
Foto: Canva.com
Vroegdag in Augustus
Dit is vroegdag in Augustus;
die donker sleep nog saam.
Hier waar jou arms my omsirkel,
skryf die nuwe dag sy naam.
Kierang my mosaïekgedagtes,
met jou lentelag so sag,
en pamper my gemoed,
met jou kyke vol van prag.
Spoel jou kabbelende liefde
deur my hart se dorre akker.
Neem my smagting aan die hand;
maak die vrou in my weer wakker.
Kyk hoe breek die son papajagoud
oor Magaliesberg se kruin.
Aalwyne staan kelkies in die lug,
en teug aan dagbreek se rein witwyn.
Dit is vroegdag in Augustus;
die donker het gekwyn.
Hier waar jou arms my omsirkel,
het nag se skimme stilweg verdwyn.


Kommentaar
Dis beautiful, Drienie.
Altyd lekker wanneer jy saam lees, Theresa. Baie dankie, ek waardeer jou opreg.🌹
Baie mooi gedoen hier, Drienie.
Baie dankie, Andries!💝
Hoe kan een mens so baie skryftalent hê?
Dis die mooiste mooi, Drienie.
Jy is te goed vir my, baie dankie liewe Mich.💝