Vreemde geluide in jou huis: selfbeveiliging in ’n getraumatiseerde samelewing

  • 0

Die tragiese skietdood van Reeva Steenkamp, na bewering deur die Olimpiese atleet Oscar Pistorius, het in die afgelope paar dae vir groot oproer gesorg. Dit is natuurlik geweldig sensasioneel, vernaam oor die persone wat daarby betrokke is. Anders as met die grusame moord op Anene Booysen in Bredasdorp het die kollig egter nie geval op die tipe samelewing waarin ons leef nie.

As mens egter mooi kyk, sê die skietdood, en die byna onmiddellike bespiegeling dat Oscar Reeva dalk vir ’n inbreker aangesien het, nogal heelwat oor ons samelewing. Die moontlikheid dat die beskuldigde sy slagoffer kon aangesien het vir ’n inbreker of aanvaller, is egter intussen deur die polisie in twyfel getrek. Nietemin is die feit dat dit so vinnig aangebied is as konteks vir die noodlottige gebeurtenis, tekenend van ’n samelewing waar selfbeveiliging ’n buitengewoon belangrike rol speel. 

Selfbeveiliging word gedryf deur vrees en angs. Ons almal stel daagliks ’n mate hiervan ten toon. Ons sluit byvoorbeeld ons huise en karre omdat ons ’n moontlike diefstal antisipeer. In Suid-Afrika het ons self-beveiligingsgedrag die afgelope paar dekades drasties geëskaleer. In die Suid-Afrikaanse platteland van die 1980’s was dit byvoorbeeld glad nie ’n universele gewoonte om jou kar wat op straat geparkeer is, te sluit nie. Trouens, sommiges was heel verbaas as iets van waarde uit hul ongesluite motor geneem is. Daar was nog nie eers nut vir ratslotte en immobiliseerders nie. Vandag is die gedagte om jou kar ongesluit te laat in ’n parkeerarea, agter ’n parkeerhefboom (dikwels nog met ’n sekuriteitsbeampte daaragter), bloot ondenkbaar. 

Hoe verstaan ons dan hierdie opswaai in selfbeveiliging?

Een moontlike verklaring lê in die wydverspreide effek van trauma. Getraumatiseerde persone word dikwels uitgebeeld deur te verwys na die nagmerries en terugflitse waaronder hierdie mense ly. Dit is natuurlik ’n klassieke uitdrukking van posttraumatiese stresversteuring of akute stresversteuring, afhangende van die duur van die simptome. Hierdie prominente simptome vervaag egter dikwels, terwyl ander simptome oorbly. Die een wat hier vir ons van belang is, is ’n hardnekkige oorwaaksaamheid. Ons sien dit byvoorbeeld in die vinnige kyk oor die skouer van iemand wat al aangeval is, of in die senuweeagtige om die blok ry om te kyk of ’n kaper jou nie agtervolg het nie, voor jy by jou hek inry.

Trauma het die effek om ’n mens se wêreldbeeld te verander van een waar dinge min of meer voorspelbaar is, en waar mens dus min of meer in beheer van jou lot is, na een waar dinge onvoorspelbaar is en daar teëspoed en gevaar om elke hoek en draai wag. Oorwaaksaamheid is ’n manier om aan te pas in hierdie nuwe, gevaarlike wêreld, en ’n drang na selfbeveiliging is die suiwerste uitdrukking daarvan.

Nou is dit ook so dat mens nie self getraumatiseer hoef te wees om hierdie oorwaaksaamheid ten toon te stel nie. Bloot deur daarvan te hore te kom, kan ook ’n mens se wêreldbeeld (en dienooreenkomstige gedrag) verander. Ons sien dan ook dikwels dat polisiemanne, joernaliste en selfs sielkundiges dikwels ly aan ’n vorm van traumatisering. Die lys kan ook veel langer wees: traumaverpleegsters, sjirurge, paramedici, korrektiewe beamptes, verkeersbeamptes, ens. So het ons elkeen ook al gehoor van tragiese en traumatiese dinge in hierdie land. Geen samelewing het seker ’n monopolie op hartseer en negatiewe gebeure nie. Mense sterf daagliks in elke land in die wêreld.

Dit sê egter iets van ons samelewing dat so ’n groot presentasie van die hartseer dinge wat gebeur, traumaties is. Dit sê iets dat so ’n groot presentasie van ons misdaad gewelddadig is. Ons, ons vriende, en vriende van vriende het al daaronder gely. As ons dit nie te siene kry in die sosiale media nie, hoor ons dit, lees ons dit in die nasionale media. Al is dit dikwels op ’n bemiddelde manier, word ons almal,  in ’n sekere sin, getraumatiseer. So kry die oorwaaksaamheid ’n lêplek in ons elkeen se gemoed.

– Hanru Niemand is ’n kliniese sielkundige in Durbanville.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Keer terug na die indeksblad van die webseminaar om nog bydraes te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top