Vroedvrou: Kan ’n dokumentêr jou iets van jouself teruggee?

  • 0

Hierdie skrywe is nie ’n resensie nie. Dit is my innerlike gedagtes oor die Vroedvrou-dokumentêr.

Dit het begin toe ’n vriend vir my ’n artikel oor Noord-Kaapse vroedvroue van die Universiteit van Pretoria (UP) gestuur het. Ons is beide trotse Noord-Kapers – ek van Barkly-Wes en hy van Upington – en ’n liefde vir die provinsie en sy mense dink ek is die rede waarom ons so vinnig en goeie vriende geword het.

Vroedvrou is geskep deur Siona O’Connell, ’n professor in Afrikastudies en ’n lid van die Skool vir die Kunste, en Loretta Feris, regsgeleerde en UP Visehoof: Akademies aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Ek het ’n onderhoud met hulle gevoer en Siona het die hyperlink na die verkorte weergawe van die dokumentêr op die webwerf van die eNCA se nuus- en aktuele sake-program, CheckPoint (DStv, kanaal 403), gestuur. Sedert ek die skakel ontvang het, het ek die 23 minute en 48 sekonde-program vyf keer gekyk.

Sien, my ouma was ’n smeervrou – sy het vroue en babas gesond gesmeer. As tieners moes ons (ek en my niggie) gewoonlik die Vaseline gaan haal, water kook, windpoeier en Lennon-produkte bymekaarsit.

My oumagrootjie was ’n vroedvrou – kennis wat sy moes aanleer nadat hulle na Longlands in die Noord-Kaap (ongeveer 51 kilometer buite Kimberley) verhuis het. Mediese hulp was in daardie tye baie ver, so die vroue moes help.

Ons familie het beide hierdie vroue verloor en net my ma se jongste suster is al een wat by hulle die vroed- en smeertradisies geleer het:

  • Iemand met hoë koors word met asynwater afgespons.
  • Babas met ’n spoelmaag (diarree) word behandel deur perskeblare met Castor-olie op hulle maag te sit.
  • My oumagrootjie het ’n windpoeier vir babas geskep.

My antie het redelik kennis, maar daar is toenemend vrae oor die rate wat mamme Essie (my ouma) of ouma Annie (my oumagrootjie) gebruik het en wat verlore gegaan het. “Waarom het ons dit nie neergeskryf nie?” is ’n gereelde vraag en ek het soveel berou. Ek het altyd gedink ek sal genoeg tyd hê om dit neer te skryf. Ek het dit nooit neergeskryf nie en baie van hierdie kennis het verlore gegaan.

Toe ’n vriend vir my die artikel oor die dokumentêr Vroedvrou gestuur het, het dit my keel van trane toegedraai. Dankie was my onmiddellike reaksie. Dankie aan die regisseur, Siona O’Connell, en die uitvoerende vervaardiger, Loretta Feris.

Toe ek die verkorte weergawe gekyk het, was ek weer 15 jaar oud besig in die sitkamer met my ouma wat roep nadat sy die vroue en kinders gesmeer het.

Die taal, die kennis, die omgee is so mooi in hierdie dokumentêr vasgevang – dit het iets aan my teruggegee wat ek nie eens geweet het ek mis nie: ’n stukkie van mamme Essie en ouma Annie.

Gaan kyk dit, asseblief!

Lees ook op Voertaal:

Vroedvrou (Midwife) bewaar ’n rykdom van inheemse kennis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top