Vrees perpetueer onkunde

  • 17

Ek was so rukkie uitlandig en het so bietjie met ander dinge besig geraak. Maar soos ’n tipiese verslaafde het ek tog so nou-en-dan ingeloer op die Sê om te kyk wat al my ou vrinne aanvang. Soos baie dinge in ons geliefde land, het niks verander nie. Jan Rap mor steeds oor Afrikaans en die politiek terwyl Dirk, Angus en Panda moedig probeer om sinvolle gesprekke met behoorlike redelikheid en wetenskaplike onderbou te voer. Die gewone koortjie van Raed-na-Gael, Kobus de klerk, FC Boot en Dolf, probeer steeds hard om Suid-Afrika se posisie as een van die lande met die mees oningeligte en onkundige bevolkings in die wêreld, in stand te hou. Angus se onlangse skrywe oor kreasionisme en evolusie het my weer aan die dink gesit en lus gemaak om weer die koortjie se moere te roer.

Een van die mees belangrike wetenskaplike ontdekkings en teorieë wat tot op hede gemaak en ontwikkel is, is die teorie van evolusie wat deur Darwin op 50-jarige ouderdom in 1859, op die tafel geplaas is. Vandag is die evolusieteorie tot vervelens toe deur direkte empiriese navorsing bevestig en uitgebrei en ontwikkel tot ’n bevestigde wetenskaplike feit en is dit in derduisende portuurgeëvalueerde publikasies ontleed en verfyn. Alle fossielvondse ondersteun die teorie en die voorspellings wat op grond van die teorie gemaak word, word telkens bevestig – soos dit ’n behoorlike wetenskaplike teorie betaam. Daniel Dennett noem die teorie in sy boek, Darwin’s Dangerous Idea, ’n universele suur wat deur enigiets sal eet. – “Darwin’s idea – bearing an unmistakable likeness to universal acid: it eats through just about every traditional concept, and leaves in its wake a revolutionized world-view, with most of the old land marks still recognizable, but transformed in fundamental ways.”

In 2009, in aanloop tot die 150-jarige herdenking van die verskyning van Darwin se epiese werk On the Origin of Species by means of Natural Selection in 1859, is die vraag aan meer as 10 000 volwassenes in 10 lande gevra, of hulle die evolusieteorie onderskryf. In Suid-Afrika, een van die tien lande, het slegs 42% van die respondente positief geantwoord, en sodoende in die 9de plek, net voor Egipte, geëindig.

Onkunde oor die wetenskap in die algemeen en die evolusieteorie in die besonder, is natuurlik die grondoorsaak van hierdie verskynsel. ’n Domastrante weiering om feite te aanvaar word gemotiveer deur ’n onrealistiese geloof in onbewysbare gode wat maar net altyd daar was. Geen bewyse nie – net geloof! Uit die aanhaling uit Daniel Dennett se boek hierbo is dit duidelik dat hierdie onlogiese optrede aangevuur word deur ’n fanatieke vrees vir die die universele suur van Darwin, wat hulle ou bekende landmerke gaan transformeer.

Vandaar die opskrif van my plasing vandag.

Groetnis
Thomas

  • 17

Kommentaar

  • Hi Thomas,
    Sonder om te veel te sê wil ek tog jou volgende twee opmerkings uitwys. Eerstens: "om weer die koortjie se moere te roer." Fantasties man, jou hoë dink van jouself is bo alle twyfel ... so asof jy dit regkry ... jy misgis ons jammerte vir jou, as woede.
    Tweedens is jou opmerking: "Alle fossielvondse ondersteun die teorie" so kosbaar vanaf 'n selferkende "wetenskaplike" soos jouself, terwyl dit juis die ding is wat ou Darwin se teorie totaal gesink het.
    Groete
    Dolf

