In geen ander wese, slegs in die mens
wapper wit vlaggies in die hoeke van oë.
Hoe groter Doelwitte van Leef bereik,
hoe groter dié vlaggies.
Wanneer duiwels van buite die binneste set
boos beset en besmet, wip ’n wit krielsteek-kringetjie
bo om elke kleurskyf met die bede – bring vrede.
Wanneer saakkunde kom oor skade berokken
deur eie toedoen, dop wit sekelmaantjies om
en loop lê onderstebo onder ronde reënboogvliese,
pote na bo.
Wanneer vlagpale voete wydsbeen neerstamp
en op rus die volte van die amandelvorm wit volstaan
dan is die stryd gewonne, dan het Lewe reeds vertrek,
dan het Dood klaar ingetrek en dan is daar geen verdere
rede vir die vlaggies om te wapper vir vrede.
• "Vredesvlaggies in sig" verwys na die Japanese term "Sanpaku gan": http://en.wikipedia.org/wiki/Sanpaku


Kommentaar
Oulik! Dankie