Voorste skrywers betrokke by Breytenbach Sentrum-skryfskool

  • 0

Verskeie voorste Afrikaanse skrywers, waaronder Wilna Adriaanse, Francois Bloemhof, Karin Brynard, Eben Venter en Ingrid Winterbach, is vanjaar betrokke by die skryfskool van die Breytenbach Sentrum op Wellington. Dié kursus, wat onder die leiding staan van Rachelle Greeff, is gemik op opkomende skrywers wat in Afrikaans wil publiseer,  en skop af op Saterdag, 12 September 2015. 

Die skryfskool – wat ondersteun word deur die LW Hiemstra Trust en die ATKV - was verlede jaar só suksesvol dat voornemende studente vanjaar vir nege maande (pleks van laasjaar se ses) lank aan die skool verbonde kan wees. Dit gee tyd vir meer volledige mentorskap en ontwikkelingsgeleenthede vir opkomende skrywers wat publikasie in die vooruitsig stel.

Die leerplan dek algemene skryfvaardighede en leiding wat betref die skryf van rubrieke, tydskrif­arti­kels, kortverhale en romans. Besoeke van uitgewers en ander rolspelers in die uitgewersbedryf vul die lesings en praktiese werksessies aan.  Studente word aan die werk van wêreldskrywers bekend gestel, sowel as Afrikaans in die genre van hul spesifieke belangstelling.

Buiten die eerste sessie word klasse die eerste Vrydagmiddag en Saterdag van elke maand by die Breytenbach Sentrum aangebied.  Internetbegeleiding vind plaas in die periodes tussen die kontaksessies.  Dit beteken ook voornemende studente wat te ver buite die Wes-Kaap vir gereelde kontaksessies woon, kan die volledige kursus doen.

Voornemende kursusgangers moet ’n bondige voorbeeld van hul kreatiewe skryfwerk sowel as kort motivering saam met die inskrywing indien.  Die getal kursusgangers word tot vyftien beperk, om deurlopende individuele aandag moontlik te maak.  Die kursusfooie beloop R1 000 per maand, en die Breytenbach Sentrum bied beperkte beurse aan vir skrywers wat nie hierdie kostes kan dek nie. Navrae moet gerig word aan Theo Kemp by theo@breytenbachsentrum.co.za of 021-8732786.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag, 4 September 2015.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top