Vreemdeling

  • 0

reukloos
met donkermaan
bring die wind hom aan wal
kleurloos
spoorloos

langvinger roer hy in die pappotte
spoeg slymblertse in die watertenk

op straat buk en luister hy
na die fetusse se duimsuig
in die mae van vroue

in die drinkplek lek hy die glase uit
blaas kersies dood by partytjies

sonder skoenafdrukke
sonder sleepsel
sonder skubbe of hare

tussen dromme vuur
hurk die laaste mense
en hyg deur doeke om hul monde

maar sy afspraak is in ’n volgende dorp
met tieners deurtrek van drif
wat hom tart met tieties en torso’s
in ’n web van ligte

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top