  • Kobus de Klerk

    Jy misgis jou liederlik - daar is absoluut geen vrees vir Darwin se 'suur', soos jy dit noem nie, net absolute weersin in so 'n leuen. Jy moet probeer leer wat die onderskeid tussen weersin en vrees is. Darwinisme bied niks wat ons bevrees sal of kan maak nie, want ons weet wat uiteindelik daarmee sal gebeur - dit sal verkwyn soos al die dwaalleringe voor dit, ten spyte van julle verbete pogings om dit aan die lewe te hou. Die weerstand daarteen is al meer gerig, ferm en intens - veral omdat mense weens die wye publikasie daarvan meer kennis daaromtrent bekom en dus ingeligte kritiek kan lewer ten aansien van die ernstige gebreke daarvan.
    Die bewering dat die evolusieteorie tot vervelens toe deur direkte empiriese navorsing bevestig en uitgebrei en ontwikkel is tot ’n bevestigde wetenskaplike feit, is 'n hersenskim en 'n eensydige siening. So baie ander veel meer waarskynlike feite word eenvoudig deur die darwinistiese teoretici oor die hoof gesien, bloot omdat hulle nie oor die kennis of metodes beskik om met hul gebrekkige wetenskaplike metodes daarvoor te toets en te ondersoek nie gepaardgaande met 'n dom weiering om hul kennisbasis daaromtrent te verbreed en uit te brei.
    Die grootse fout wat julle maak is om te meen dat dit wat empiries nagevors word, bloot net op die fisiek waarneembare berus, terwyl empiriese kennis insluit alles dit wat gegrond is op ervaring of proefneming. Dit is juis hier waar julle absoluut vaal, want deel van die ondervindelike is juis ook nie fisies waarneembaar nie maar speel net so 'n kardinaal belangrike rol soos die fisieke. Dus voldoen julle nie eens aan die basiese beginsel en vereiste van werklik, objektiewe wetenskaplike benadering nie. Julle sluit doelbewus 'n baie belangrike empiriese ervaringsveld uit en dit is waar julle gruwelik faal wat nog die ondergang sal beteken van jul geliefkoosde teorie wat ten doel het om God uit die hele skeppingsproses van lewe te probeer uitskakel.

  • Ai Thomas
    As alles wat in die Bybel staan en beloof word wetenskaplik bewys kon word sou jy mos nie 'n ateïs gewees het nie en geloof onnodig gewees het.
    Saam met alle ateïste begaan jy ook die die fout om te kenne te gee dat as jy Jesus Christus aanvaar as jou enigste Verlosser, jy evolusie moet verwerp. Praat van mense onkundig hou.

  • Beste Thomas,
    Dankie dat jy weer kom help met die opvoeding van ons grotbewonermentaliteitsvriende. Dis maar 'n ondankbare taak, maar dit moet gedoen word, anders leef ons saam met mense wat nog dink dat dit eers sal reën nadat daar gedans, op die vloer rondgekruip en gebid is.
    Groete,
    Angus

    • Angus

      Iewers in een of ander antieke geskrif staan die pragtige woorde: "Die oes is groot maar die arbeiders min".

      Ons sal maar net moet probeer torring aan daai skille oor die koortjie se oge - dis ons roeping!

      Gaan jou wel
      Thomas

  • Dagsê Dolf

    Miskien moet jy vir ons die fossiele uitwys wat Darwin se teorie gesink het. Onthou, ons soek wetenskaplik gefundeerde navorsing – nie bog wat jy vanaf 'n kreasionistiese webwerf “copy en paste” nie.

    Groetnis
    Thomas

  • Ai tog Kobus

    Soos jou hele geloofstorie maak jy alweer allerhande stellings sonder om jou te steur aan die nodigheid om bewyse vir jou stellings te verskaf.

    Bring vir ons die empiriese navorsing en portuurgeëvalueerde artikels wat aandui dat die evolusieteorie ‘n hersenskim is en dan praat ons verder.

    Verduidelik vir ons meer van jou empiriese ervaringsveld wat dan nou kastig deur wetenskaplikes geïgnoreer word. Weereens bring vir ons die navorsing wat hierdie ervaringsveld verifieer en dan praat ons verder.

    Opinies, en veral jou opinie, is maar uiters verdag. Met jou geskiedenis van die ontkenning van die sigbaarheid van Jupiter se mane, is jou aanspraak op geloofwaardigheid maar bra skraps. Gee vir ons net een bewys van wat jy beweer en dan kan ons dit oorweeg.

    Groetnis in kammaland
    Thomas

  • Dagsê FC Boot

    Dis ‘n belangrike punt wat jy maak FC Boot. As julle gelowiges sê dat julle dinge bloot glo omdat dit lekker is of, omdat dit vir julle 'n sin in die lewe gee, kan ek heeltemal daarmee saamleef. Waarteen ek dit het is wanneer julle die wetenskap verdag probeer maak om legitimiteit aan julle geloof te gee. Deur byvoorbeeld die geldigheid van 'n wetenskaplike feit soos evolusie te verwerp bloot omdat dit in stryd is met 'n storietjie wat in 'n antieke geskrif opgeteken is, is mos nou sommer net laf.

