Vorm en beweging in die heelal vir Jan Rap

  • 0

Hallo Jan Rap

Dankie, vir die komplement met jou gewigtige vraag aan my adres oor die ontstaan van die heelal en die daaropvolgende verloop en gepaardgaande verskynsels mbt vorm en beweging. Jou vraag is vêr bo my vuurmaakplek ou maat! Ek het al baie nagelees oor die oerknal maar verstaan daar steeds net so min van as van die skeppingsverhaal in die Bybel. Laat my ook weet as jy antwoorde gekry het wat ’n gewone mens kan verstaan.

Maar dit is interessante vrae en ek bespiegel graag ’n bietjie daaroor.

Met jou eerste vraag wil jy weet hoekom die stelsels tweedimensioneel ipv driedimensioneel voorkom. As jy die skets hierby ontleed sal jy sien dat sterrestelsels oor miljoene der miljoene jare van SBc – regs onder – vervorm tot die natuurlike bol vorm E0 links bo.

Van die jonger sterrestelsels soos die Baar Spirale kom darem waarskynlik ook meer tweedimensioneel voor as wat werklik die geval is want ons sien hulle maar van baie vêr af.

Nou nader tuis by ons sonnestelsel: Die planete, dwergplanete en asteroïdes roteer wel min of meer in ’n plat vlak (skyf) om die son maar nie die komete nie. Dié storm uit alle rigtings uit die Oortwolk op die son af wat daarop dui dat hulle in ’n sfeer (bol) soos ’n swerm bye, om die son wentel. Hulle sny gedurig vanuit alle hoeke deur die bane van die planete en veroorsaak selfs botsings. Elke keer as die aarde deur een van hulle bane reis veroorsaak die partikels en afval wat deur hulle agtergelaat is, ’n sg sterrereën wanneer dit in die aarde se atmosfeer uitbrand.

Weens hulle “chaotiese bane” bots komete dus van tyd tot tyd met planete soos die geval van die Komeet Shoemaker-Levy wat te na aan Jupiter gewaag het en deur Jupiter se swaartekrag in stukke opgebreek is wat in Julie 1994 skouspelagtig op Jupiter neergestort het. Ek was bevoorreg om die skouspel destyds deur my teleskoop dop te hou maar ongelukkig was die botsings almal aan die agterkant van Jupiter. Jupiter roteer egter maar in 10 uur om sy as en die groot swart kolle (groter as die planeet aarde) wat kort na elke botsing te voorskyn gekom het, was genoeg beloning.

Dat dit ook nie ’n seldsame gebeurtenis is nie, word bevestig deur die tweede foto van die maan Ganymede. Mens kan maar net raai wat daar gebeur het. Waarskynlik die graf van ’n komeet wat in stukke opgebreek het voor dit neergestort het.

Die tweede vraag oor hoekom die spul roteer – dus beweeg: Die appel wat sy greep in die boom verloor, word deur die aarde se swaartekrag in beweging gebring en daarom val dit. Soos ’n ontploffing veroorsaak gravitasie dus ook beweging. Wetenskaplikes gebruik die son en planete se swaartekrag om ekstra spoed vir hulle ruimtetuie te gee. Die tuig Galileo wat in Oktober 1989 na Jupiter gelanseer is waar dit 6 jaar later in Desember 1995 gearriveer het, het eers twee keer om die son gewentel en die son, Venus en die aarde se swaartekrag het bygedra om dit ekstra spoed vir die lang tog te gee.

Al wat ek vir seker weet is dat as die spul nie beweeg nie gaan gravitasie die oorhand kry en veroorsaak dat die ganse heelal op een groot ruimte-rommelhoop beland.

Ek besef dat my gegorrel nie jou twee vrae beantwoord het nie. My formele fisika-kennis is ook maar op matriekstandaard.

Groete

Panda

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top