ’n passassiersvliegtuig vanuit Europa by aankoms in Suid-Afrika aankondig: “Dames en here, welkom in Suid-Afrika. Draai asseblief u horlosies 30 jaar terug.” En inderdaad, die storm wat Europa met volle geweld getref het, is ook na Suid-Afrika op pad, al sal dit daar ’n eiesoortige karakter hê.

Dis jammer dat Brümmer die implikasies van die op sigself prikkelende vraag – liefdevol vroom of streng regsinnig – nie vir die aktuele situasie uitgestippel het nie. Ook dít sou die boek meer relevant gemaak het.

Dis ’n knap studie, soos ’n mens van ’n teoloog van Brümmer se statuur verwag. Maar ek twyfel of die boek se invloed veel wyer gaan strek as predikante en teologiese akademici.


Lees ander bydraes in die seminaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top