    Groetnis
    Thomas

    • Beste Thomas
      Jy skryf :"Waarteen ek dit het is wanneer julle die wetenskap verdag probeer maak om legitimiteit aan julle geloof te gee. Deur byvoorbeeld die geldigheid van 'n wetenskaplike feit soos evolusie te verwerp bloot omdat dit in stryd is met 'n storietjie wat in 'n antieke geskrif opgeteken is, is mos nou sommer net laf."
      Jy is 'n bietjie agter die tyd. Ek het vrede met Christene soos Kobus de Klerk, wat geregtig is om te glo wat hy glo.
      Wat ek wel teen jou stelling het, is dat dit impliseer dat geen Christelike wetenskaplike
      die wetenskap kan beoefen sonder om 'n ateïs te word. Reeds in 2004 het die RK-kerk evolusie as 'n aanvaarbare wetenskap aanvaar toe dit die volgende op skrif gestel het:
      http://www.catholic.com/tracts/adam-eve-and-evolution
      Besoek ook gerus 'n webblad soos http://www.factandfaith.co.za/ en jy sal op die web lees.
      "Publications that fully reconcile evolution and the Big Bang Universe, with belief in the Creator God. We live on an earth that is billions of years old."

  • Beste Dolf,
    Laat ons bietjie hoor hoe die fossielvondse Darwin se teorie gesink het. Dit sal interessant wees.

    Dan sê jy sommer vir ons op watter teorie die wetenskap nou gebaseer is. Dit kan net die Bybel en die skeppingsverhaal wees. Wil jy my sê dat alle navorsing, alle medisyne, nou oorboord gegooi word? Maak hulle nou die siekes met gebed gesond in die hospitale?

    Laat weet, man. laat weet! Ek is bleddie nuuskierig.
    Groete,
    Angus

    • Dagsê Dolf,
      Jou kortaf NEE is eintlik maar ’n bekentenis wat neerkom op: “Nee, ek kan nie”. ’n Verskoning daarbý aan Thomas aan wie jy die kluitjie probeer verkoop het, sou nie onvanpas wees nie.
      Goed gaan,
      Panda

  • Beste Dolf,
    Moet nou nie al daai kennis van jou en jou navorsing sommer so in die doofpot stop nie. Uit daarmee; hoe het fossielvondse Darwin se teorie gesink, en watter model gebruik die wetenskap nou?
    Groete,
    Angus

  • Beste Kobus,
    Darwin se evolusieteorie het vrees by die Christen ingeboesem. Thomas misgis hom nie, en almal weet dit. Vandat sy Origin of Species verskyn het, is daar 'n angstige geskarrel in die Christen-hoenderhok. Van toe tot nou is die evolusieteorie hewig aangeval deur kerklike instansies, dominees, ouderlinge en lidmate van kerke, kreasioniste, Intelligent Design-gelowiges, noem maar op. Kyk maar hier op SêNet. Jy en jou koortjie kraak julle koppe om tog maar net die haatlike evolusieleer af te kraak. Dolf beweer dat die fossielvondse Darwin se teorie gesink het, en jy vertel hoe dit "vaal" want volgens jou is die onsienlike ook deel van die empiriese ervaringsveld, en dit word nie deur die "julle" in ag geneem nie.
    Nou wil ek by jou weet, hoe kan 'n mens spoke en hersenskimme, wat tog nie fisies waarneembaar is nie, in ag neem by toetsing?
    Die evolusieteorie is geen "geliefde teorie" nie. Lyding van mens en dier is toe te skryf aan evolusie (nie aan God soos julle Christene glo nie. Ai! as ek God was, sou ek julle klomp Christene swaar gestraf het vir hierdie godslaster.)
    Evolusie van die lewe is egter 'n voldonge feit, en daaraan kan niks gedoen word nie. Soos swaartekrag, kan ons dit nie wegwens nie. Dis die model waarop die wetenskap gebaseer is. Die Bybelse model het in onbruik geraak, omdat dit nie meer aan die wetenskap se doel beantwoord het nie.
    Groete
    Angus

  • Beste Dolf,
    Nee, nou kry ek jou regtig jammer. Daar is letterlik duisende boeke waarin kreasioniste die bevreesde evolusieleer wil afkraak. Jy het self gesê die fossielrekord het Darwin se teorie gesink, en nou skrik jy omdat ons bewyse soek. Kom, ek sal jou help. Daar is 'n oulike boek geskryf deur Luther D Sutherland, getiteld Darwin's Enigma: Fossils and other problems. Ek sou jou my kopie gestuur het, maar ek lees te lekker hoe "bewys" word dmv fossielontdekkings, dat daar onmoontlik 'n gemeenskaplike voorouer vir lewende wesens kon wees.

    Lees dit en dan hoef jy nou nie agteruit te steier met 'n "Nee" as ons jou so 'n paar bewysies vra nie.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top