Liewe Broer PW
Vir die tweede keer in my lewe willig ek toe in toe Nicolette my vra om as seremoniemeester by haar onthaal op te tree!
Toe sy my vertel dat Brendin die bruidegom ’n Bain is en die hoeveelste agterkleinseun van die bekende Skotse padmaker-pasmaker-skilder-joernalis-digter-argeoloog Andrew Geddes Bain (arriveer 1816), die immigrant uit Skotland en bouer van onder andere die Bainskloof-, Van Rhyneveld-, Houwhoek- en vele ander passe en paaie in die Kaapkolonie, het ek as amateur familienavorser byna op my rug van verbasing geval en geesdriftig oor die uitnodiging geraak!
Dat sy seun Thomas, wat sy pa se amp as pasbouer-ingenieur voortgesit het, daarby nog die heel eerste digter in, en vroeë optekenaar van Afrikaans in 1838 was met sy bekende, al was dit maar ’n platvloerse spotgedig, Kaatjie Kekkelbek, het my as liefhebber en student van die Afrikaanse letterkunde nog meer opgewonde en geesdriftig oor haar keuse van huweliksmaat gemaak.
Natuurlik sou ek as familieman nie die kans versmaai om na jou kleindogter Nicolette se stamboom as Durand te verwys en by die Bains af te steek nie, en het na my uitleg van Brendin se grootjie en sy rol in ons geskiedenis direk daarna na ons Hugenote voorsaat, die Drakensteinse heemraad Jean Durand op sy plase La Motte en Frederiks Berg (behoort tans aan Johann Rupert en baron de Rothchild) asook sy rol as chirurg en diaken-ouderling van die Franse Gemeente ingegaan.
Ek herhaal vir die voordeel van die jonger familielede: Ons stamvader (geslag a tot by i) maar veral sy kleinseun Jan Durand c3, is vir nadere betragting uitgesonder en ek het genoem dat Jan Durand (jy sal onthou dat die van as "Doerang" genasaleer is en die wortel het duursaam of verduur beteken tot taalkundiges dit verkeerdelik soos du Preez met du Randt vervang het! Hy het reeds in 1776 saam met ander ingeperkte Rhoodesand- en Swartlanders na die Baviaansrivierwyk in die teenwoordige Bedford-distrik geemigreer.
As heemraad van Graaff-Reinet, soos opgeteken in F A van Jaarsveld se 100 Historiese Dokumente, was hy die ontevrede burgers se driftige spreekbuis by die vergadering van heemrade in 1795 toe Graaff-Reinet hom onafhanklik van die VOC verklaar en landdros Maynier in die pad gesteek het.
Ek het ook na sy seun Jan d4 en dapper kleinseun, kommandant Jan Durand e1 verwys, met inagneming van die rol wat die Durands van Pearston, Albanie, Uitenhage en Somerset aan die kant van landdros Andries Stockenström en die regering gespeel het om die Slagtersnek Opstand tot 'n spoedige einde te bring (Jy onthou J A Heese se Slagtersnek en sy mense.).
Ek het verder daarna verwys dat dit deur Jan c4 se seun, Jan Jonathan d4 asook laasgenoemde se seun Pieter Willem e6 was dat die bloedlyn regstreeks tot by wyle mnr Pieter Willem Botha, ons gewese staatspresident geloop het en dat die groot getal Durand- rebelle uit die Kaap-kolonie en spesifiek die Oos-Kaapse Middellande deurgetrek kon word. Hulle het ook hul lewens en huis en haard prys gegee om aan die twee Boere-republieke se kant teen die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog te gaan veg.
Van hulle almal het ek egter die naam van die rebel Frans Engelbertus Marx Du Randt (sic: Durand) van Bamboesfontein, Adelaide uitgesonder wat as rebel gevonnis en dapper op die walle van die Visrivier buite Cradock aan sy einde gekom het.
Daarna eindig ek met die name van die jonger twee wêreldbekende regstreekse nasate van Agter-groot-grootjie heemraad Jan Durand c3, naamlik Roger Federer, wie se moeder Lynette Durand-Federer ’n sewende geslag nakomeling van die einste Jan Durand c3 is, soos ook Jannie Durand, die hoof van Remgro, ’n ewe merkwaardige presteerder via die bloedlyn van sy wyle moeder, ’n nooi Du Randt van die Vrystaat en eerste vrou van die bekende prof Jaap Durand van Belhar Belydenis-faam.
Broer ons almal het toe die egpaar wat hulle, soos jy weet, in die Baai kom vestig teen hierdie stamboom-agtergrond, hartlik geluk gewens en hulle letterlik kinders by dosyne toegewens.
Mooi loop!


Kommentaar
My donner! Is daar nog enige gelde beskikbaar wat hierdie ryk here Durand in hul testamente aan familielede beskikbaar gestel het? Miskien 'n klein familieplasie wat nog vir 'n verlangse kleindogter beskikbaar is?