Vriende Van Afrikaans word ’n filiaal van die ATKV

  • 0

Op Vrydag 5 September 2014 is die jaarvergadering van die Vriende Van Afrikaans (VVA) op Stellenbosch gehou. Tydens dié geleentheid is eenparig besluit dat die organisasie ’n filiaal van die ATKV sal word. Die besluit is deur verskeie samesprekings voorafgegaan en was onmiddellik van krag.

Izak Lessing

Vóór die opname het die waarnemende voorsitter, Izak Lessing, ’n kort oorsig gegee oor die werk wat die VVA die afgelope twintig jaar gedoen het. Hy het ook hulde gebring aan wyle Johan Combrink en sy gade, Louise, wat baie gedoen het om die organisasie te stig. Lessing het ook genoem dat Louise Combrink, die huidige voorsitter, siek is en dus nie in staat was om die vergadering by te woon nie. Sy het egter ’n brief van ondersteuning gestuur.

Amanda de Stadler

Daarná het Amanda de Stadler, die hoof uitvoerende beampte, kortliks ’n oorsig oor die afgelope jaar se bedrywighede gegee. Lesers wat belangstel in die werk wat die VVA doen, kan gerus hulle webblad, www.vriendevanafrikaans.co.za, besoek en klik op “Projekte”. De Stadler het hulle heel nuutste projek vermeld, naamlik leeshulp vir kinders in Kayamandi wat deur hulle ouers na Afrikaanse skole gestuur word. (Klik hier vir foto’s van dié projek, waar boeke wat deur LAPA geskenk is, in Kayamandi uitgedeel is.)

Japie Gouws

Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, het op daardie stadium kortliks die ATKV se visie vir die voortbestaan van die VVA gedeel. Gouws wil graag dat die werk van die VVA, wat tot onlangs grootliks op die Wes-Kaap gefokus het, landswyd moet uitbrei. Hy het voorts gesê die ATKV wil graag sien dat die VVA se werk alle sprekers van Afrikaans moet bereik. Die vorige sensus het gemeld dat daar 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes in die land is, van wie 50% bruin mense is, 40% wit, 9% swart en 1% Indiër. Dan is daar meer as 12 miljoen mense wat Afrikaans as ’n tweede taal praat.

Die ATKV beywer hulle vir inheemse tale, en die gesprekke wat hulle in die sakewêreld voer met die regering en instansies soos die SABC, is altyd daarop gerig om die belang van alle inheemse tale oor te dra. Die ATKV het meer as 70 000 lede en 309 takke landswyd. In die vorige boekjaar het die ATKV R65 miljoen aan kultuur bestee.

Dít is wat die ATKV graag aan die VVA wil bied, het Gouws gesê. (Besoek gerus www.atkv.org.za om meer te wete te kom.)

Met onmiddellike ingang word alle lede van die VVA nou ATKV-lede en daarmee saam sal alle lede van die ATKV van nou af die VVA se nuusbriewe en ander kommunikasie ontvang. Die takke van die VVA sal waarskynlik ATKV-takke word, maar die VVA se identiteit gaan nie verdwyn nie. Die naam en die logo van die VVA bly behoue. Al verskil is dat meer mense nou toegang tot die werk van die VVA het.

Izak Lessing het toe vrae toegelaat. Enkele punte oor die bestaande beleggings en ander bates van die VVA is uitgeklaar en daarna het Lessing gevra of die vergadering bereid is om tot ’n stemming oor te gaan. Daar is eenparig besluit om die VVA by die ATKV in te lyf.

Eenparige besluit

Amanda de Stadler sê hierdie ooreenkoms verseker die voortbestaan van die VVA en versinnebeeld ’n groei vir Afrikaans. Vir Japie Gouws ondersteun hierdie ooreenkoms die ATKV se strategie om Afrikaans se voortbestaan as hoëfunksietaal sowel as gebruikstaal uit te bou.

Ná enkele waarderende woorde uit die gehoor vir die harde werk van die VVA se spitsraad gedurende die onderhandelinge is die vergadering verdaag en almal is genooi vir sop en toebroodjies – ’n ou tradisie wat onder die nuwe vaandel voortgesit sal word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top